|
|
| Anzil
Kulsen |
| Die
debuutroman van Anzil Kulsen, vertel die storie van Zita. Anneretha
Combrink het saam met Anzil gekuier en gesels oor die uithou en aanhou
van skryf.
|
Hoekom
skryf jy?
Ek
dink ek sal mal raak as ek nie skryf nie. Ek druk myself beter
uit op skrif, raak te emosioneel oor goed . . . Ek skryf oor dit
my 'n mate van skeppingskrag gee. Skryf oor dit die enigste plek
is waar mens kan lieg en skinder sonder dat dit sonde is.
Wanneer
het jy begin skryf?
Vandat
ek kan onthou. In die laerskool het ek goed gelieg en goed opstelle
geskryf. Op hoërskool het ek baie gedroom . . . Ek het my
eerste briewe vir uitgewers in my matriekjaar gestuur. Ek verstaan
nou eers watse ding genres is. Het altyd alles probeer meng.
Wanneer
en hoe skryf jy? Vertel van jou skryfproses.
Op
hierdie stadium het ek nie 'n vaste patroon nie; ek skryf as ek
die gier kry, maar ek dink voortdurend oor my verhaal en leef
feitlik soos my karakter. My man vat gewoonlik die kinders na
'n parkie om my tyd te gee om te skryf, of hulle ky vir Mama Jack
- eers was dit Mr. Bean ...
As
ek 'n idee kry, tik ek eers die eerste raamwerk basies. En dan,
soos hy vorder . . . ek het nie regtig 'n lêer waarin ek
alles hou nie. Okei, ek het 'n kabinet waarin ek alles sommer
net los ingooi, dan werk ek weer daardeur, dan kry ek weer idees
waaraan ek kan verder werk. Maar ek dwing my nooit fisies om te
skryf nie. As ek besig is met 'n stuk verhaal, en ek kry 'n idee
vir iets nuuts, dan gaan tik ek dit, ek save dit op my rekenaar.
En as ek weer 'n nuwe idee kry, al maak dit nie sin nie, al is
dit onsamehangend, dan tik ek dit. Ek sal byvoorbeeld 'n hoofstuk
wat eerder die laaste hoofstuk moet wees, gaan klaar skryf, al
het ek nog net met hoofstuk 1 begin. So dan is die hele inhoud
van die boek is nog nie gedoen nie. Maar net om daai idee vas
te vang, en om dit nie verlore te laat gaan nie.
Wat
skryf jy?
Ek
het in 2001 besluit ek kan my skryfdroom laat waar word. Ek het
'n kursus gedoen en die opdrag was om tydskrifte te nader vir
vryskut joernalistieke werk. Ek het toe die storie van Magda Mans
vir De Kat geskryf. En sedertdien het ek enigiets probeer - briewe
vir tydskrifte, dagstukke, gedigte. Kortverhale, enigiets. Ek
het altyd gesê dat ek na so vyf afsêbriefies sal ophou
skryf. Ek is nie 'n mens wat hou van sukkel nie, maar ek het al
ophou tel - maar ek is seker ek trek al knap naby twintig van
hulle. Soms het ek gedink ek gaan moed opgee. Maar as die mense
om my my nie wil verstaan nie, dan skep ek eenvoudig mense om
my te verstaan.
Oor
uitgewers en afsêbriefies:
Vir
my is skryf soos vitamines, dit gee my daai hup in my stap. En
as ek nie voor 'n kar inloop nie, gaan dit my bietjie langer laat
leef ook. En die skryf van iets, veral as jy in iemand anders
se lyf inklim, is maklik . . . Ek het 'n verhouding met elke hoofkarakter
in die stukke wat ek aanpak. En elkeen van die manuskripte wat
in my kas lê en stof vergaar, verteenwoordig 'n sekere fase
in my lewe. Zita is uitgegee, omdat ek vir die eerste keer kon
uitfigure hoe en hoekom 'n mens moet oorskryf. Ek stem nie uit
die staanspoor saam met wat 'n uitgewer of keurder vir my sê
nie, en dis hoekom ek nooit oorgeskryf het nie. Maar nou, ná
die hele proses met my eerste boek klaar is en ek weer deur alles
gegaan het, verstaan ek beter. Ek sukkel om 'n keurverslag te
lees. Dis nie soos 'n kettingbrief of 'n mooiweers-email wat jy
net so liggies scan nie, dit . . . ek lees gewoonlik die uitgewers
se kommentaar so ses, sewe keer voor ek verstaan wat hulle wil
hê. Dan laat lê ek die manuskrip. End an tob ek, weke
lank, oor die voortbestaan van die storie.
