Jy
is veral bekend as jeugboekskrywer. Hoekom skryf jy spesifiek vir jongmense?
Ek het skool gehou tussen 1975 en 1979 en 'n behoefte gevind onder die leerlinge
aan Afrikaans wat hulle eie issues aanspreek. Toe het ek en die kinders begin
skryf in nuwe Afrikaans, die Afrikaans wat hulle praat. "Sy's 'n nja ousie"
beteken byvoorbeeld "Sy's 'n mooi girl". Ons het die ou-ou handboeke
met die ou reëls uitgegooi en spesifiek die wêreld van die leerlinge
van die Western township begin verken.
Wat maak skryf vir jongmense anders as skryf vir volwassenes?
Jong lesers is baie meer krities as volwasse lesers. Hulle wil 'n ervaring in
'n boek aan hul eie bas kan meet, dan lees hulle graag, stel hulle belang. Hoe
meer hulle regstreeks kan identifiseer, des te makliker lees die tiener of skolier.
Wat is jou gevoelens oor vandag se jong Afrikaanssprekendes? Wat is hulle sterk
punte en swak punte?
Vandag se jong Afrikaanssprekendes het nie juis meer of minder swakkere of meer
goeie punte as enige vorige generasie nie. Hulle is dieselfde. Hulle verwag om
uitgedaag te word deur leervorste en boeke en skole.
Wat dink jy van die hedendaagse Afrikaanse jeugboek/tienerboek?
Die hededaagse jeugboek spreek issues soms te versigtig aan. Miss Nagtegaal se
boek (Daar's vis in die punch) was 'n atoombom wat 'n helse verskil gemaak
het. Eerlik. Hier is geen issues vermy nie. Afrikaanse jeugromans is miskien deesdae
minder issue-gedrewe as vroeër.
Dink
jy dis 'n goeie ding, of is dit dalk ook 'n manier om sekere issues te vermy?
Ek het nog altyd gedink dis nonsens om 'n boek te skryf met 'n sekere issue in
gedagte. Die dryfkrag kom van die karakters af. Jy gooi hulle saam. Daar is konflik,
sinergie, oplossing, onoplosbare skeuring, groot drama en dan te slotte 'n afloop.
Die issues is deesdae meer omdat die lewe meer uitdagend is. Kyk na die nuus.
Mense word seksueel en akademies en emosioneel baie vroeër ryp. Die beste
maatstaf is of die kinders lees. En hulle lees.
Jy het Breek saam met Lizz Meiring geskryf. Is dit makliker of moeiliker
om saam met iemand aan 'n boek te werk?
Dis moeilik om 'n boek saam met iemand anders te skryf, want daar is twee uiteindelike
fokuspunte wat een moet word. Dit is 'n kwessie van gee en neem en bekhou en iets
inslip as iemand anders nie kyk nie en hoop dit word aanvaar. Dis 'n interessante
en 'n leersame proses wat jou taaier maak as wat jy voorheen was.
Meiring het vroeër vanjaar een van jou vorige tienerromans, Skilpoppe,
tot filmdraaiboek verwerk. Wat is die planne daarmee?
Boeke-in-movies in is 'n speletjie wat filmmakers al lank met Suid-Afrikaanse
skrywers speel. As jy baie gelukkig is, kom daar iets daarvan soos met Karel Schoeman
se Promised Land. Anders is dit maar net rearranging the deckchairs on
the Titanic.
Jy is ook bekend as joernalis en filmresensent. As jy Breek met enige film/films
kan vergelyk, watter sal dit wees?
Breek handel oor die broosheid van die mens, iets wat byvoorbeeld vooropgestel
is in Tennessee Williams se The Glass Menagerie. Breek as movie sou miskien
iets van die vrees en wankommunikasie in gesinne beklemtoon soos wat Glass Menagerie
gedoen het. Breek het egter ook politieke issues wat so tussen die glasbreek
deurkom en die broosheid van die politieke proses ook belig.