|
|
| Louise
Prinsloo | "Ek
het altyd gedink 'n spook is 'n spook, maar moenie glo nie!" Schabort Froneman
het by Louise Prinsloo gekuier en sommer 'n hele komp dinge van dié skrywer
(en spoke) uitgevind. |
Waar
het tannie grootgeword en wat is tannie se agtergrond?
Ek is in Johannesburg gebore en getoë. Ek is die jongste van twee kinders.
My ouma, my ma se ma, het by ons in die huis gebly en ek het as jongste kind my
kamer met haar gedeel. Saans het ek by haar in haar verebed geklim en dan het
sy vir my stories vertel uit haar kindertyd ook toe Johannesburg nog jonk was
met grondpaaie en die mense met perdekarre rondgery het. My pa was 'n bobaas storieverteller,
maar ongelukkig het niemand daaraan gedink om sy stories op te teken nie. Hy kon
sommer net so sit en begin stories vertel. Ek is getroud met Daan Prinsloo. Hy
het sy doktorsgraad in Staatsleer en Internasionale Politiek. Hy skryf ook, maar
meer boeke van akademiese aard. Hy het onder andere PW Botha se biografie Stem
in die Wildernis gekryf. Hy het ook kortverhale vir tydskrifte geskryf. Ek
het drie dogters: Die oudste is arbeidsterapeut; die middelste 'n derde jaar medies
student by Tukkies en die jongste 'n vryskutjoernalis.
Waar het tannie skoolgegaan?
Ek was in drie laerskole, Jan Celliers, Kemptonpark en Aucklandpark Laerskool.
My hoërskoolloopbaan het ek aan Helpmekaar Hoër Meisieskool voltooi.
Waar en vir wat het tannie geswot?
Ten spyte daarvan dat ek universiteit toe kon gaan, het ek verkies om 'n grade-onderwyseres
te word aangesien ek baie lief is vir kinders. Ek het Junior Primêr aan
die Normaalkollege van Pretoria studeer toe dit nog op die ou kampus in Sunnyside
was. Later toe ek skoolgehou het, het ek deur die Akademie vir Dramakuns onder
leiding van Aletta Gericke my diploma in drama gekry. Ek het ook op 'n kol my
eie dramaskool gehad en kinders afgerig vir die Johannesburgse kunswedstryd. Ek
het veral die eksperimentele afdeling baie geniet, waarvoor ek soms my eie stukkies
geskryf het. -
Vertel ons 'n bietjie meer van tannie se boeke en wat mens alles daarin
sal vind.
Die eerste drie kinderboeke het ek op versoek van Waterkant Uitgewers geskryf.
Dit was die Lizette-reeks. Lizette en die Silwerbeker; Lizette en die Tandmuis,
en Lizette en die Kapokkies. Die boeke handel oor 'n sesjarige dogtertjie,
Lizette en haar verhouding met haar ouers, susters, grootouers en maats.
Daarna het ek TV-tekste vir Ligstraaltjies, die destydse kindergodsdienstige
TV-program geskryf. Ek het die Ou Testament in dramavorm vir Transwêreldradio,
die eerstydse Radiokansel verwerk tot en met die Handelinge van die apostels.
Vir Louise Smit-produksies het ek tekste vir TV-3 geskryf oor die dertien aspostels
van Jesus met Paulus as die dertiende apostel. Ek het dit baie geniet, veral die
navorsing was baie leersaam, interessant en verrykend. Ek het ook 'n boekie geskryf:
Wanneer dit moeilik gaan, na aanleiding van my derde dogter se beensiekte
en hoe ek en die res van die gesin daarby aangepas het. Dit was baie goed dat
ek dit gedoen het, want dit was soos terapie. Vir sewe jaar het ons
elke ses maande heen en weer tussen Pretoria en Kaapstad getrek terwyl my man
parlementêre sessiediens gedoen het en dit het die skryfwerk nogal moeilik
gemaak. In daardie tyd het ek Miempie geskryf wat deur Daan Retief-uitgewers
uitgegee en vertaal is na Mimi. Miempie is 'n middelste van drie sussies en 'n
dromer. Sy is baie lief vir Tafelberg en gesels elke dag met die berg. Dit was
vir my baie lekker om dié boeke te skryf, want as ek soggens opgestaan
het, kon ek Tafelberg deur my kamervenster sien. Daarna het ek vir maklik
twee jaar navorsing gedoen oor spoke en hulle dinge voordat Die Geheim van
Groukatlaagte by Human en Rousseau die lig gesien het. Dit was die eerste
spookboek in die reeks GEDAANTES EN GERAAMTES en dit het in 1995 die ATKV-toekenning
vir die beste kinderboek in die ouderdomsgroep 10 - 12 jaar gekry. Ek
het altyd gedink 'n spook is 'n spook, maar moenie glo nie! Daar is verskillende
soorte spoke of geeste. Daar is landspoke, lugspoke en seespoke. Daar is verskynsels,
dwaalgesste, poltergeeste. Spoke het hul plek waar hulle spook. Hulle sal nie
hier spook en daar spook nie. Nee, hulle spook op een plek of op een roete. Soos
byvoorbeeld die Meisie van Uniondale wat elke skrikkeljaar met Paasfees langs
die pad staan en ryloop. Of die Vlieënde Hollander. Dis 'n spookskip en wanneer
'n matroos hom sien, sterf hy, of so glo die matrose. Ek skryf graag
oor 'n plek wat ekself besoek het. Die Geheim van Groukatlaagte speel af
in die Groot Karoo. Die Stem in die Trommel vertel van gebeure op Jongensfontein
langs die Suid-Kaapse kus. Droomkamer op Donkerhoek speel af naby Melkbosstrand.
