|
|
| Skrywers
om by te kuier |
|
|
Jaco Jacobs het onlangs by die Laerskool Mikro in Kuilsrivier
gaan kuier. Ná die tyd het Stephanie van Wyk, die skool
se mediasentrum-juffrou, saam met Lézel Roets, Bianca
Ehlers en die 2009-redaksie van die skoolkoerant, Mikroskoop,
vir Jaco 'n paar lekker vrae gevra.
|
|
Waar jy woon?
Ek het op Carnarvon, 'n klein Karoodorpie, grootgeword,
maar deesdae bly ek in Bloemfontein.
Watter soort werk doen jy?
Ek is uitgewer van kinder- en jeugboeke by LAPA Uitgewers.
Vroeër was ek die redakteur van Volksblad se JIP-bylae.
Wat is jou gunsteling boek?
Dis 'n baie moeilike vraag! As ek net een boek mag kies,
is dit Disgrace van J.M. Coetzee. Maar ek's ook mal oor Stephen
King, Roald Dahl, Stephenie Meyer en J.K. Rowling se boeke.
Het jy as kind geweet dat jy eendag
'n skrywer wil word?
Ek was van kleins af versot op boeke, maar ek het eers
vroeg in my hoërskooljare regtig begin dink dit sal wonderlik
wees om eendag 'n skrywer te word.
Hoe het jy begin skryf?
Ek het aanvanklik vir skryfkompetisies ingeskryf. Aan
die begin het ek nie gewen nie, maar ek het al hoe beter gevaar,
en dit het my aangespoor om meer en meer te skryf. In matriek
is my eerste stories in tydskrifte gepubliseer, en aan die einde
van matriek het ek my eerste kinderboek geskryf. (Dit is later
deur Human & Rousseau uitgegee as Pretpark.)
Ek het een pouse op die skoolterrein
opgemerk dat daar verskeie kinders is wat met jou boeke rondloop
of besig is om dit te lees! Ek is doodseker dat hulle dit nie
kan neersit nie en ook in klastyd onder die banke sit en lees!
Hoe laat dit jou voel?
Dit is natuurlik fantasties! Uiteindelik is dit die
mooiste kompliment wat enige skrywer kan kry - dat mense jou boeke
geniet. Partykeer voel dit nogal vreemd om te dink iemand lees
die stories wat ek hier alleen agter my rekenaar sit en uitdink!
Christiaan Watney en Rudy Nortjé
(beide graad 5) was mal oor Rugbypret en Duskant die doodlyn.
Uiteindelik is daar iemand wat hulle taal praat! Die boeke was
veral lekker om te lees omdat hulle beide sportsoorte beoefen.
Hulle wil weet of jy nie 'n boek wil skryf wat oor tennis handel
nie? Hulle speel graag tennis en daar is nie juis boeke beskikbaar
wat tennis as 'n tema het nie.
Hmmm, ek sal Christiaan en Rudy se idee met my uitgewer
bespreek - dalk hou sy daarvan en pak ek iewers in die toekoms
so iets aan!
Wie is die eerste persoon vir wie jy
'n manuskrip gee wanneer jy dit voltooi het, om dit te lees?
Gewoonlik is my uitgewer, Miemie du Plessis, die heel
eerste mens wat my stories lees. Sy gee al jare lank my boeke
uit en ek weet sy gee altyd die regte raad oor 'n storie. Sy is
die een wat moet besluit of my stories goed genoeg is om as boeke
uitgegee te word, en sy gee baie keer ook wenke oor hoe ek 'n
storie snaakser of opwindender of beter kan maak.
Ná jou besoek aan Mikro was baie
kinders se neuse aan Suurlemoen! vasgeplak. Wat dink dit jy maak
dit 'n lekkerleesboek?
Ek hou van boeke wat 'n mens laat lag, en Tiaan, die
hoofkarakter en verteller in Suurlemoen!, is vir my baie snaaks,
al moet ek dit self sê. Terwyl ek die storie geskryf het,
het ek soms kliphard gelag vir sy sêgoed of die weird goed
wat hy aanvang - dis vreemd, maar soms het dit regtig gevoel of
dit nie ek is wat dit uitdink nie! Die ander karakters, Zane en
Bongi en Liezl, is almal op hul eie manier ook snaaks. Ek dink
ook die boek is gewild omdat dit oor liefde en musiek gaan - gewilde
temas in die meeste jongmense se lewe.
Die uitleg van Suurlemoen! is nogal
uniek. Het jy enige insae daarin gehad?
