|
|
| Kobus
Geldenhuys | | Kobus
Geldenhuys is die vertaler van Harry Potter en die Halfbloed Prins in Afrikaans.
Leana Moolman het met hom gesels oor hoe hy 'n vertaler geword het en watter interessante
werk hy al gedoen het. |
Jy
is bekend vir die vertaling van boeke asook die oorklanking ("dubbing")
van verskeie TV-dramas, dokumentêre programme. Waar het alles begin? Hoe
het jy 'n vertaler geword?Ek wou van kleins af na ver
plekke reis, ander tale praat en weet hoe anderstaliges se koppe werk. Om 'n taal
te leer was nog altyd vir my makliker en opwindender as om 'n wiskundesom of wetenskapeksperiment
te doen. Ek was ook nog altyd gefassineer met die teater en TV-wêreld en
het op universiteit baie by die Dramadepartement betrokke geraak, al het ek tale
gestudeer. Die aktrise Babs Laker het my aan die oorklankingswêreld bekend
gestel en ek het dadelik daar tuis gevoel. 'n Mens vertaal nie net die dialoog
nie, jy moet die woorde van jou vertaling ook met die lipbewegings van die oorspronklike
akteur laat sinchroniseer. Dit is aanvanklik baie ingewikkeld, maar 'n mens ontwikkel
later jou eie styl, slag en manier van doen - wat natuurlik ook teen jou kan tel.
As jy hou van informele sleng-taalgebruik, goed en wel, maar wanneer 'n professor
op die TV-skerm praat, moet hy "professortaal" gebruik, of "besig",
soos die oumense gesê het! Jy
het al verskeie kinderboeke vertaal soos Die leeu, die heks en die hangkas
(C.S. Lewis), Charlie en die Sjokoladefabriek (Roald Dahl) en Harry
Potter en die Halfbloed Prins (J.K. Rowling). Hoe voel dit om met die werk
van hierdie 'groot name' in die kinderliteratuur om te gaan? Wat beteken dit vir
jou as vertaler? Dit is soms skrikwekkend om 'n geliefde
en alombekende werk te vertaal. 'n Mens voel aan die begin jy loop op eiers, maar
geleidelik begin jy ontspan en aan die skrywer se ritmes en taalgebruik gewoond
raak. Ek vind die eerste paar bladsye gewoonlik die moeilikste. Daarna kom ek
in pas met die oorspronklike werk. Dit is baie belangrik om die skrywer se styl,
taalgebruik en sinskonstruksies goed te bestudeer en te besluit hoe jy dit getrou
in die teikentaal gaan weergee. Ek glo daarin om 'n boek klaar te vertaal en dan
weer van voor af daarmee te begin, my eie werk drasties te redigeer en te verander
en dit dan (as daar tyd is!) 'n paar dae te laat lê en "ryp word"
voor ek dit dan 'n laaste keer deurwerk. Watter
van jou vertaalde boeke is jou gunsteling en waarom? My
gunstelinge is die twee Charlies (die tweede een, Charlie en die glashyser,
verskyn in Junie) en Harry Potter en die Halfbloed Prins. Ek kan nie een
spesifieke een kies nie, want wanneer 'n mens so nou met 'n boek en sy karakters
saamgeleef het, is hulle soos familie en jy het elkeen om 'n ander rede lief.
Dis fantasties om Roald Dahl se slimmighede in Afrikaans te vertaal en heerlik
om 'n storieverteller van formaat soos J.K. Rowling se intriges so sin-vir-sin
en woord-vir-woord te beleef. In
die vertaling van Harry Potter en die Halfbloed Prins behou jy die oorspronklike
name, anders as in die eerste vyf vertalings deur 'n ander vertaler. Hoe voel
jy oor die vertaal van name? Hierdie namekwessie
kom al 'n lang pad in my vertaalloopbaan. Destyds by TV-oorklanking was ons beleid
dat as 'n mens een karaktertjie in 'n animasiereeks se naam verafrikaans jy dit
met almal moet doen. Anders los jy almal Japannees, of wat ook al die oorspronklike
taal is. In Moemin het ons dit byvoorbeeld heeltemal verafrikaanse met name soos
Moemamma en Moepappa. Ons ander karakters se name was almal gebaseer op klanke,
soos Boeboe en Moemy.
Wat betref boeke was dit jare lank in Afrikaans die
gebruik om name te vertaal. Roald Dahl se Charlie Bucket was in die ou Afrikaanse
weergawe Kalie Emmer. Tye het egter verander en almal ken die Engelse benaming
van karakters, danksy TV en Hollywood-films. Daarom het ons besluit om in die
nuwe vertaling by die oorspronklike benamings te bly. Almal weet dit speel in
Engeland af. Dit is dus net die leestaal wat na Afrikaans verander. Daarom ook
praat die vertaling nie van rande en sente nie, maar van Britse ponde en pennies,
en het ek nie die Britse mate gemetriseer nie. Dit sou die "Britse gevoel"
van die boek laat verlore gaan.
