Vertel
in twintig woorde of minder: waaroor gaan Dans op die rand van 'n krans?
-
Dit
gaan oor Gustav se reis vanaf verbeeldingsvlugte uit die kloue van drake na die
moed om hulle aan te vat en die onverwagse hupstoot wat hy van sy charismatiese
Keltiese voorvader kry.
Dans
op die rand van 'n krans is jou debuut. Vertel 'n bietjie, waar kom die idee vandaan?
Jaco,
dis 'n konkoksie wat van ver af kom: van ervaring, verbeelding en half onbewuste
idees wat, dink ek, via ou mites en sprokies in ons almal 'n uitleefkans soek.
Om
'n boek vir tienerlesers te skryf, moet jy in 'n sekere sin in 'n jongmens se
kop kan klim. Hoe kry jy dit reg?
Soos
prof Hans du Plessis gesê het, 'n jeugverhaalskrywer word nooit heeltemal
groot nie. Maar die jeug se woordeskat soos dit in die dialoog tot uiting moet
kom, stem my tot nederigheid. Hulle woordgebruik is so glibberig dat teen die
tyd dat jy dit eindelik op 'n manier vasgevang kry, is dit klaar verouderd.
Hoe
sien jy vandag se jongmense? Wat is hulle issues, en watter dinge is vir hulle
belangrik?
Ek
dink ons moet hulle nie te lukraak saamgroepeer nie, want net soos volwassenes,
is jongmense ook individue. Sake wat die samelewing besig hou, sal by die meeste
tieners ook spook tensy hulle in persoonlike trauma vasgevang is, maar hulle het
meestal die energie en waagmoed om die oumense bo dertig te wys hoe om die lewe
reg te ruk.
Hoekom
skryf jy vir jongmense?
Ek
staan soms verwonderd voor die onbeperkte moontlikhede tot goed (en kwaad) in
die wêreld, en probeer die jongmens se varsheid en oopheid vir enige gebeurlikheid,
werklik of in die verbeeldingwêreld, uit te beeld.
'n
Mens hoor soms die beskuldiging dat jeugliteratuur deesdae net oor seks en dwelms
gaan. Dink jy dis in 'n mate sensasiesoekery?
Nee,
so 'n neiging toon eerder stereotipering van jongmense. Vandag word sommige kinders
fisiek meer beskut as hulle ouers groot weens die groter gevare in die meer komplekse
samelewing wat so lank moontlik van hulle weggehou word. Net so 'n werklikheid
as wat seks en dwelms vandag vir sekere jongmense is, net so werklik is professionele
ambisie, bekommernis oor toekomstige werksgeleenthede en die aanloklikheid van
materialisme teenoor die rug keer op die rotteresies vir ander.
Wat
dink jy van die Afrikaansejeugboektoneel in die algemeen? Is dit 'n morsdood bedryf,
soos baie mense dink, of is daar opwindende goed aan die gebeur?
Aan
die skryfkant is opwindende goed aan die gebeur, maar ek weet nie aldag of dit
op vrugbare grond aan die leeskant val nie. Sonder die amptelike beskerming waarop
die Afrikaanse boek nie meer kan staatmaak nie, is jeugboekskrywers tot 'n groot
mate op skole aangewese om hulle stories vir kinders lewendig te maak. Skole sit
egter dikwels weens begrotingstekorte met stokou voorgeskrewe werke wat hulle
nie kan vervang nie, maar wat nie meer die jongmens van 21ste eeuse Suid-Afrika
kan oortuig dat Afrikaans byhou nie.
Wat
is die beste Afrikaanse tienerboek wat jy al gelees het?
Ek
dink George Weideman is dalk my gunstelingjeugskrywer. Hier dink ek aan Dana se
jaar duisend, Die optog van die aftjoppers en veral sy nuwe kinderboek, Die geel
komplot. Veral laasgenoemde se humoristiese gebruik van Afrikaans bewys vir my
die soepelheid en die veelsydigheid van die taal. Niemand kan mismoedig wees oor
die moderne moontlikhede van Afrikaans na die lees van hierdie lewendige storie
oor 'n muisgespuis nie!
Wat
is jou raad aan jongmense wat wil begin skryf?
My
ervaring is dat die eerste weergawe van jou storie maar net die begin is. Moenie
dadelik 'n blitsverkoper van 300 bladsye aandurf nie, want soos in alle beroepe
is die klein begin meestal die enigste uitweg. Jy moet egter aan jou werk glo,
want slegs dan sal jy kan vasbyt deur die hersien, voorlê aan uitgewer na
uitgewer en weer eens herskryf totdat jou breinkind (en soms jyself) verder gegroei
het. As daar iets is wat geduld en aanhouvermoë verg, is dit om te vorder
van dromer tot gepubliseerde skrywer. Behalwe begaafde vertellers soos Jaco Jacobs
wat vroeg 'n deurbraak op die skrywerstoneel maak, moet baie van ons meer volwasse
raak voor dit gebeur.