Daar
is 'n merkbare verskil tussen hierdie boek en jou vorige verhaal, DIE PRO. Wat
is die reaksie daarop?
Vir
my as skrywer is dit baie belangrik om nie net een soort boek te skryf nie. Die
pro, was 'n baie meer realistiese boek en Groete van die hiëna, is
baie meer absurd. Ek vind boeke soos Groete van die hiëna, baie meer van
'n uitdaging om te skryf. Verseker gaan daar lesers wees wat nie van hierdie tipe
boek gaan hou nie, maar tot dusver lyk dit asof so 'n boek weer baie ander lesers
aanspreek.
Daar is dikwels 'n verskil tussen wat geskryf word en wat gelees word. Is jy tevrede
met wat gelees word, of stel jy jou apart van die interpretasie van jou werk?
Geen
skrywer kan vir 'n leser voorskryf wat om te lees nie. Tog hoop elke skrywer seker
maar dat dit wat hy/sy bedoel het op een of ander manier by die leser sal uitkom.
Aan die anderkant is dit wonderlik om te sien wat maak lesers met stories. Hoe
jy iets inlees, sê baie keer meer van jou as leser as van die skrywer.
Hoekom het jy begin skryf?
As
gevolg van die gejuk van die woorde en idees in my. Dit is een van daardie irritasies
wat slegs verlig kan word deur dit op papier vas te pen. Seker maar soos wat ander
weer moet hardloop en/of moet koek bak.
Hoe is jou skedule terwyl jy besig is met 'n werk? Skryf jy met vaste
tye of doelstellings, of laat jy dat inspirasie jou lei?
Inspirasie
is bloot die vlammetjie wat die kole aan die brand steek, indien jy nie die heeltyd
en konstant kole aandra nie, gebeur daar niks. Soms tref 'n idee my soos weerlig,
maar meestal gaan sit ek ewe ordelik op 'n spesifieke tyd voor my lessenaar en
probeer dan oes wat op die kompos van my onderbewussyn groei.
Waar kry jou idees vir jou werk, met inbegrip van milieu, karakterisering,
dialoog en verhaal? Het jy 'n vasgestelde sielkundige proses om idees te skep,
of is dit 'n tref-en-trapproses?
Ek
is een van daardie skrywers wat nie hoef ver te soek na idees nie, maar kliphard
moet soek na die regte woorde om daardie idees duidelik oor te dra. Die mense
wat my ken reken ek is nogal nuuskierig van geaardheid, so ek versamel seker maar
die heeltyd bewus-en onbewustelik stof tot nadenke. Kompos vir nuwe stories.
Hoe het Groete van die hiëna spesifiek die lig gesien? Was daar
eers die gedagte en toe die woord, of is die gedagte saam met die woord gebore?
Groete
van die hiëna, is gebore uit 'n paar wilde idees wat eers behoorlik makgemaak
en gesnoei moes word. Basies het die kremetartboom in die verhaal die hiëna
voorafgegaan. Van dieselfde boom af, het die idee vir die gebruik van die chaosteorie
gekom. (Ek is terloops mal oor bome)
Daar word beweer dat die boek eers 'n ander titel gehad het, nl. CHAOS
SE GAT. Waarom het die COOL titel meer besadig geword?
Die
uitgewers het gereken dit is te kru, toe moes ek 'n ander titel kry. Maar ek dink
dat die nuwe titel die hart van die boek sterker saamvat.
Die boek het 'n definitiewe fantasie-atmosfeer, maar tog kry mens die
gevoel dat simboliek 'n groot rol in die boek speel, juis omdat diere so 'n groot
simboliese potensiaal het. Sonder om te veel weg te gee, voel jy dit is geregverdig
om aandag te gee aan die simboliek betrokke as 'n integrale deel van die boek?
Verseker
is die simboliese element in die boek belangrik, maar by die eerste lees van die
verhaal sal ek graag wil sien dat die lesers bloot hulle verbeeldings losmaak
en deur die storie tuimel. Ek sit buitendien nie ure lank en beplan watter simbole
om waar te plant nie. Die tipe ding gebeur maar soort van onwillekeurig.
As watter dier sou jy jouself beskryf?
Nogal
moeilik om te sê. As daar iets soos 'n vlieënde luiperd was kon ek
dalk daarvoor aansoek gedoen het.
Afgesien van Groete van die hiëna, is daar enige boodskap wat jy
aan jou lesers sou wou oordra?
Nee,
genade tog, ek hoop nie die lesers ervaar my boeke as boodskappe nie! Seker dele
van my lewensfilosofie sink seker tussen die lyne deur, maar die leser kan tog
steeds daarmee maak wat hulle wil.
Wat is jou toekomsplanne as skrywer en as mens?
As
skrywende mens sal ek nog baie dele van hierdie aarde, asook my en ander mense
se binnewêrelde wil besoek. Een of ander tyd sal ek ook nog 'n volwasseroman,
asook 'n geïllustreerde kinderboek van my langs mekaar op 'n boekrak wil
sien.