Skaduwee op Siwet gaan oor snaakse gebeure in 'n denkbeeldige dorpie naby
die Kruger Wildtuin. In die Osirisraaisel gaan dit oor bygelowe. In Skimme
van Gister val die klem op hipnose. Die gebeure in Dwaalgees van Duiwelskantoor
vind plaas in die huidige Kaapschehoop naby Nelspruit. Die agtste spookboek: Die
Spookhuis by die See, is tans by die uitgewers en speel af op Mosselbaai.
In al die spookboeke is Wikus Jordaan die hoofkarakter en spookkenner wat saam
met sy twee maters die spoke moet hokslaan. Dan het ek ook nog 'n jeugroman,
By die Lêplek van die Leeus vir JL van Schaik-uitgewers geskryf.
Hierdie boek handel oor 'n swart meisie wat saam met 'n wit meisie aan dieselfde
universiteit studeer. Dit speel af net voor die 1994 verkiesing en daar is nogal
heelwat konfliksituasies waarin die kultuur-en godsdiensverskille duidelik na
vore tree. Dit is 'n voorgeskrewe boek vir Afrikaans Eerste Taal vir Graad sewe
aan heelwat Afrikaanse laerskole asook 'n voorgeskrewe boek vir Afrikaans Tweede
Taal vir heelwat Engelse hoërskole asook vir die hele Noordelike Provinsie.
"By die lêplek van die leeus" is 'n Zulu uitdrukking wat beteken:
nou het jy by 'n gevaarlike plek uitgekom. -
Wat het tannie aangespoor om te skryf, en veral waarom
juis vir kinders?
Soos ek netnou gesê het, my pa en ouma was bobaas storievertellers en ek
dink ek het my liefde vir stories vertel en skryf van hulle geërf. Hoekom
ek juis vir kinders skryf? Ek dink dis omdat ek baie goed met kinders oor die
weg kom en agt jaar lank vir die kleintjies skoolgehou het. En natuurlik omdat
ek drie dogters het vir wie ek stories moes vertel. -
Wat is tannie se gunstelingboek en geniet tannie die
skrywery self?
As kind was my gunstelingboek Hasie Jollieboy wat ek seker tien keer deurgelees
het. Ek kon net nooit genoeg kry van die hasie en sy vrolike geaardheid wat altyd
die boer uitoorlê het nie. Later het ek feitlik alles gelees wat voorgekom
het: Elmar Steyn, Tryna du Toit, Cor Dirks, Audrey Blignaut, Heinz Konsalik, Dalene
Mathee, Hennie Aucamp, Karel Schoeman, Andre P Brink, NP van Wyk Louw. Dis moeilik
om my gunstelingboek as volwassene te kies omdat daar so 'n verskeidenheid is
en 'n mens se bui en lus gedurig verander. Ja, ek geniet dit baie om
te skryf, alhoewel dit 'n eensame en harde werk is. Baie mense dink dis makllik
om vir kinders te skryf, maar dit is nie. Ek moet ook gedurig navorsing doen om
doodseker te maak dat die feite in my boek korrek is. -
Verwys die karakters in tannie se stories ooit na werklike
mense of kinders?
Die meeste van my karakters is 'n kombinasie van mense wat ek al ontmoet het,
of sommer net gesien en dopgehou het. Ouma Magrieta in By die Lêplek
van die Leeus is gebaseer op my eie ouma wat by ons in die huis gebly het.
Ek het baie van haar sêgoed net so gebruik soos wat ek dit onthou het.
Wat
is tannie se gunstelingkos?
