2018-02


jongklomp

kuier by...

Fransi Phillips
fransi phillips
Fransi Phillips is die skrywer van dertien gepubliseerde boeke waaronder digbundels, kortverhale, romans en jeugverhale. An-Mari Fouché het haar persoonlik leer ken.

In haar beginjare as skrywer het ʼn uitgewer eenmaal vir haar gesê dat niemand ooit sal belangstel in haar boeke nie. Nou, dekades later, het sy dertien gepubliseerde boeke waaronder digbundels, kortverhale, romans (haar mees onlangse een, Net ʼn lewe, wen in 2011 Lapa Uitgewers se roman kompetisie) en ook jeugverhale. Vir my het sy altyd bekend gestaan as ‘Ouma se niggie, die skrywer’, maar vandag leer ek Fransi Phillips persoonlik ken.

fransi phillips

Sy is op 12 Augustus 1958 op ʼn plaas naby Lichtenburg, NW, gebore, maar verhuis later Pretoria toe waar sy aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool matrikuleer. Sy studeer by die Universiteit van Pretoria, waar sy ʼn BA graad behaal sowel as ʼn B.A. Honneurs in beide Filosofie en Kunsgeskiedenis. Sy trou met Charles Phillips, en hul dogter Nina word later gebore. Na haar egskeiding doen sy vir ʼn tydperk tydelike en vryskutwerk voordat sy by die Tsjeggiese ambassade gaan werk tot en met 2010. Tans werk sy in Rusland, waar sy Engels gee op ʼn klein dorpie naby Moskou.

Ek is baie gelukkig om met haar kontak te maak terwyl sy in Suid Afrika is, en ek ontmoet haar in ʼn koffiewinkel in Pretoria. Nina, wat ʼn pianiste is, kom sit ook by ons vir ʼn rukkie terwyl sy vir iemand wag.

Sy het al op tienjarige ouderdom begin skryf, vertel sy, toe hulle besig was om ʼn opstel oor Wolraad Woltemade te skryf vir skool. Daar het iets gebeur met haar opstel; verrassings terwyl sy skryf, wat haar laat besef het dat sy ʼn skrywer wil word.

Op my vraag oor wat haar inspireer, antwoord sy eenvoudig: “Stories. Ek is mal oor stories.” Haar dogter wys na haarself, en Fransi sê laggend ja, Nina inspireer haar ook. Sy dink ʼn oomblik en gesels dan verder. “Eintlik dink ek wat ek doen, is om te lewe sodat ek ʼn storie kan skryf daaroor. Ek lewe ʼn storie. As dit nie so spectacular is dat dit ʼn storie kan word nie dan is ek baie unhappy daarmee.”

Sy is nie regtig ʼn beplanner as dit kom by haar skryfproses nie. “Dis ʼn skande,” lag sy. “Hierdie laaste boek (dis nou by die uitgewers) het ek in Rusland gesit en skryf terwyl ek vir die metro wag. Maar nou moet jy weet hoe klink dit – dit is ʼn helse lawaai. Dit is seker so 15, 20 minute op ʼn slag dan skryf ek gou ʼn bietjie, maar dis so lawaai jy kan jouself nie hoor dink nie. Dis ʼn absolute disaster. My ander boek het ek geskryf terwyl ek by die Tsjegge gewerk het; dan gee die ambassadeur vir my ʼn opdrag dan kyk ek hom so in sy oë terwyl ek skryf. So dis baie afgeskeep eintlik.”

Om te begin skryf is vir haar die moeilikste deel, om haar “gat in rat te kry”. “Die lekkerste deel is as daar verrassings gebeur. As dit nie gebeur nie, dan is dit terrible. Dan voel mens net siek, en dan kan jy dit nie gebruik nie. Daar moet iets gebeur wat jy nie self verwag het nie. Dit is wat belangrik is. En as dit nie gebeur nie, is dit terrible. Dan is dit nie eers moeilik nie, dit is beyond. Jy gooi dit weg. Dit kan nie bestaan nie.”

Om daardie oomblikke raak te sien, daardie verrassings en inspirasie, is volgens haar die belangrikste ding wat ʼn skrywer en kreatiewe mens moet kan doen. “Hy moet die tyd hê en hy moet die geduld hê om dit te sien. As dit daar is, moet hy dit vat. Hy moet die waarde daarvan kan sien.” Onderskeiding is egter ook belangrik, voeg sy by, want soms dink mens iets is goed en “dan sien jy o, hel, dit is maar nie so hot as wat ek gedink het nie. Dan moet jy probeer dat dit jou nie heeltemal vernietig nie.”

