Wat
was die vonk wat jou laat begin skryf het?
Die 'vonk'
wat my laat skryf is 'n goeie storie-idee. En dan is dit soos 'n vreeslike lus
wat my beetpak om binne in daardie storie te gaan kuier. Soos my onlangse boek,
Die Avonture van Magrietjie Swaaiboude, my in die lewe van die karakters
ingetrek het.
Hoekom het jy spesifiek
gekies om jou toe te lê op kinder- en jeugboeke?
Ek
het nie regtig gekies om kinder- en jeugboeke te skryf nie. Dit het maar net so
gebeur. Ek skryf ook ander stories. Maar, kinderboeke lê my na aan die hart.
Jy
kan jou veral in die wêreld van dierekarakters besonders inleef. Hoekom
is dit vir jou belangrik om oor dierekarakters te skryf?
Dierekarakters
vind byval by alle kinders. Jy het nie nodig om polities korrek te wees nie. Muise
is muise en honde is honde. Dis net soveel makliker.
Dink
jy die feit dat jy as kind toegelaat is om jou verbeelding vryelik uit te leef,
en dat daar vir jou voorgelees is as jong kind, het n rol gespeel in jou latere
skryfwerk?
Ek het behoorlik stories met my pap ingekry.
By die etenstafel soggens, middae en saans voor slaaptyd het my ma vir ons stories
vertel. Sy het ook baie stories vir ons gelees. En ek dink dat al die wonderlike
stories wat ons gehoor het, het ons beslis gehelp om vandag kreatief te dink.
Ons het altyd planne gemaak. Ons eie speletjies uitgedink. Ons het toe ek twaalf
jaar oud was ons eerste verhaal uitgewerk en op 'n bandmasjien opgeneem, met byklanke!
Ons het die bure se seuns oorgenooi en ons eie radioverhaal gemaak.
Wat
het jy as tienjarige gelees?
Ek het in Namibië
grootgeword en was nie regtig blootgestel aan Afrikaanse boeke nie. Swakopmund
was in daardie dae 'n 'baie' duitse dorp en die enigste regte Afrikaanse boeke
wat ek geken het, is die boeke wat ons elke jaar as boekpryse vir Afrikaans gekry
het. Ek het nie grootgeword met die Saartjies en Maasdorpboeke nie. Het dit glad
nie geken nie. In my tienerjare het ek natuurlik Duitse tienertydskrifte gelees.
Maar daar was nog steeds die fotoverhale wat daardie tyd volop was. Ek het dit
verslind.
Wat dink jy laat vandag
se jong lesers tiek?
Wat vandag se jong lesers laat
'tiek' dink ek is stories wat hulle wegvoer van die alledaagse roetines. Kinders
hou ook van interessante karakters. Hulle hou ook van 'n storie met hoofstukke
waarin hulle hul kan verloor. Kinders het al vir my gesê dat my boeke so
lekker is, hulle wens dit was nog dikker. Kinders hou van fantasie, maar nie noodwendig
'n vertaalde oorsese fantasie nie. Miskien eerder 'n Afrika fantasie vir alle
kinders - nie vertellings nie. Ek vind dat vertellings partykeer by die een oor
ingaan en die ander oor uit. Wanneer 'n karakter 'n stem kry, dis dan wanneer
kinders die karakter onthou en meer wil lees.
Die
avonture van Magrietjie Swaaiboude het pas verskyn. Wat is die storie agter
dié unieke verhaal?
Die Avonture van Magrietjie
Swaaiboude, is 'n boek wat my baie na aan die hart lê. My niggie, Alida
Meyer van George het my eendag gebel en vertel van die gestremde man, Phillip
Kotze wat met sy hond, 'n labrador, Magrietjie Swaaiboude en 'n koketiel wat op
die hond se kop sit, in 'n fiets met 'n sykar deur George se strate ry. Sy het
my toe vertel van die driemanskap se lewe en ek het toe besluit om hulle te gaan
ontmoet. Toe kom ek op 'n baie ineressante storie af, vergroot die karakters so
'n bietjie en daar is die storie. Maar ek moes intensief gaan navorsing doen want
die menskarakters in die boek bestaan werklik in George. Wat my eintlik gemotiveer
het om die storie te skryf is Phillip Kotze wat jare gelede deur boewe aangeval
is en vir dood agtergelaat is. Hy was vir maande bewusteloos. Hy is 'n hemipleeg
maar tog het hy nie gaan lê nie. Hy is 'n entrepeneur. Hy adverteer die
besighede wat vir hom borg op sy fiets en maak so 'n goeie lewe vir homself en
sy dierevriende.
Waar kry jy jou
storiemateriaal en karakters vandaan?
Storiemateriaal
kom op die snaakste maniere. 'n Foto, 'n artikel, partykeer is dit net iets wat
gebeur het. Die Stoutsterte het gekom in die jaar van die Kaap se 350ste bestaansjaar.
Ek het net gedink ek moet vir die kinders die storie van Jan van Riebeeck vertel.
In die skole word dit nie meer so goed vertel nie. Mark Shuttleworth het ons baie
trots gemaak met sy reis na die IRS, maar die wonderlike gebeurtenis verstaan
kinders glad nie. Want hulle lees nie koerante nie en verstaan nie die nuus op
TV nie. Dis hoekom ek hulle toe saam met die muise genooi het om dit wat Mark
ervaar het aan hulle te verduidelik.
Wat
dink jy moet in SA gebeur om kinders en tieners meer te laat lees, en meer Afrikaans
te laat lees?
Ek dink dis baie belangrik dat onderwysers
begin lees. En ek sê dit nie om snaaks te wees nie. My ondervinding is dat
baie onderwysers wat Afrikaans as 'n vak gee op skool, laerskole, nie weet van
die boeke wat in Afrikaans beskikbaar is nie. Baie van die onderwysers moedig
die kinders glad nie aan om te lees nie. Hulle stel hoegenaamd nie belang nie.
As die onderwysers nie belangstel nie, hoekom sal die kinders dan? Ouers sal ook
moet besef dat hulle nie kan verwag dat hulle kinders moet presteer as hulle nie
kan lees nie.
Wat is jou grootste
skryfgeheim?
My grootste skryfgeheim is dit: Jy moet
baie seker wees oor die storie wat jy wil skryf. Jy moet passievol in die lewens
van jou karakters wil inklim - nie vinnig en halfhartig nie. 'n Storie word ook
nie oornag uitgedink nie. Dis 'n proses van verkenning en inleef. Jy moet daardie
karakters so goed ken asof hulle enige oomblik by jou studeerkamer kan instap
en met jou praat. Jy moet ook die emosies van jou karakters verstaan. Daarom moet
jy baie seker wees of jy 'n spesieke storie wil skryf want jy gaan lank met hom
moet saamleef op papier en in jou gedagtes.