Ek
hou van verskillende soorte kosse. Skaapboud met gebraaide aartappels. Indiese
kerrie en rys. Souskluitjies, pampoenkoekies, melktert en groenvye konfyt soos
my ma dit altyd gemaak het. Braaivleis soos net my man dit kan maak.
-
Van watter musiek en flieks hou tannie?
Ek
hou van verskillende soorte musiek - Mozart, Beethoven, Chopin en List. Ligte
klassieke musiek. Country en Western. Elvis en die musiek van die 50's en 60's.
Tradisionele Boere-musiek en van ons eie Afrikaanse sangers: Gé Korsten.
Anton Goosen, Koos Kombuis (veral sy Lisa se klavier en Bicycle sonder 'n slot).
Randall Wicomb se kleure en Laurika Rauch se Bloubergstrand. Ek hou meer van Steve
Hofmeyr se Engelse liedjies want dan klink hy vir my net soos Neil Diamond.
My flieksmaak? Enigiets met 'n goeie storie en goeie akteurs, soos byvoorbeeld:
Gone with the Wind. Becket. Sophie's Choice. Rain man. Dead Poet's Society.
The Sixth Sense. A Few Good Men. One flew over a cuckoo's nest. All the Presidents
Men. Ghost. The Fugitive. On Golden Pond. Exodus. Ben Hur. Lawrence of Arabia.
Ordinary People. Cent of a Woman. Magnolia
is maar net 'n paar van my
gunstelinge.
Wat is tannie se vermaak? As
ek nie kan lees of skryf nie, sal ek in die tuin werk, stap, na 'n goeie video
of fliek kyk. Dan is ek ook baie lief om na internasionale atletiek en rugbywedstryde
te kyk.
Is tannie selfbewus, sou tannie dalk tannie se lewe oor wou hê?
-
As kind was ek baie selfbewus, seker maar omdat ek maer was en van graad twee
af 'n bril moes dra. Van die seuns in my klas het my baie geterg so ook my neefs
en een oom, maar gelukkig het ek dit ontgroei. Ek is nie meer skaam omdat ek 'n
bril dra nie.
As ek my lewe oor kon hê, sou ek baie beslis al my pa
en ouma se stories opteken en hulle meer uitgevra het oor hulle kinderjare. Ek
sou ook nadat ek my onderwysdiploma verwerf het, in Afrikaans en Sielkunde, maar
veral die paranormale sielkunde wou studeer het. Nou doen ek dit maar informeel
terwyl ek navorsing vir my skryfwerk doen. -
Het tannie enige "tips" aan ander jong mense wat brand om die
pen te laat gly? Nes
'n sportman moet oefen om sy sy spiere soepel te hou sodat hy plek in een of ander
sportspan kan behaal, moet iemand wat wil skryf, oefen om te skryf. Elke dag 'n
bietjie skryf, al is dit net in jou dagboek of briewe aan jou ouers, penvriende
of vriende. Hoe meer jy skryf, hoe makliker vloei jou gedagtes. Gebruik 'n woordeboek
as jy nie weet hoe om 'n woord te spel nie. Moet nooit skaam wees om ander mense,
wat meer van 'n onderwerp weet as jy, te vra om jou te help nie. My ondervinding
was nog altyd dat die kundige mense my graag wil help en raad gee. As jy 'n idee
het, skryf dit in 'n boek neer wat jy spesiaal aanhou en merk die boek: Idees
vir Stories. Luister hoe ander mense praat sodat wanneer jy 'n dialoog skryf,
jou karakters soos regte mense klink wat praat. Daar is ook nie 'n muse wat op
jou skouer sit en jou inspireer om te skryf nie. As jy wil skryf en jy dink jy
het die talent om te skryf - begin! Wanneer jy weer 'n opstel in die klas moet
skryf, moenie dink. Uhhh
'n opstel nie. Maar sê: Jippie! Ek gaan
oefen om 'n storie te skryf! Onthou die vyf W's vir elke stukkie skryfwerk:
Wie? Waar? Wat? Waaroor? Waarom?. Jy sal baie foute maak, net soos wat
'n sportman foute maak. Elke atleet kan nie elke keer wen nie. Elke rugbybal gaan
nie oor die dwarslat seil nie, maar moenie moed verloor nie. Hou aan. Skryf en
skryf en skryf! Onthou die uitdrukking: aanhouer wen! Ek het iewers van die volgende
6 D's gelees wat elke skrywer se aansporing moet wees: "Desire, Drive, Discipline,
Determination, Dedication and no Distraction."
|  |
- Hierdie
onderhoud is in Junie 2000 gevoer deur Schabort Froneman wat 'n Gr 7 leerling
aan Laerskool Lynnwood in Pretoria is.
- Verdere
inligting oor Louise Prinsloo en haar
boeke.
|
|