Wat het gemaak dat jy begin skryf en
boonop kinderfiksie wat bekend is as een van die moeilikste genre's
waarin mens kan skryf'n
Ek is baie lief vir lees en van kleintyd af probeer
ek om ook my eie stories vas te vang. As grootmens dwaal ek
steeds gedurig in die kinderboekafdeling van die biblioteek
en boekwinkels rond. Kinderboeke beskryf die węreld in die oortreffende
trap, en ek moet erken ek hou van die prentjies. Dit is waar
dat dit moeiliker is om vir kinders te skryf, net soos wat dit
moeilik is vir party grootmense om met kinders 'n lang gesprek
te voer. Die węreld van 'n kind is vol verassings: alles kan
gebeur! (Selfs pratende honde wat goed is met karate.) Nogtans
is dit 'n logiese en ordelike węreld, en mens moet dit met verantwoordelikheid
betree as jy daaroor wil skryf.
Die Speurhond Willem-reeks is tot 'n
groot mate gebaseer op die werklikheid. Nie net is die hoofkarakter,
Willem, 'n ware hond nie, maar die stories self is op werklikhede,
soos die renostertroping in Suid-Afrika in die boek Speurhond
Willem en die wilddiewe, gebaseer. Is dit waar jy jou inspirasie
kry vir hierdie boeke, die werklikheid?
Die werklikheid is interessant genoeg. Dit is nodig dat kinders
die wêreld leer ken en verstaan soos dit regtig is,
miskien net met iemand wat hul hand vashou en dinge verduidelik
met 'n grappie en 'n goeie skoot kameraadskap. 'n Storie gegrond
in ware gebeure gee 'n goeie kans om die redes wat lei tot
'n probleem te verduidelik. Mens kan dan 'n oplossing voorstel
deur hoofkarakters 'n lekker aktiewe rol te laat speel om
'n gelukkige einde te bewerkstellig. My stories se gelukkige
eindes bly egter altyd bietjie uitgestel: Swiffervalk, Brummel
en Uranus Draak kom sover keer op keer nog weg en maak weer
hul verskyning in die opvolgboeke van Anna en Willem. Dit
is wat reekse so lekker maak, en dit is ook mos hoe die lewe
regtig werk: daar is altyd 'n volgende episode. Hopelik!




Speurhond Willem en die wilddiewe
gaan oor die onlangse kwessie van renosterstropings in Suid-Afrika
en Anna Atoom en die seerower se dolk gaan spesifiek oor
die bewaring van die planeet. Wat is jou motivering agter die
boeke? Wil jy graag hierdeur kinders aanspoor om meer aktief betrokke
te raak by natuurbewaring?
Die natuur en bewaring lê my na aan die hart.
Die outjies in die ouderdomsgroep waarvoor ek die boeke skryf
(so agt tot tien jaar vir Speurhond Willem, terwyl Anna se drie
boeke mik na tien tot dertienjariges) gaan in hulle toekoms
vele krisisse moet uitsorteer wat ons op die oomblik steeds
besig is om te skep. Oorbevolking, die uitputting van natuurlike
bronne, voedsel en watertekorte
Hoe gouer hulle bewus
word van die oorsprong van hierdie moeilikhede, hoe beter sal
hulle eendag kan help om dit op te klaar. Ons hoop lê
immers altyd by ons jeug: so baie gaan afhang van die bekwaamheid
van die geslag mense wat op die oomblik nog kinders is.
Professor Sabatina Atoom, Anna se ma
in Anna Atoom en die seerower se dolk, is 'n wetenskaplike
wat daarna streef om mense te waarsku teen aankomende natuurrampe
en ook om die ekologiese stelsel teen die mens beskerm. Jy is
die hoof van Geneeskundige Mikrobiologie by die Universiteit van
Stellenbosch en doen dus navorsing wat nie net 'n groot invloed
op ons eie lewenskwaliteit het nie, maar ook op die hele ekologiese
stelsel. Het jou werk as patoloog
oor infektiewe siektes gedien as inspirasie vir hierdie boek?
Hoe het dit jou gehelp om aktuele kwessie in 'n reistog van seerowers,
aktiviste en boewe te omskep?
My werk met infektiewe siektes en die evolusie van patogene
wat steeds groot probleme vir ons samelewing veroorsaak (soos
tuberkulose, byvoorbeeld, en ander organismes wat weerstandig
is teen antimikrobiese behandeling) laat my verseker diep
dink oor ons interaksie met die natuur. Daar is baie te sê
daaroor: in medisyne probeer ons om die gesondheid van gemeenskappe
te bevorder, maar daar moet ook met aandag gekyk word na die
volhoubaarheid van ander belangrike behoeftes soos energie,
kos en water. Elkeen van ons het 'n invloed, en dus 'n verantwoordelikheid,
op die ekosisteem van ons planeet.
My storieskrywery is dalk wel teen hierdie ernstige agtergrond,
maar dit op sigself is loutere pret. Kinders wil immers nie
net die donker kant sien nie!

Baseer jy jou karakters op werklike
mense in jou eie lewe en wat met hulle gebeur op jou eie lewenservaringe?
Ek probeer dit vermy, maar dit is nie so maklik nie.
Verseker word die stories ingekleur met my eie lewensondervinding,
veral my eie reiservarings en hoe ek dinge waarneem. Ek ondervind
die wêreld om my as 'n ongelooflike vermaaklike plek,
en ek hoop dat hierdie opwinding deursypel in my karakters se
avonture. Ek skryf vir my eie kind en die ander kinders wat
ek goed ken, en probeer so die verhale mik vanuit 'n invalshoek
wat hul aandag gevange sal hou.
Wat kan ons verder van Anna Atoom verwag?
Is daar nog avonture van Anna waarna die leser kan uitsien?
Anna se storie is nog ver van klaar. Alhoewel ek haar
gebruik om haar ouderdomsgroep bewus te maak van die wonder
van die wetenskap, en hoe die wêreld daardeur verbeter
kan word, is daar heelwat gesinsdrama in haar lewe waarmee meeste
van ons onsself waarskynlik kan assosieer. Haar pa bly noodgedwonge
ver van hulle af, haar ma is altyd besig. In die tweede boek,
so tussendeur die werk om die wêreld al weer van 'n dreigende
ekologiese ramp te red, maak Anna vrede en vriende met haar
irriterende kleinboetie, en daar is ook die dreigende opgewondenheid
van tiener-romanse op die horison. In die derde en laaste boek
in haar reeks
Ek wil nog nie te veel uitlap nie, maar
dit sal darem lekker wees as haar hele familie weer herenig
kan word, en as mens vir eens en altyd ontslae kan raak van
die gekonkel van 'n gevaarlike wetenskaplike soos Uranus Draak

Elizabeth Wasserman en Speurhond Willem