En wat van kritiek? “As ek kritiek vra, vat ek dit, maar as ek dit nie gevra het nie is ek baie ongeduldig daarmee. As dit iemand is wat ek dink “Wat de hel weet jy, in any case?” gaan ek nie my bek hou vir daardie ou nie.” Sy glo dis belangrik om iemand te hê wie se opinie jy vertrou, en vertel nostalgies dat sy altyd vir André P. Brink gevra het oor haar verhale. “Maar jy moet jou nie aan almal steur nie,” voeg sy by. Dit is vir haar nogal hartseer hoeveel potensiaal verlore gaan deur resensente wat veral debuutwerk “doodmaak”.

Sy is eintlik baie “cheeky”, erken sy. “Ek dink dis belangrik dat mens cheeky moet wees. Jy moet glo dat dit wat jy wil sê al is wat eintlik saak maak, want dit is al wat vir jou saak maak.” Dit is veral belangrik vir ʼn jong skrywer, dink sy. “Dis eintlik die ding: doen net wat jy wil. In die eerste plek; mens moet dit geniet. As mens enige kunsvorm nie geniet nie, nie een of ander baie diep bevrediging kry daaruit nie, dan is dit heeltemal futile. Maar as jy dit kry, doen jou eie ding. Dis al wat sin maak, want dis wat niemand anders kan doen nie.”

Sy vertel van raad wat sy eenmaal by ʼn Switserse filmmaker gekry het, wat gesê het jy moet jouself die hele tyd so sterk as moontlik projekteer. Die volgende boek waaraan sy werk, genaamd ʼn Huis om in te ek, gaan juis daaroor dat skryf ʼn plek waar jy jouself moet projekteer. “Dit beteken nie dit moet die heeltyd oor jouself gaan nie, maar jy moet jou eie angle projekteer die heeltyd.”

Haar nuutste boek gaan wel oor haar eie ervaringe in Rusland, en is tans by die uitgewers. “Dit is maar ʼn lang proses,” sê sy. Sy het al baie ervaringe gehad by verskillende uitgewers, wat nie altyd maklik was nie. “Elke keer dan kry ek ʼn fight met een en dan loop ek weer na die volgende een toe,” vertel sy laggend. Sy het haar eerste boek self uitgegee omdat niemand anders wou nie. Met die tweede een het sy na Human & Rousseau toe gegaan, waar Koos Human vir haar gesê het: “Ek stel nie belang in jou boekie nie en niemand anders sal daarin belangstel nie.” Sy kry wel op die ou einde ʼn uitgewer vir haar boek (Sewe en sewentig stories oor ’n clown), en dit kom op die kortlys vir die Rapportprys in 1986. Met die boek na daardie een, is Koos Human “baie nicer”, en vat haar selfs uit vir ete. Human & Rousseau gee ook die boek uit. “Maar toe word ek weer vies en toe is ek weer weg daar,” lag sy.

Sy sou baie graag wou leef van haar boeke, maar erken baie min mense kan. “Ek kan lank nie daarvan leef nie, maar ek sal baie bly wees as ek daai punt kan bereik waar ek regtig ʼn skrywer kan word en kan weet daar gaan nog genoeg kom dat ek kan leef daarvan.”

Dit is vir haar swaar dat sy nie ʼn werk in haar eie taal kon kry nie. Haar eie taal, waarna sy dikwels in van haar boeke verwys as ʼn ‘dooie taal’. Ek vra haar daaroor. “Ek onthou met Net ʼn lewe was dit spesifiek hierdie ding, ek het op ʼn stadium die obsessie gehad met die ‘spooktaal’ ding; en skryf in ʼn spooktaal en hoe die skryfproses in sigself soos ʼn spookagtige ding is. Jy skryf teen alle logika in nogsteeds in Afrikaans omdat hy dood is, basically, maar nou is daar nog ʼn spook wat praat.”

Dit bekommer haar dat Afrikaners nie bereid is om hulself en hul taal te verdedig nie. “Daar is ʼn groepie wat nog veg,” sê sy. “Dit is vir my baie goed, so as ek in ʼn spooktaal skryf dan is ek maar deel van daardie groepie eintlik.”

Fransi Phillips het al meer as ʼn dosyn boeke uitgegee, waaronder poësie, kortverhale soos Die horlosie se wysers val af en Hersverhale, en prosa soos Die donker god en Net ʼn lewe. Sy skryf ook kinder- en jeugboeke, en haar publikasies sluit in Nicholas se belofte en ʼn Baie lang brief aan Rolf. Fransi se nuutste boek is getiteld Liefde in die tyd van die internet, en word mid-2018 uitgegee deur Queillerie.

fransi phillips en an-mari fouché

Onderhoud met An-Mari Fouché.
An-Mari is 'n Skryfkunsstudent by die Noordwes-Universiteit


Augustus 2017

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2018