Ek
het so vier manuskripte, en ek hoop om eendag weer die moed te
hê om aan hulle te werk. As ek nog eerliker wil wees, moet
ek sê dit tap mens emosioneel om weer al daai wonde, wat
jy probeer gesond dokter met die skryf van 'n verhaal, te gaan
oopkrap, oorlees en oorskryf.
Vertel
van jou bestaande werk, en die groeiproses waardeur jy die afgelope
10 jaar gegaan het. Wat het jou laat aanhou probeer?
Okey,
die aanhou probeer is bloot die feit dat die meeste uitgewers
vir my gesê het dit wat ek skryf werk nie, maar hulle het
altyd gesê daar is talent. Ek het daai "iets"
wat nodig is, daai verbeelding, daai skeppingsvermoe met woorde.
So dit was altyd vir my daai vonkie hoop. Dis al wat ek nodig
gehad het om aan te gaan.
As
ek nou van my werk oorlees wat reeds gepubliseer is, dan dink
ek ek was in 'n ander dimensie toe ek dit geskryf het. Rêrige
goed, mense se issues, maak my kriewelrig. Ek wil probleme oplos
wat nie myne is nie. En in my privaatlewe kom ek gewoonlik in
die moeilikheid oor ek my inmeng waar ek nie hoort nie. Dis hoekom
ek eerder moet skryf oor 'n man met diabetes, of oor heldinne
met groot ore. Die goed word natuurlik nooit aanvaar nie. En ek
dink dis so onregverdig dat daar nie 'n plekkie in die son is
vir sulke goed nie, maar intussen kry ek oefening.
Ek
wil graag nog my eie geestelike dagstukkieboek uitgee, en ek wil
nog 'n spaceship-storie skryf. En alle halwe goed of afsêgoed
wat ek het wil ek nog laat uitgee. Miskien, eendag.
As
mens en as skrywer, wat het jy geleer in hierdie hele proses?
Aanhou.
En as dit wat jy doen nie werk nie, moet jy dalk 'n ander aanslag
probeer vind wat miskien kan werk. Want ek het verskillende tipe
goed gedoen, en my liefdesverhale het byvoorbeeld nie gewerk nie.
So ek moes bereid wees om anders te dink, om bietjie uit die boks
te dink.
Oor
Zita: Geniet bruin kinders die boek meer as wit kinders?
Nee,
weet jy, almal wat hom gelees het, het vir my gesê hulle
het hom geniet - bruin en wit, grootmense, kinders. Nog niemand
het nog regtig vir my gesê dit het nie gewerk nie. Ek dink
elkeen leer iets daaruit. Die bruin kind leer dalk om te sê,
hy het dalk gedink die wit kind het alles met die lepeltjie gekry,
alles op die skinkbord gekry - en nou besef hy hy moet ook werk
daarvoor. Elke kind moet werk vir wat hy wil hê. So, ek
dink elke ou kan iets daaruit leer.
Waar
het jy grootgeword? In 'n soortgelyke gemeenskap, of het jou agtergrond
heeltemal verskil van Zita s'n?
Nee,
heeltemal normaal. Ek het in 'n huis grootgeword, in 'n Kleurlingwoonbuurt.
