Chris Venter (24) is 'n Kapenaar in murg en been. Hy sy graad
in grafiese ontwerp aan die CPUT (Cape Peninsula University of
Technology) verwerf. Chris sê hy werk meestal digitaal in
PhotoShop, want dis vinniger. Maar sy gunstelingmedium is definitief
enigiets tradisioneel. "Ek is veral lief vir 'n kombinasie
van potlode, fineliner, pastel en/of olieverf. En ek hou daarvan
om te eksperimenteer met nuwe mediatipes." Dié bloedjong
illustreerder het reeds 'n hele paar boeke laat lewe kry met sy
illustrasies, waaronder Speurhond Willem op reis (Elizabeth
Wasserman, Tafelberg Uitgewers), Karla Krullebol (Theresa
van Baalen, LAPA Uitgewers) en My boetie dink hy's Batman
(Jaco Jacobs, LAPA Uitgewers).



Waar het jou belangstelling in kinderboekillustrasies
begin?
Wel, ek het nog altyd belang gestel in kinderboeke.
Dis danksy kinderboeke dat ek beter leer lees en skryf het op
laerskool. Die prentjies het my nog altyd ingelok en as kind
wou ek altyd my eie cool karakters ontwerp soos dié in
my kinderboeke. Dit was eers in my tweede jaar van my studies
dat ek begin dink het daaraan as 'n moontlike beroep. Die bekroonde
illustreerder Piet Grobler is destyds aangestel as ons nuwe
illustrasielektor. Deur sy invloed is ek blootgestel aan die
kinderboekbedryf. Hy het my 'n bietjie onder sy vlerk geneem
en so het ek by hom als geleer wat ek kon. Dit was eers toe
ek vir 'n kort tydjie in sy galerytjie op Stellenbosch ge-job-shadow
het dat ek besef het dis wat ek vir 'n lewe wil doen. Ek het
totaal en al verlief geraak op die bedryf.
Is daar sekere boeke/illustrasies wat
jy uit jou kindertyd kan onthou of wat 'n groot indruk op jou
gemaak het?
Ag, daar's niks wat regtig uitstaan vir my nie. Ek was verslaaf
aan enige prentjies in boeke, so ek het van enige boek gehou.
Ek onthou toe ek in graad 7 was, het ek nog jong kinderboekies
uitgeneem by die biblioteek net om na die prentjies te kyk.
Ek weet ek was baie lief vir my Kinderbybel en sy kleurvolle
prente. Ek het elke aand voor slapenstyd 'n paar Bybelstories
deurgelees omdat die prente so mooi was. In graad 5 het ek
my eerste leesboeke begin deurlees omdat ek van die omslae
gehou het. Ek was veral mal oor Janie Oosthuysen se Ouma Hester-reeks.
Heel toevallig was dit geïllustreer deur Piet Grobler.
Ek was nog altyd baie lief vir sprokies, soos die Grimm-verhale.
Stories soos Rooikappie, Jan en die boontjierank, Gouelokkies
en Die drie varkies was altyd lekker om te lees en ek het
dikwels gekyk na die verskillende maniere waarop mense dit
geïllustreer het. Een van my gunsteling-kinderboekies
van kleintyd af is Mirabella Muis en die duisend-en-een
huise. Ek wens daar was in my kleintyd so 'n groot verskeidenheid
kinderboekies rondom my soos daar vandag is. En natuurlik
Where the wild things are.
Watter illustreerders se werk bewonder
jy?
Daar's baie. Piet Grobler is natuurlik op my topvyflysie.
Niki Daly, Andy Riley, Katie Cleminson, Deborah Allwright, David
Roberts, Russel Ayto, Oliver Jeffers, Jim Lee, Alex Ross, en
nog vele meer. Ek ken nog nie almal se name nie
Hoe werk die kreatiewe proses vir jou
vandat jy met 'n teks gaan sit totdat die eindproduk klaar is?
Dit hang natuurlik af van die tipe boek, maar dís
min of meer my proses: Eers laat ek die teks 'n bietjie in my
kop rondfladder vir 'n dag of twee (of langer). Ek sal dan beplanning
doen met betrekking tot die hoeveelheid prentjies wat nodig
is en waar als geplaas sal word regdeur die teks. Dan begin
ek teken aan klein, vinnige thumbnail-sketsies en dan sal ek
dit vergroot en kleur gee.
Soms praat sekere tekste meer met my as ander, en ek het al
agtergekom hoe lekkerder ek werk aan 'n boek, hoe meer "kreatiewe
moeite" sal ek insit. Dus sal die styl en media wat ek
gebruik ook heeltemal afhang van die gevoel wat ek kry uit die
teks.
Ek vermoed baie mense meen illustrasies
is net 'n manier om 'n kinderboek "mooi" of "oulik"
te maak. Maar wat dink jy is die funksie van illustrasies in 'n
goeie kinderboek?
Dis definitief 'n manier om die teks te versier, net soos
'n fisiese liggaam daar is om 'n siel te huisves, maar terselfdertyd
is dit soveel meer.
Tydens my B.Tech-studies het ek 'n tesis geskryf oor die
kognitiewe groei van kinders en hoe dit verband kan hou met
kinderboeke. Ek dink die belangrikste ding wat ek uitgevind
het, is dat twee tools nodig is om kinders mee te leer: taal
en fiksie/fantasie. Waar die woorde in 'n kinderboek natuurlik
'n kind se spraak-, lees-, dink- en skryfvermoëns kan
verbeter, kan die illustrasies net so direk verband hou met
kinders se abstrakte gedagtes (verbeelding). Geen kind wil
sommer net 'n klomp woorde op 'n bladsy lees nie. Ek onthou
as kind het my brein heeltemal toegeslaan wanneer ek 'n groot
paragraaf moes lees of leer.