In Harry Potter was ons as gevolg van
Warner Brothers se kopiereg op die karakters se name genoodsaak om by die oorspronklike
Engelse karaktername te hou. Janie Oosthuysen (wat die vorige Potter-boeke vertaal
het) se naamvertalings werk vir my baie goed by karakters soos Dompeldorius en
Snerp (en ek haal ook my hoed af vir haar Kwiddiek-woordeskat in Afrikaans!),
maar ek voel 'n mens kry stylprobleme en teenstrydighede wanneer Engelse kinders
soos Harry en Ron in dieselfde klas is as 'n Afrikaanse Hermien le Grange en 'n
Nederlandse Mania Goedlief. (Ek was gelukkig dat ek die Engelse alliterasie kon
behou met die vertaling van Moaning Myrtle as Myrtle Martelgat. Hier werk Martelgat
vir my, want dit is 'n soortnaam wat as eienaam aangewend word.) Baie mense sal
egter totaal van my verskil wat hierdie saak betref. Dit bly 'n stylbesluit wat
die vertaler en uitgewer moet neem. Hoe
lank het dit jou geneem om Harry Potter en die Halfbloed Prins te vertaal? Twee
maande, met tussenin tekste skryf vir die kykNET-sepie Villa Rosa. Ek het heeltyd
vir my seun gesê: "Dit word nou te tense in Hogwarts, ek gaan eers
'n bietjie by Villa Rosa se gastehuis inboek." Die afwisseling help ook om
'n mens se kop weer oop en vars te maak vir so 'n lywige boek. Waar
begin jy met jou vertaling? Hoe gaan jy te werk? Ek
begin maar by die begin. Baie keer merk ek probleemareas - byvoorbeeld al Dahl
se woorspelings - met die eerste deurlees sodat ek dit in my agterkop kan deurdink
In die Halfbloed Prins moes ek 'n dag of wat wonder hoe om die Weasley-tweeling
se produk U-No-Pooh te vertaal. Op die ou end het ek toe besluit om weg te beweeg
van "You-know-who" na "die Donker Heer", wat toe perfek rym
met "Poefa-weer" en siedaar, my Afrikaanse rympie was gemaak.
Het jy enige snaakse gewoontes tydens die vertaalproses? Ek
drink te veel koffie, stel die lugreëling te koud en klink baie kortaf wanneer
ek die foon antwoord. Jy het 'n
Artes-toekenning (nou genoem Avanti) vir vertaling gekry. Watter raad het jy vir
jong vertalers? Leer soveel tale as moontlik. Die
oumense het gesê: Soveel tale jy ken, soveel male is jy man. En moenie soos
ek eers in jou veertigs Afrika-tale begin leer nie! Doen dit nou en jy sal verstom
wees oor hoeveel beter jy met almal in ons land kan kommunikeer. Dink
jy 'n mens word gebore as vertaler of kan jy leer om een te word? Jy
moet 'n basiese aanleg hê, maar soos met alles in die lewe sal jy nêrens
kom as jy jou nie op jou vakgebied toelê en nou en dan ook selfs bietjie
bloed sweet nie. Maar moenie die geniet vergeet nie! Dit sal vir jou sê
of vertaalwerk (of wat ook al) jou passie is, of net 'n manier om 'n lewe te verdien. Wie
is jou rolmodel(le) in die vertaalbedryf? 'n Wonderlike
eksentrieke dame met die naam Nerina Ferreira - 'n aktrise en vertaler wat my
verskriklik baie van tale én die lewe geleer het. Sy praat letterlik 'n
magdom tale - leer hulle sommer oornag! - en het in die ou dae al die klassieke
werke in Afrikaans vertaal. Haar taalgebruik was altyd verfrissend en nuut, nie
so gedrae en swaar nie. Sy's Shakespeare se The Taming of the Shrew byvoorbeeld
as Die Vasvat van 'n Feeks vertaal. Dis ook sy wat die eerste Afrikaanse
Brakanjan-animasiereeks vir TV vertaal het. Wie
is jou gunsteling kinderboekskrywer? Ek kan nie kies
tussen Roald Dahl, J.K. Rowling en die sprokieskrywers soos Andersen nie. In Afrikaanse
dink ek Carina Diedericks-Hugo is baie cool. Sy is nie bang vir "sensitiewe"
onderwerpe nie en probeer nooit vir haar lesers preek nie. As
jy jou volgende vertaalprojek kan kies, watter boek sal dit wees en waarom? Roald
Dahl se Revolting Rhymes. Sommer net om lekker revolting te wees en boonop
daarvoor betaal te word. As jy
enige ander werk kan doen, behalwe om te vertaal, wat sal dit wees? Ek
is so gelukkig om dit reeds te doen - die TV-tekste wat ek skryf. Dis lekker om
dialoog te skryf, veral vir karakters van verskillende ouderdomme wat almal verskillend
praat. En enigiets is moontlik in 'n sepie - veral die onmoontlike. |  |
Onderhoud
met Leana Moolman, 'n honneursstudent in Afrikaans en Nederlands aan die Noordwes-Universiteit
(Potchefstroomkampus). Februarie
2006 |
|