|
|
| Louise
van Niekerk | Louise
Ferreira het met die skepper van die Reënboograntboeke gesels en boonop 'n
Monstermaangeheim ontdek... |
Waar
is jy gebore en waar het jy grootgeword?
Ek's gebore in Parys. Nee, nie soos in glamourous Frankryk nie - plain ou Parys
in die Vrystaat. Grootgeword? Het eintlik nooit grootgeword nie, daar's genadiglik
groot stukke kind in my. Grootmense is vir my baie boring. Kids en teens is my
scene.
Waar het jy skoolgegaan? -
My
pa het kielievoete gehad en ons het letterlik die land deurkruis. Het jy al van
'n plek soos Ulco gehoor? Ek was daar! Ook in Welkom, Bethulie, Kroonstad, Krugersdorp......
te veel om te noem.Ek was letterlik altyd die nuwe dogtertjie in die klas en my
skoolklere was altyd anders!
- Waar
en wat het jy geswot?
- UNISA.
Het nie die luukse gehad van 'n residensiële universiteit nie. Moes werk
en dan betaal vir my eie swottings. My liefde was Sielkunde en ek het vir baie
jare gewerk met kids met minimale breindusfunksies en klas gegee vir studente
van WITS en JCE. Het deurgaans geskryf vir radio, tydskrifte en T.V. (Reekse soos
Teater-Teater, Mazondi's Shop, Thingaling family, Bart Bakoor, Mini - T.V...ens.)
Miskien sal jy wat so dramaties wil wees (doktorsgraad, nogal!) ook belangstel
om te hoor dat ek 'n dramaskool het. Het baie van ons jong akteurs en aktrises
opgelei en dis heerlik om hulle op die verhoog en kassie te sien. Onthou nou skielik
dat ek ook eenbedrywe gepleeg en afgerig het. "Daar's 'n brein in die drinkwater"
en "Hello, my naam is Nina", het die ATKV toneelkompetisies gewen -
kannie meer onthou wanneer nie. Tans (lelike woord vir my en huidiglik is net
so erg!) vervaardig ek DTV (Sondae 12:00 op SABC 3). Dis vir dowes en ek het 'n
dowe span opgelei - nogal 'n challenge - om hulle eie ding te doen. Ons het tot
'n Dowe sepie, "Young and Speechles", - jy moet kyk. Baie bevredigend
om die DTV span se ontwikkeling te sien. Wat was jou vraag nou weer? Joe, as ek
eers op 'n roll is dan raak ek aanhoudend.
Is
jy getroud, en indien wel, het jy enige kinders?
- Ek
is getroud en gekerk ok en het twee seunskinders. Hulle is 20 en 23. Een swot
Sielkunde en Linguistiek en die ander een doen Regte. Is ongekwalifiseerd mal
oor hulle! Hulle is individue wat nie in hokkies geprop kan word nie. Hoera! Sê
nou ek het twee vaal, soet en vervelige seuns gehad ?
Wat is jou gunsteling kos?
- Slaai,
slaai en slaai en ek's mal oor vis.
Van watter musiek en films hou jy?
- Musieksmaak
so wyd soos die heer se genade! Oorwegend klassiek, maar met twee musieklike seuns
kan ek saampraat oor als. Wens die ou Mother Grundies wil soms net luister na
hulle kids se musiek. Ek hoor daagliks verstommende goeie musiek uit hulle krale.
Het min tyd vir fliek, verkies om te lees. Hou nie van Amerikaanse movies nie
- darem net te plastic. Neig seker maar na kunsfilms.
Wat is jou gunsteling vermaak?
- Vermaak?
Die hele lewe is vir my vermaaklik, maar ja, ek hou van die teater.
Is jy selfbewus?
- Definieer
selfbewus! Nee, ek issie. Ek is egter een van daai mense wat lyk soos 'n ekstrovert,
maar basies is ek 'n introvert - doodgelukkig met my eie geselskap. Stel wel intens
belang in mense en hou hulle graag dop.
Wat is jou gunsteling boek en geniet jy die skrywery self?
-
Moet ek net een boek kies? Sorry ek's 'n boekwurm en sal nooit net een kan kies
nie. Miskien het Durrell se Alexandrian Quartet die grootste impak (lelike
anglisisme) op my gemaak. Natuurlik geniet ek die skrywery - anders is ek defnislis
'n masochis.
Hoe het die Reënboogrant-reeks ontstaan?
- Uit
nood? Perskor het gevoel dat lesers niks het as hulle klaar ge-Saartjie en ge-Trompie
het nie.
Waar kry jy jou idees vandaan?
- I
dunno! Ek sê mos ek hou van mense. Ek luister en kyk en ek leef. Moet sê
dat my dramaklasse met my leerlinge ook baie prikkels verskaf.
Waar het jy die idees vir die karakters gekry?
-
Dis soort van maar die tipes wat mens kry, nê? Elke skool het maar 'n Dolf
en 'n Shani.
Shani is kunssinnig, Sunette is meer intellektueel. Is enige van die karakters
geskoei op jouself as kind?
-
Not really.
Vertel ons 'n bietjie meer van jou ander boeke.
- Ek
swyg oor die hygromans - jy's nog te jonk. Jy weet van Monstermaan. Daar's ook
erens 'n Diep boek vir tieners, of so iets.
Die Monstermaan-reeks word geskryf deur Louis van Niekerk. Is julle een en dieselfde
persoon?
- Ja.
Ek verloor net die "e" in my naam omdat ek dink seuns sal nie daarvan
hou as 'n stywe ou tannie hulle rillers skryf nie!
-
Wat dink jy van die huidige Harry Potter-debat?
-
Ek dink nie daaroor nie! Let's face it, sy's 'n briljante skryfster en het die
regte snare getokkel as sy die wêreld-en-sy-antie aan die lees het. Het
nog net een gelees.
Het jy enige wenke vir jong skrywers?
- Just
do it! Glo nie woeslik in die skryfkursusse en goeters wat mens kan leer skyf
nie. Kan wel waarsku dat daar niks glamourous is aan skryf nie, en ja, die cliche
van 1% inspirasie en 99% perspirasie is in die kol. Om goeie letterkunde te lees
help baie en natuurlik om te sorg dat die "linkerbrein" leerplanne van
die onderwys, nie jou kreatiewe regterbrein totaal verswelg nie!
|  |
Hierdie
onderhoud is in November 2000 gevoer deur Louise Ferreira. Louise is 12 jaar
oud en in Laerskool Durbanville en 'n getroue leser van die Reënboograntboeke.
Sy wil self eendag 'n skrywer (onder andere) wees.
|
|