Ja, terwyl ek die storie geskryf het, het ek presies
aangedui waar elke nota en foto moet wees. Daarna het die uitlegkunstenaar
Elsabé Milandri die teks gekry. Sy het al die notas met
die hand oorgeskryf, die illustrasies gemaak, en modelle gaan
soek en afgeneem om in die boek te gebruik. Ek dink sy het fantastiese
werk gedoen - al die karakters lyk nes ek gedink het hulle behoort
te lyk, en sonder Elsabé sou die boek beslis nie so mooi
gelyk het nie. O, en sy het ook 'n hele paar visuele grappies
van haar eie in die teks gesit!
Is Suurlemoen! gebaseer op enige kinders
wat saam met jou op skool was?
Uhm ... sjoe, ja, ek dink nogal so. Een van my beste
vriende op hoërskool was nogal baie soos Zane - hy't gedurig
al die meisies gekry, ook dié waarvan ék gehou het!
Ons het natuurlik baie daaroor baklei, maar ek het hom maar altyd
weer vergewe. Twee mense het al vir my gesê Tiaan laat hulle
baie dink aan hoe ekself op skool was - 'n bietjie van 'n nerd,
met 'n effe vreemde humorsin. Ek weet nie of dit waar is nie!
Speel jy 'n musiekinstrument?
Nee, glad nie. Ek het 'n jaar of twee klavierlesse geneem op
laerskool, maar ek het dit geháát! Ek kry nou
nog koue rillings as ek dink aan daai toonlere wat ek saans
moes oefen voor 'n musiekles. Deesdae is ek spyt dat ek nie
maar aangehou het daarmee nie, want ek sou baie graag 'n musiekinstrument
wou speel. Maar ek dink nie ek het die geduld om dit te leer
nie.
Was jy al ooit in 'n band? Indien wel,
wat was die naam?
Nee, glad nie. Maar ek sou baie graag in 'n heavy
metal band wou wees!
Ek het in Rapport gelees van die "biblioteektannie"
en die "wonderlike biblioteek op Carnarvon". Hoe dink
jy moet die ideale biblioteek lyk?
Ek dink die ideale biblioteek is nie 'n stil, vaal,
vervelige plek nie. Dit moet 'n plek wees waar boeke so opwindend
en kleurvol moontlik aangebied word, sodat soveel moontlik mense
kan ontdek hoe great dit is om 'n lekker boek te lees. Ek het
onlangs 'n kleuterboek getiteld Bertus soek 'n boek gepubliseer
- daarin is 'n lawwe, eksentrieke biblioteektannie met die naam
mevrou Haasbroek. Ek dink sy is die perfekte biblioteektannie!
Wat kan ons in 2009 op die rakke verwag?
Ek het pas 'n nuwe tienerboek, Perfek, gepubliseer,
asook twee nuwe Stalmaats-boeke, Seeponies en Roset. Later vanjaar
verskyn Middernagfees, 'n bundel propvol grilstories. 'n Boek
waaroor ek veral opgewonde is, is Virus, wat binnekort op die
rakke sal wees. Dit is 'n grillerige wetenskapfiksieverhaal vir
tieners, oor 'n zombievirus wat die aarde tref. Die boek het nie
net teks nie - dit bevat ook fantastiese strokiesprentillustrasies
deur die kunstenaar Daniël du Plessis. Sy zombies lyk regtig
scary!
Wat was jou bynaam op skool?
O nee, ek weier om te sê! Jy sal my moet vasbind
en kielie voor jy dit uit my kry, want ek het my bynaam geháát!
Hoe het jy op die skuilname Tania Brink
en Lize Roux gekom?
Tania Brink is sommer net 'n naam wat ek uitgedink het,
ek kan glad nie meer onthou hoe ek daarmee vorendag gekom het
nie. Lize Roux het my uitgewer uitgedink - ek het vir haar gesê
ek sal die Stalmaats-boeke onder 'n skuilnaam uitgee soos sy gevra
het, mits sy 'n naam en van kan uitdink met die letters "x"
en "z" daarin. Ek wou haar sommer net 'n bietjie laat
kopkrap, maar sy het onmiddellik die naam "Lize Roux"
uitgedink!
Skryf jy party van jou boeke oor jou
kinderdae?
Sjoe, dis 'n lekker vraag! Ja, ek dink daar is iets
van my eie kinderdae in elke boek wat ek skryf. Ek onthou byvoorbeeld
nog hoe magteloos 'n mens kleintyd kon voel as 'n onderwyser of
'n ander grootmens jou onregverdig behandel, en daarom het ek
boeke geskryf soos Wiskunde gee my maagpyn en Superheroes vlieg
net saans. My uitgewer sê ek het nooit regtig grootgeword
nie!
|  |
|
Onderhoud by
Laerskool Kuilsrivier met Stephanie van Wyk, Lézel Roets,
Bianca Ehlers en die 2009-redaksie van die skoolkoerant. Maart 2009.
Lees
'n vorige onderhoud met Jaco Jacobs - 2001
Meer
oor die skrywer
|
|