|
|
| Maja
Sereda |
|
|
Maja
Sereda is die illustreerder van boeke soos Liewe land,
'n olifant!, Nuwe Kinderverseboek en Sprokies en ander
gunsteling-stories. Jaco Jacobs het bietjie met haar gesels
oor haar werk en haar idees oor kinderboekillustrasies.
|
|
Die Johannesburgse kunstenaar Maja Sereda (31) het B.A. Inligtingsontwerp
aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Sy het al 'n hele
rits boeke geïllustreer, waaronder Liewe land, 'n olifant!
(Jaco Jacobs, LAPA Uitgewers), Sprokies en ander gunsteling-stories
(Wendy Maartens, LAPA Uitgewers), Nuwe Kinderverseboek
(Tafelberg Uitgewers) en Hoekom praat grootmense so snaaks?
(Keina Swart, Protea Boekhuis). Sy het ook al twee boeke van
haar eie gepubliseer: My eerste 5 jaar - 'n babajoernaal en
My eerste woordeboek (albei deur LAPA Uitgewers uitgegee).
Haar gunstelingmedium is verf.
  
Waar het jou belangstelling in kinderboekillustrasies
begin?
My belangstelling in kinderboekillustrasies het op
universiteit begin deur een van my projekte. In my finale jaar
ek ek 'n werkstuk gedoen oor die verband tussen teks en illustrasies
soos dit deur die ontwikkeling van 'n kind beïnvloed word.
Ek het in boekwinkels na kinderboeke begin kyk en geleidelik
'n versameling begin opbou van kinderboeke wat tot my gespreek
het. Kort voor lank het ek begin droom en wens dat ek 'n kinderboekillustreerder
kon word. Dit het 'n paar jaar geneem om my veld van ontwerp
na illustrasie te verander, maar daarna het ek nooit weer teruggekyk
nie. Ek is mal oor wat ek doen!
Is daar sekere boeke/illustrasies wat
jy uit jou kindertyd kan onthou of wat 'n groot indruk op jou
gemaak het?
Ek onthou Ferdinand the Bull duidelik - ek het regtig
empatie met die karakter gehad. Die tweede boek was The grasshopper
who sang all summer, sowel as Duimelize, Moemin en die TV-program
Maya the Bee wat destyd nog met die hand geteken was. Ek was
versot op al die karakters, maar veral Maja se lui vriend (waarvan
ek nie die naam kan onthou nie).
Watter illustreerders se werk bewonder
jy?
Mense wat ek regtig bewonder en wat my inspireer,
is Shaun Tan, Delphine Durand, Rebecca Dautremer, Oliver Jeffers,
David Roberts, Lisbeth Zwerger, Sempe, Maurice Sendak, Poly
Nernatene, Pawel Pawlak, Alexis Deacon, Renata Liwska en 'n
paar ander.
Hoe werk die kreatiewe proses vir jou
vandat jy met 'n teks gaan sit totdat die eindproduk klaar is?
Wanneer ek 'n nuwe storie kry om te illustreer, lees
ek dit 'n paar maal en ek neem kennis van die aanvanklike idees
wat my gedagtes oorstroom, want dikwels gebruik ek dit vir die
finale illustrasies. Daar is niks wanderliker as wanneer 'n
skrywer volop plek laat vir my verbeelding om deur die storie
te filtreer en te vleg nie. Ek begin deur die hoofkarakters
te teken en terselfdertyd te kyk na illustrasietegnieke, want
dit help my om te besluit op 'n oorkoepelende gevoel vir die
boek. Ek hou nie daarvan om net in een medium te werk nie, want
elke storie is uniek. Sodra ek my karakters het, doen ek 'n
mock-up van die boek en besluit hoe die storie deur die boek
gaan vloei. Dis belangrik om die boek as 'n geheel te hanteer,
eerder as een illustrasie op 'n slag. Elke geïllustreerde
bladsy word beïnvloed deur wat daarvóór en
daarna kom.
Volgende doen ek die eerste stel rowwe skets wat ek
skandeer en saam met die teks binne die uitleg van die boek
plaas. So kry ek 'n duidelik idee van wat werk, wat nie werk
nie en wat verander moet word. Gewoonlik doen ek twee tot vier
stelle sketse vir die boek om dit te verfyn en die visuele narratief
te laat werk.
Sodra die sketse deur die uitgewer goedgekeur is,
begin ek die kleurwerk doen, met die hand of met 'n rekenaar.
Elke proses is anders. As ek die illustrasies verf, stuur ek
dit na die uitgewer om geskandeer of afgeneem te word vir die
finale uitleg van die boek.
Ek vermoed baie mense meen illustrasies is net 'n manier om 'n
kinderboek "mooi" of "oulik" te maak. Maar
wat dink jy is die funksie van illustrasies in 'n goeie kinderboek?
Ek dink illustrasies is 'n noodsaaklike deel van
die storievertelproses (dalk sal party skrywers van my verskil),
want hulle voeg iets tot die storie by en rek dit uit. Illustrasies
kan kinders help om met die karakters te identifiseer, hulle
help om emosies, uitdrukkings en gebare te verstaan en selfs
hul begrip van konsepte verbeter. Illustrasies is nie spieëlbeelde
van die teks nie, maar versterk die storie en skep 'n visuele
narratief wat maklik toeganklik is.
Wat gehalte betref, hoe dink jy vergelyk
ons plaaslike kinderboeke met die oorsese mark?
Ek dink ons is goed op pad in terme van illustrasiegehalte,
maar ons is egter steeds agter wanneer dit by drukgehalte kom.
Die lesersgetalle in Suid-Afrika is steeds redelik klein; nie
genoeg kinders lees boeke nie, en dit het kleiner drukoplae
tot gevolg. Dit beïnvloed die gehalte van die produksie,
want uitgewers word genoop om die goedkoper roete te kies. Dit
bring die gehalte van illustrasie-skandering, papier en drukwerk
in gedrang.
Wat is die grootste uitdagings van
die Suid-Afrikaanse kinderboekmark vir 'n illustreerder?
Klein lesersgetalle wat die hoeveelheid verkope per
boek beperk en daarom 'n klein inkomste beteken. Dit is onmoontlik
om uitsluitlik as kinderboekillustreerder te werk; 'n mens moet
ander projekte kry om die gapings te vul. Persoonlik geniet
ek die diversiteit van werk wat wissel van tydskrif- en opvoedkundige
illustrasies tot kunswerk vir kinderkamers of selfs kreatiewe
logo's.
Wat is die beste raad wat jy vir 'n
voornemende illustreerder kan gee wat in ons kinderboekmark wil
werk?
Bou 'n sterk portfolio met 'n unieke styl wat nuut
en vars is, maar nie té anders nie. 'n Portfolio moet
'n groot reikwydte en voortdurende gehaltewerk, sowel as sterk
karakterontwikkeling en goeie tekenvaardighede toon. Ek dink
die Suid-Afrikaanse mark is baie oop vir nuwe talent, so nuwe
illustreerders moenie bang wees om hul werk te vertoon nie.
Daar sal altyd kritiek wees, maar illustreerders moet dit gebruik
om hul kuns te verbeter, eerder as om daarvan weg te skram.
Werk hard, wees kreatief en geniet dit!
Dink jy illustreerders kry genoeg erkenning
vir hul werk?
Wêreldwyd, ja, beslis. Maar in Suid-Afrika dink
ek ons kan meer doen. Vir my gaan erkenning nie daaroor om pryse
te wen nie (hoewel dit regtig lekker is), maar eerder om deel
te neem aan illustrasie-uitstallings en selfs meer sigbaar vir
die publiek te wees. Ek dink Suid-Afrikaanse illustreerders
moet beter bemark word in boekwinkels, ons moet ons talent en
ons unieke stories vier. Daar is niks vervullender nie as om
te sien hoe 'n kind en/of ouer regtig ons boeke waardeer en
geniet.
As jy die kans kan kry om enige boek
of storie te illustreer, wat sal dit wees?
Daar is 'n wêreld van boeke wat ek nog wil illustreer!
Dit is moeilik om een te kies, maar ek sal mal wees daaroor
om Duimelize van Hans Christian Anderson - my interpretasie
van die storie - te illustreer.
|  |
|
Onderhoud met
Jaco Jacobs, Oktober 2010.
|
|