Die oorsprong van Onderwêreld
Die tema vir die 2007 Sanlam-prys vir jeuglektuur was tegnologie
- 'n moeilike een vir my, want ek wou my doelpale skuif na BreinBliksem
se publikasie in 2005.
Ek het begin rondkyk vir interessante temas in die wêreld
van tegnologie. Ek is glad nie 'n deskundige met rekenaars nie,
maar kan myself darem help met dit wat ek gedoen wil kry - net
genoeg om my uit die moeilikheid te hou.
Toe kom ek af op die tema van hackers - of dan kuberkrakers.
Ek het dadelik geweet dit is die onderwerp van my volgende boek.
Ek het die idee laat broei in my agterkop en meer en meer op die
Internet gesoek na inligting. Gou het ek besef dit is ongelooflike
fassinerende veld.
Nog navorsing het gevolg en hoe meer ek oor die kuberkrakers
uitgevind het, hoe meer het ek agtergekom dat ek eintlik baie
min weet van rekenaars. Kuberkrakers toor nie met rekenaars nie,
hulle mors met hulle - en hulle kan hulle selfs heeltemal opmors.
Die navorsing het vir my gewys dat ek my storie sal moet ken as
ek 'n boek sal wil skryf oor die skimme wat in die onderwêreld
van die kuberruim rond beweeg.
Toe kom ek met 'n gelukskoot af op 'n artikel oor kuberkrakers,
geskryf deur Justin Stanford, 'n Suid-Afrikaanse rekenaarspesialis.
Ek het hom via e-pos in die hande gekry en hy was bereid om my
te help met inligting. Deur Justin ontmoet ek vir Lance Micalson.
Hy was betrokke by die opstel van die wet teen kuberkraking in
Suid-Afrika. Hy was baie opgewonde oor die idee van die boek en
gee my die besonderhede van twee regte kuberkrakers. Of dan ouens
wat eens op 'n tyd kuberkrakers was.
So tuimel ek dieper die onderwêreld in. Ek stuur e-posse
aan die kuberkrakers en vertel wat ek met die storie beoog. Hulle
lewer kommentaar, maak verbeterings en gee voorstelle.
Nooit het ek die hele manuskrip vir een van hulle gestuur nie.
Die paranoia het begin posvat. Die ouens was kuberkrakers . .
. sê nou net hulle kom op my rekenaar, gryp die dokument
en sit dit op die Internet.
Ek sit sleutelwoorde op my rekenaar en op die dokument self.
Ek verander die sleutelwoorde op my Internetbank en sorg dat die
virusprogram op datum is. Party dae wonder ek of ek skoon simpel
is, want elke klein dingetjie wat op my rekenaar haak, laat my
wonder . . .
In my navorsing gaan ek na webborde van Suid-Afrikaanse hackers.
Ek skrik my koud as ek sien wat hulle doen. Hierdie is die plek
waar hulle spog met hul prestasies. Een ou vertel hoe hulle war
driving doen naby die Tygervallei-sentrum in die Kaap. Dit is
wanneer krakers rondry met skootrekenaars en oop netwerke soek.
Hulle vertel hoe hul 'n man dopgehou het terwyl hy sy e-pos aflaai.
Toe is hy op die Internet. Hulle kon presies sien wat hy doen,
waarna hy kyk . . .
Ek begin agterkom hoe hierdie ouens dink en stadig maar seker
begin die kuberkrakers wat uiteindelik in my storie hul buiging
moet maak, vorm kry.
Ek gaan na webblaaie wat jou op 'n veilige manier leer hoe om
sleutelwoorde te kraak. In die werklike lewe begin ek goed raaksien
wat krakers hul lippe sal laat aflek - sleutelwoorde geskryf in
mense se dagboeke, sleutelwoorde geplak langs die rekenaarmonitor
by 'n bank se inligtingstoonbank. Ek vra mense wat ek teëkom
of hulle rekenaars se sleutelwoorde in woordeboeke verskyn. Baie
mense s'n is daar. Dit kan slegte gevolge hê. Ek besef die
kuberkrakers is reg: jou maatskappy se rekenaars kan die beste
sekuriteit hê, die beste virusprogrammatuur, die beste rekenaarkundiges,
maar die swak plek in die skakel bly die mense wat die rekenaars
moet gebruik.
Elke rekenaar kan 'n teiken word. Almal is kwesbaar.
|
The
adage is true that the security systems have to win every
time, the attacker only has to win once.
Dustin Dykes
|
Karakter vs. Storie
Ek was twee jaar gelede by 'n bespreking van Deon
Meyer en John Connolly waar hulle probeer uitpluis het wat eerste
kom: die karakters of die storie.
Vir my is die karakters gewoonlik eerste daar.
Hulle dikteer wat in die storie moet gebeur.
Met Onderwêreld was dit anders. Die twee
elemente was baie vervleg, maar ek dink die storie was eerste
daar.
'n Goeie verhaal is vir my omtrent die belangrikste
element van 'n boek. Ek weet ek skryf vir 'n jeugmark, hoewel
baie volwassenes ook my boeke lees. Ek moet die jeug se aandag
kry, en dit behou, anders sit hulle die boek neer, en gaan kyk
DVDs of speel Playstation.
Dit is hoekom ek ook deeglik beplan het aan Onderwêreld
se verhaallyn. Ek wou 'n storie skryf wat meer kompleks was as
my vorige twee jeugverhale s'n. Dieselfde karakters se verhale
sou in twee verhaallyne vertel word, en teen die einde saamloop.
Dit het gevra vir baie beplanning. Ek het kaartjies gemaak vir
elke hoofstuk, en die ontvouende gebeure soos 'n legkaart inmekaar
probeer pas.
Eckardt, een van die hoofkarakters in die boek,
se krakernaam is Ekk-0. Soos eggo. Eggo's speel 'n belangrike
rol in Onderwêreld, en ek wou gebeure in die een verhaallyn
laat eggo in gebeure in die ander verhaallyn. Dalk klein goedjies
wat sommige lesers nie sal opmerk nie.
Die keuse van karakters was moeiliker as met my
vorige boeke. Hulle wou hulself nie sommer net kom aanmeld nie.
Ek moes hulle gaan soek - en ek het - in jeugtydskrifte. Ek het
foto's gesoek wat my aandag trek, hulle uitgeknip en op stukkies
karton geplak, soos hierdie:

Toe begin ek denkbeeldige onderhoude voer met die
karakters. (Skrywers is soms bietjie mal.) So leer ek hulle ken.
Nie net hoe hulle lyk nie, ook hul denkpatrone, hul emosionele
onderwêrelde.
Natuurlik verander en vorm die karakters se antwoorde
aan my storie. Maar so begin die jeugroman 'n lyf te kry. Die
karakters word mense.
Ek plaas hulle in hul storiewêreld: Lawson
Kollege, 'n prestige seunskool in die Drakensberg.
My twee hoofkarakters:
Greg Owen, die seun van 'n mediamagnaat. Hoofseun
van Lawson Kollege. Eerste rugbyspanspeler. 'n Seun wat 'n donkerte
met hom saamsleep . . .
En Eckardt Wilken. 'n Nuwe matriekleerder by Lawson.
'n Kuberkraker. Die ou wat vir Greg na die onderwêreld lei
. . . Die ou wat een Donderdagoggend spoorloos verdwyn . . .
Sommer net vir interessantheid:
In die tyd toe ek Drakensberg toe is vir navorsing,
was hierdie een oggend 'n koerantopskrif:
