Waar woon jy?
Ek bly in Bryanston, Sandton.
Wat doen jy behalwe skryf?
Ek is 'n spraakterapeut wat twee dae van die week 'n
pro bono praktyk by 'n laerskool bedryf. Ek werk met baie interessante
kinders en sien alles van outisme tot gesplete verhemelte tot
doodgewone artikulasieprobleme, soos lispel.
Wat is jou top drie gunsteling boeke?
Sjoe, dis moeilik! Ek het pas die drie boeke van Stieg
Larsson gelees (The girl with the dragon tattoo, the girl who
played with fire & the girl who kicked the hornet's nest)
Ek kon hulle nie neersit nie! Maar ek hou ook van Marian Keyes
se chick-lit boeke. Agaat van Marlene van Niekerk was onvergeetlik,
30 dae in Amsterdam van Ettienne van Heerden ook. Gewoonlik is
die mees onlangse boek wat ek gelees het my beste boek!
Wou jy nog altyd 'n skrywer word of
het dit maar net gebeur?
Dit het maar net gebeur! Ek hou nog altyd van stories
vertel en selfs skryf, maar het nog nooit geaspireer om 'n skrywer
te word nie. (I still can't quit my day job!) As kind was ek baie
bang, en wou elke aand by my jonger sussie in die bed klim. Maar
haar voorwaarde was dat ek vir haar 'n storie vertel. Ek het sulke
vervolgverhale vertel wat oor maande geloop het! Toe ons ouer
word, moes ek gereeld spookstories vertel as ons Donkerkamertjie
gespeel het - gruwelike stories! Dit was altyd vir my maklik om
opstelle te skryf, sodat ek baie keer vir maats ook geskryf het.
As spraakterapeut skryf mens elke dag verslae en by die skole
waar ek gewerk het, het ek maar altyd die skoolkonserte geskryf.
Kan nie onthou hoe dit begin het nie! So het ek by 'n skryfkursus
van die ATKV uitgekom en die eerste hoofstuk van 'n liefdesverhaal
geskryf as huiswerkopdrag. Franci Greyling het gedink dit het
moontlikhede en my aangemoedig om die storie klaar te skryf. Toe
doen ek dit maar! En dit was Kondensmelk.
Hoe het jy op die idee van Kondensmelk
gekom?
Ek het 'n kugel van 'n dogter, lekker bederf en vol
nonsens. Sy wou nog nooit gaan kampeer nie en dis maar waar ek
aan Elle gekom het. Die baie bosvakansies saam met ons eie kinders
en ons vriende s'n, het maar die agtergrond geraak vir hierdie
kampeerromanse.
Wat is jou passie in die lewe? Behalwe
skryf nou natuurlik.
Dis maar my gesin: man, drie kinders, honde en huis.
Ook al die jongmense en kinders in my lewe: die terapiekinders,
sondagskoolkinders (wat party al klaar studeer het!) en die kinders
van ons vriende. En dan is daar Afrikaans as taal, waaroor ek
baie rooi in die gesig kan raak. Ek baklei vurig vir moedertaalonderrig
en praat gedurig met jong ouers om hul kinders in Afrikaanse onderrig
te hou. Laastens is daar Frans: ek leer al Frans van ek 13 is!
En steeds gaan ek elke week vir 'n les! Lees dit, kyk dit, praat
dit.
Wat is vir jou die lekkerste ding van
skryf?
Iets grappig en waar, soos 'n skets. Ek hou ook van
toesprake skryf: dis vir my lekker om 'n onderwerp te kry en dan
kreatief daaroor te dink.
Toets jy enige van jou stories op iemand,
soos jou kinders of iemand?
Ja, ek vra graag my oudste seun se opinie. Hy skryf ook (hy
het pas as kopieskrywer by 'n advertensiemaatskappy begin werk).
Het jy enige (vreemde) gewoontes of
bygelowe as jy skryf?
Glad nie. Dis boude op die stoel
en skryf! 'n Groot pot tee help.
In Kondensmelk gebruik jy baie woord
samestellings soos "supermegahiper" ens. Waar het jy
aan die woorde gekom?
Die Franse kinders praat so. As iets cool is, is dit
supermega! Hulle hou daarvan om die byvoeglike naamwoorde so aanmekaar
te plak. Toe steel ek maar hulle manier van praat.
Het jy enige 'tips' vir jong, opkomende
skrywers?
Ja. Gaan woon skryfkursusse by. En skryf! Mens word
natuurlik baie kere teleurgestel, maar hou net aan. As jy nie
dadelik jou meesterlike roman gaan skryf nie, skryf artikels vir
jou jaarblad of koerant ;of selfs net briewe aan die koerant.
Dit is alles kreatiewe skryf!
Wat is jou gunsteling skryf- of leesteken?
Ek dink dis die : want dit beteken
hier kom nou 'n ding!
Ek het al baie gehoor van skrywers wat
wakker word met 'n storie in hulle koppe en dan begin hulle net
daar aan te skryf, is dit met jou ook so, of werk jy meer sistematies?
Ek is baie onsistematies. Dis met my so: ek kry van
iewers 'n idée en dan is dit maar net dit!
Baie dankie dat jy die tyd in beslag
neem om die vrae te beantwoord! Dit beteken vir my baie dat ek
as 18-jarige "skrywer" met so amazing skrywer soos jy
kan korrespondeer...
Sjoe! Baie dankie! Ek voel ongelooflik gevlei! Jy gaan nog
jou eie naam op 'n boek se rugkant lees!
