|
Die tyd het weer aangebreek vir Skrywers 2002,
die opwindende skryfwedstryd wat aangebied word deur die Bloemfonteinse
Skrywersvereniging. Die wedstryd word geborg deur Volksblad
en met die steun van die Nasionale Letterkundige Museum (Naln) geadministreer.
Dit is nou die tyd vir ongepubliseerde skrywers om
te gryp na die lei en griffel (of verkieslik die tikmasjien of rekenaar)
en te begin skryf!
John Steinbeck het gesê: "I have written
a great many stories and I still don't know how to go about it except
to write it and take my chances." Gaan jy die kans vat?
Jou skryftalent kan jou 'n hele paar Rand in die sak bring. Die
totale prysgeld vir hierdie jaar is R5 000. Dit sal verdeel word
tussen die wenners van die onderskeie afdelings. Buiten die geldpryse
is daar ook vier wisseltrofeë vir skole was op die spel.
Skrywers 2002 is 'n kompetisie wat poog om sluimerende
skryftalent te ontwikkel en Afrikaans te bevorder. Die wenverhale,
opstelle en sketse sal gebundel word in die publikasie Inkvars 2002.
Wie mag deelneem?
Enige persoon wat nog nie teen vergoeding skeppende kortprosa gepubliseer
het nie - in die sin dat dit in boekvorm of in tydskrifte verskyn
het of deur radio of televisie gebruik is en die outeur daarvoor
betaal is - mag in die toepaslike afdeling(s) deelneem.
Afdelings
Daar is drie afdelings:
· Die Junior Afdeling vir leerders in grade 8 en 9;
· Die Senior Afdeling vir leerders in grade 10 - 12; en
· Die Ope Afdeling vir volwassenes (of leerders)
Slypskool
Pryswenners woon ook die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse
Slypskool vir Ontluikende Skrywers in Bloemfontein gratis by. Hierdie
slypskool sal op Saterdag 17 Augustus gehou word.
Sluitingsdatum
Die sluitingsdatum is Vrydag 10 Mei 2002.
Navrae
Telefoniese navrae kan gerig word aan die volgende bestuurslede
van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging:
- Mev. Cecilia van der Linde (051) 444 0155 a.u.
- Mnr. Stoffel Cilliers (051) 436 8089 n.u.
Inkvars 2001
Die publikasie Inkvars 2001, wat verlede jaar se wenverhale bevat
kan ook by Cecilia of Stoffel bestel word. Inkvars 2001 is 'n onontbeerlike
publikasie vir elke onderwyser en kan gebruik word as maatstaf om
leerders se skryfvermoëns te beoordeel. Die beoordeelaarsverslag
wat in die bundel vervat is, gee 'n aanduiding van die standaard
van die inskrywings.
Inkvars 2001 is ook gemik op diegene wat bloot belangstel in lees
en veral die lees van opkomende skrywers se werk. Dit maak verder
'n ideale geskenk.

|