|
|
| Deon
Meyer | Deon
Meyer is veral bekend vir sy spanningsverhale soos Feniks, Orion, Proteus en
Infanta. Sy boeke is al in verskeie tale vertaal en het etlike pryse węreldwyd
ingepalm. Orion is ook as 'n televisiereeks op kykNET en MNET in 2006 uitgesaai.
In September 2007 gaan sy nuutste boek, Die lyfwag, met 'n splinternuwe
hoofkarakter verskyn. Deon is veral ook betrokke by projekte vir ontluikende skrywers
en het met Elzebet Venter gesels tydens die ATKV-Herfskool in Potchefstroom. |
Jy
het begin deur kortverhale te skryf. Was jou kortverhale ook spanningsverhale?Ek
glo baie sterk daaraan dat mens die mark waarin jy skryf, moet ken. Toe ek begin
kortverhale skryf het, was die enigste tydskrifte wat kortverhale gepubliseer
het Huisgenoot, Sarie en Rooi Rose. Ek het eers gaan lees watter
soort verhale hulle publiseer, wat dan ook liefdesverhale was. Dit was nie waarin
my belangstelling of aanleg gelê het nie. Ek het toe probeer om meer ligte,
onernstige, humoristiese liefdesverhale te skryf. Later het ek vreeslik verveeld
geraak en toe het ek misdaadliefdesverhale geskryf. Dit is waar my belangstelling
eintlik gelê het. Ek het al hoe meer misdaad en spanning in my kortverhale
begin insit. Het jy al ooit daaraan
gedink om iets anders te skryf as spanningsverhale? Vandat
ek begin boeke skryf het, het ek nog nooit aan so iets gedink soos 'n genre nie.
Ek het nooit gedink ek wil in hierdie of daardie genre skryf nie. Net Feniks,
van al my boeke, was werklik 'n volbloed misdaadsverhaal, die res was, soos wat
hulle in Engels sê, thrillers of dan spanningsverhale. Ek beperk myself
nie tot 'n spesifieke genre nie, so ek sal dalk eendag, as die storie wat ek het
by 'n ander genre pas, dit skryf. Dit het egter nog altyd gebeur dat my storie
in die spanningsverhaalgenre val. Ek dink ook dit is gevaarlik vir 'n skrywer
om sommer heeltemal iets anders te begin doen, aangesien jou skrywersnaam 'n soort
handelsmerk word. Waar kom jou
idees of jou stories vandaan? Dit begin as 'n baie
doelbewuste proses en na elke boek wat ek klaar het, kom daar die vrees dat dit
die laaste idee is wat ek gaan kry en dat ek nie weer 'n storie sal kan uitdink
nie. As ek met 'n boek besig is, sal ek sommer partykeer aan 'n idee vir 'n volgende
boek begin dink. Ek sal baie keer iets uit 'n koerant uitknip of iets wat my interesseer
in my storieleêr sit, dit is so half my bank van stories. Jy sal eendag
iets hoor, sien of neerskryf en in jou agterkop bêre, en dan oor 'n week
of twee hoor jy nog iets en die twee dinge kom half bymekaar. Ek begin gewoonlik
skryf met 'n idee in my kop, en op aan die einde het ek 'n storie wat heeltemal
van my oorspronklike idee verskil. Hoe
na aan jou eie persoonlikheid is jou hoofkarakters? Is daar 'n bietjie Deon in
een van hulle? Dit is 'n vraag wat mens op verskeie
maniere kan beantwoord. Sommige karakters is nader aan jou as ander. Maar daar
is 'n deeltjie van jou in elke karakter, gelukkig weet net ek watter deeltjie!