Ek het in 'n Kleurlingskool skoolgegaan, ek was nooit by 'n blanke
skool gewees nie. So, heel doodnormaal. Ek het nie die probleme
gehad wat sy gehad het nie. Ja, ek moes fisies gaan navorsing
doen oor die gebied. Maar dit was vir my maklik, omdat ek in 'n
Kleurlingwoonbuurt grootgeword het. Ek was gedurig tussen Kleurlinge
van alle kleure en geure. Dit het dit maklik gemaak.
Het
jy 'n teikenleser in gedagte gehad?
Nee,
glad nie. Ek wou altyd maar vir grootmense skryf, en ek dink Zita
is nie noodwendig vir jongmense nie. Ek dink ma's, enkelouers,
getroude ouers, mans wat nie hulle kinders die nodige aandag gee
nie - ek dink elke ou kan iets daaruit leer. So . . . ek het sommer
vir almal geskryf.
Waaroor
gaan jou nuwe storie?
Dit
gaan oor 'n matriekmeisie wat ge-date rape is. En of hy gaan verskyn,
weet ek nie - want dis op hierdie stadium vir my baie diep, baie
moeilik. Ek het baie navorsing gedoen, baie feite ingewerk, en
nou moet ek weer begin werk aan die emosie. Jy weet, om die menslikheid
in die verhaal terug te sit.
Dink
jy daar behoort nog soortgelyke verhale te verskyn, verhale wat
'n spesifieke gemeenskap uitbeeld, wat baie eie is aan 'n gemeenskap?
Ja,
want soos ek gesê het, ons besef nie dat in 'n hool, of
in 'n plakkerskamp, of in 'n Hillbrow, sit iemand met soveel potensiaal
- en as iemand dit nie gaan uitlig nie, as iemand wat in Hillbrow
byvoorbeeld bly nie 'n storie skryf oor daai gemeenskap nie, of
iemand wat in die Namakwaland bly, dan gaan jy nie besef daar's
ook kinders met potensiaal, kinders wat kan groei nie. Ons maak
baie keer gemeenskappe af as "daar's nie hoop nie".
En dis my bewusmakingsproses hierdie. Ek gaan nog baie sulke boeke
skryf, al moet ek gaan navorsing doen, of 'n tyd op 'n plek gaan
bly om die gemeenskap te leer ken. Maar ek hoop om dit reg te
kry.
Dink
jy dis belangrik vir lesers, vir jonger lesers veral, om met karakters
te kan identifiseer?
Weet
jy, die karakter in die boek gaan miskien nou nie dieselfde omstandighede
as die leser hê nie. Ek meen, hoeveel Kleurlingkinders lees
boeke oor wit dogtertjies - en tog lees hulle dit, en hulle vind
dit amusant en hulle leer iets daaruit. So die omstandighede en
die herkoms en so hoef dalk nie dieselfde te wees nie. Maar daar's
'n "iets", 'n menslike faktor in elkeen van ons waarmee
jy kan identifiseer. Ek dink as die boek goed lees gaan jy nie
regtig iets van jouself in hom soek nie. Jy gaan 'n boek lees
omdat hy lekker lees.
Wat
dink jy kan gedoen word om kinders en jongmense meer te laat lees?
Om
hulle meer te laat lees, moet 'n ou in die taal skryf wat hulle
praat. Die hoogdrawendheid - dit stimuleer tog iets in hulle brein,
dis tog goed vir hulle, maar ek dink as mens in hulle eie taal
skryf, gaan hulle meer lees.
Watse
raad het jy vir jong skrywers / mense wat nog nie gepubliseer
het nie?
Skryf,
skryf, skryf! Ja, deursettingsvermoë en die vermoë om
iets anders te probeer as dit wat jy probeer het nie werk nie.
Maar om nie op te gee nie, want ek glo ons het 'n behoefte aan
goeie jeugverhale en kinderverhale, veral in Afrikaans. En ja,
ek dink the sky is the limit . . .
|  |
|
Onderhoud
met Anneretha Combrink. Anneretha is besig met haar PhD in Skryfkuns
aan die Noordwes-Universiteit. Maart 2007.
Meer
oor Anzil Kulsen.
|
|