Prentjies is natuurlik daar om kinders in te lok. Piet Grobler
het my altyd geleer dat die prentjie 'n storie van sy eie
moet vertel parallel aan die teks. Wanneer die kind die prentjies
lees (of probeer ontsyfer), sal hy iewers die teks begin raaksien
en self begin lees.
Verder is prentjies daar om die gevoel, ritme, persoonlikheid,
bui, geslag, ens. van die boek vas te vang. Elke liewe kinderboek
het sy eie vingerafdruk danksy die prentjies en ek behandel
elke kinderboek as 'n kunswerk. Daarom versamel ek tans kinderboeke
as 'n stokperdjie. Prente is baie meer as net versiering.
Definitief!
Wat gehalte betref, hoe dink jy vergelyk
ons plaaslike kinderboeke met die oorsese mark?
Ek dink omdat daar 'n groter klem is op die ontwikkeling
van opvoedkundige skoolboeke vir kinders in Suid-Afrika, ly
die ontwikkeling of "evolusie" van die ander Suid-Afrikaanse
kinderboeke daaronder. Daar is soms 'n bietjie minder "durf"
in die plaaslike kinderboekmark. Ek dink Suid-Afrika is nog
baie konserwatief oor wat sy kinders mag en nie mag lees nie.
Dis vir my 'n bietjie hartseer. Ons illustreerders kan hulself
nie altyd ten volle uitleef in styl soos oorsese illustreerders
nie, want ons moet dikwels in gedagte hou waarvoor ons kinder
reg is en waarvoor nie.
Ek dink partymaal dat oorsese kinderboeke beter hier verkoop
as ons eie boeke, maar ek weet nie regtig of dit waar is nie.
Persoonlik dink ek ons is nog 'n klein bietjie agter die klip,
maar ons sal definitief eendag inhaal. Ten spyte van al die
beperkings lewer skrywers en illustreerders in Suid-Afrika
steeds 'n uitstekende diens in terme van gehalte. Ek bedoel
glad nie om negatief te klink oor als nie, maar ek glo daar
is nog baie ruimte om te groei en ek wil graag deel wees daarvan.
Wat is die grootste uitdagings van
die Suid-Afrikaanse kinderboekmark vir 'n illustreerder?
Soos ek gesê het, die beperkings (of reëls)
wat ons het, kan nogal moeilik raak om te volg. Verder het die
staat ook 'n groter klem op opvoedkundige skoolboeke geplaas,
wat beteken daar is minder geld om die "lekker" boeke
mee te maak. Wat beteken die hoeveelheid "lekker"
boeke wat jaarliks gemaak kan word, is baie min (teenoor oorsese
standaarde). Dit beteken ook minder (groot en lekker) projekte
vir illustreerders om aan te werk.
Wat is die beste raad wat jy vir 'n
voornemende illustreerder kan gee wat in ons kinderboekmark wil
werk?
Probeer 'n styl ontwikkel wat vir jou uniek maak en
wat pas by die tekste wat jy illustreer. Wees bedagsaam en volg
jou uitgewer se raad, want hulle weet meer as jy. Versamel jou
gunstelling-kinderboeke en doen konstante navorsing om uit te
vind waarvan kinders hou. Kindersielkunde sal jou definitief
help in jou projekte, so doen 'n bietjie navorsing daaroor.
Ek dink bo als is dit belangrik om jouself aanhoudend te druk
om te weet wat jou vermoëns is en wat jy kan en nie kan
hanteer nie. Bemeester verskillende mediatipes en eksperimenteer
daarmee. Eksperimenteer met ander style soveel as wat jy kan,
sodat jou kreatiewe denke en vermoëns vergroot kan word.
Laastens, leer jouself ken en leer hoe lank jy vat met projekte.
Niks is belangriker as goeie tydsberekening nie. Wanneer jy
spertye mis, gaan dit teen jou tel. Altyd. Moet ook nie te veel
projekte gelyk aanpak nie. Wees realisties. (Dis moeiliker vir
kunstenaars om realisties te wees, maar dis definitief doenbaar!)
Dink jy illustreerders kry genoeg erkenning
vir hul werk?
Eerlikwaar, nie regtig nie. Ek voel dat skrywers en
illustreerders ewe belangrik is. Die oorspronklike gedagte vir
'n storie begin met 'n skrywer, maar dit eindig met die oorspronklike
skeppingsvermoëns van die illustreerder - saam maak hulle
een volledige kinderboek. Die teks maak die boek interessant
en dit vertel 'n storie, maar die prentjies verkoop die boek
meeste van die tyd en dit kan ook 'n storie saam met die teks
vertel. Dis daar om die leemtes in te vul. Maar dit hang natuurlik
af van watter soort projek ons praat. Ek dink eerlikwaar dat
as 'n illustreerder regtig goeie werk gedoen het, hy erkenning
moet kry daarvoor. Maar ek voel dat die skrywer altyd die stem
sal wees van die teks en niemand anders sal daardie plek kan
inneem nie.
As jy die kans kan kry om enige boek
of storie te illustreer, wat sal dit wees?
Weet jy, daar is eintlik 'n paar. Ek wou nog altyd Bybelstories
en bekende sprokies illustreer. Veral Jan en die boontjierank,
Rooikappie of Die drie varkies. Maar ek dink vir enige illustreerder
is Lewis Caroll se Alice in Wonderland die droomverhaal
om te illustreer.