Mat Joubert is dalk die naaste aan my eie karakter, hy is nie soos ek nie, maar
ek het die meeste uit myself geput om hom te skep, as met enige karakter. Wat
is vir jou belangrik aan jou karakters? Hoe ontstaan 'n karakter? Ek
lê nie baie klem op die uiterlike van die karakters nie. Ek dink die leser
moet nie te veel gelei word na die uiterlike voorkoms van die karakter nie, dit
is daar waar elke leser se verbeelding moet inspring. As ek iets van die uiterlike
noem, is dit belangrik vir die ontwikkeling van die verhaal. Vir my is die psige
van die karakter baie belangrik. Ek sal baie aandag hieraan gee, en dit is ook
die eerste ding wat ek ontwikkel as ek 'n karakter skep. Ek
het gehoor jy is besig om 'n nuwe boek te skryf. Bennie Griessel kom weer terug
as protagonis. Vertel bietjie meer hiervan. Die nuwe
Bennie-boek se titel is Dertien uur. Die verhaal handel oor dertien uur
in Bennie Griessel se lewe. Sy lewe is soos gewoonlik gekompliseerd, hy het moordsake
om op te los, smokkelaars, die Afrikaanse musiekbedryf en sy moeilike vrou wat
hy moet hanteer. So gepraat van
nuwe boeke, jou nuutste boek, Onsigbaar, verskyn September 2007 op die
rakke. Ons maak kennis met 'n nuwe hoofkarakter, Lemmer. Vertel, vertel. Die
boek het 'n nuwe hoofkarakter, die vryskut-lyfwag Lemmer. Hy moet 'n mooi Kaapse
vrou oppas terwyl sy na haar broer soek wat twee jaar gelede verdwyn het. Die
skryf van die boek was vir my 'n uitdaging gewees, aangesien dit in eerstepersoonverteller
geskryf is. Ek hou van uitdagings, en wou met die skryf van die boek iets nuuts
en anders aanpak. Jou boeke het
baie interessante titels. Waar kom dit vandaan? As
ek begin om 'n boek te skryf, stoor ek die boek op my rekenaar onder 'n werkstitel.
Ek probeer dan aan 'n aanvaarbare titel dink, ek wil dit nie net stoor onder "1"
of so iets nie. Ek kies gewoonlik 'n naam wat darem vir my iets sê van die
boek. Met Infanta het ek aan die naam "Infanta" gedink as 'n plek waar
iets gaan afspeel, toe onthou ek Intanta beteken "kind" in Spaans. Onsigbaar
was eers "Die lyfwag", wat ek dan sou gebruik het as ek geen ander
titel kon kry nie. Ek glo egter nie daaraan om 'n boek te skryf met 'n titel in
gedagte nie, as ek nie aan iets kan dink nie, sal my uitgewer wel kan help. Dit
het nog elke keer gebeur dat ek aan die einde van die boek weet wat die titel
behoort te wees. Met Orion moes ek 'n naam uitdink vir die maatskappy,
maar dit moes ook 'n lekker naam wees. Dit het dan ook die konnotasie met Orion,
die konstellasie van sterre is, wat ook 'n kryger is. Jy
doen baie navorsing vir jou boeke. Hoekom dink jy is dit belangrik? Navorsing
is vir seker 'n belangrike deel van skryf. Met die skryf van my eerste boek, Wie
met vuur speel, het ek die karakters wyn laat drink uit 'n sekere kelder.
Dié kelder het nie eers daardie soort wyn aangehou nie en ek het baie teregwysings
daaroor gekry. Ek het myself belowe dat ek nooit weer so 'n feite-fout sal maak
nie. Het jy enige bygelowe of
gewoontes as jy skryf? Ek het nie eintlik bygelowe
nie, meer gewoontes. Ek skryf gewoonlik vroeg in die oggend, so 'n lekker koppie
swart koffie is 'n noodsaaklikheid. En 'n sigaretjie of twee natuurlik ook! Het
jy enige raad aan jong aspirantskrywers? Skryf
is 'n oefeningsproses. Ek glo dat mens jou vakleerlingskap in skryf moet doen.
Jy moet so veel as moontlik skryf, en om kortverhale te skryf, is 'n baie goeie
manier om te oefen. Hoe meer jy skryf, hoe beter gaan jy raak. En dit is ook belangrik
om te lees. Lees ook in die spesifieke genre waarbinne jy beplan om te skryf.
Kyk wat die groot name in daardie genre doen.
|  |
Onderhoud
met Elzebet Venter. Elzebet is 'n honneursstudent in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit,
Potchefstroom. Maart 2007. Kuier
op Deon se eie webwerf http://www.deonmeyer.com/afrikaans/indeks.html |
|