Wat was die naam van jou laerskool?
Swakopmund Laerskool, Namibië
Hoeveel leerders was daar in die skool?
Ongeveer 400
Wat was vir jou lekker van jou skooldae?
Dit was 'n skool by die see. Ons het pouses op die
strand gespeel. Ons het baie lekker onderwysers gehad, die meeste
van Duitsland.
Jou boeke gaan almal oor diere. Het
jy self troeteldiere?
Nee, ek het nie self diere nie omdat ek so baie reis
en 'n dier nie die onreg sal kan aandoen om hom gedurig by ander
mense te los nie. Ek is baie lief vir diere. Maar die rede hoekom
ek oor diere skryf is oor die eenvoudige feit dat alle kinders
met diere kan identifiseer. En ek geniet ook om so meer oor
diere te leer.
Het jy 'n stokperdjie?
Ek hou van lees, oor die wêreld reis, Celtiese
musiek en goeie films. Skryf is my werk en stokperdjie.
Is jy tans besig met 'n nuwe boek?
Ja, ek is besig met 'n wetenskapfiksie storie wat
in 'n koshuis afspeel. Graad 7's sal dit veral geniet.
Watter tipe boeke lees jy graag?
Ek hou van kinderboeke. Skrywers wat ek graag lees
is Neil Gaiman, Cornelia Funke, Phillip Pullman, Lemoney Snicket,
R.L. Stine, en Derek Landy. Volwasse boeke hou ek van Kathy
Reichs [misdaad] en verskeie ander.
Wat is vir jou die lekkerste ding van
skryf?
Die uitwerk van die plotlyn en om te sien hoe my karakters
begin lewe kry op papier.
Het jy al ooit 'n karakter in 'n boek
op jou eie persoonlikheid gebaseer? Indien wel, wie?
Nee, ek dink nie skrywers doen dit nie, behalwe as
dit outobiografies is. Ek is nog nie daar om 'n biografie oor
myself te skryf nie.
Hoe lank neem dit jou om navorsing vir
'n boek te doen?
Dit hang af van hoeveel navorsing die boek benodig
en hoe moeilik of maklik dit is om dit in die hande te kry.
Markus Stermuis het 6 maande geneem om alles te kry en korrekte
feitelike inligting bymekaar te maak. Magrietjie Swaaiboude
het my die minste tyd geneem, ongeveer 'n maand.
Hoekom is dit so belangerik om navorsing
vir jou boeke te doen?
Jy kan nie dinge waarvan jy nie weet nie uit jou duim
suig nie. Jy mag nie vir kinders jok nie. Dis hoekom. Maar dit
maak ook jou storie geloofwaardig, al is dit fiksie.
Het jy al ooit 'n storie geskryf en
dan nie geweet hoe om verder te gaan nie?
Nee, nog nooit nie. As jy eers beplan en plot behoort
jy nie 'writer's block' te kry nie.
Hoekom dink jy geniet kinders jou boeke?
Ek is altyd bly om te hoor dat kinders van my boeke hou.
Ek dink hulle hou daarvan omdat dit oor diere gaan, maar ook
omdat dit humoristies is. Onderwysers hou daarvan omdat daar
baie feite in is.
Hoekom dink jy geniet en lees tieners
jou stories?
Ek dink hulle lees dit omdat hulle daarmee kan identifiseer.
Ek hoop hulle sal my nuwe boek ook geniet wat in Oktober verskyn.
Het jy dit geniet om saam met drie sussies
groot te word?
Ja, ons verskil baie. Ek is die oudste, maar deesdae
skryf ons almal - net baie verskillend.
Hoe het die omgewing waar jy grootgeword
het 'n invloed op jou skryfstyl gehad?
Dit het 'n groot uitwerking op my skryfstyl omdat
ek in 'n vryer tyd grootgeword het en in 'n ongelooflike omgewing
met die woestyn aan die een kant en die see aan die ander. Vandag
se kinders woon in stede, in woonstelle en hulle kan hulself
nie uitleef nie. Ek het baie gespeel en dinge 'ontwerp' soos
byvoorbeeld hakskoene van karton en my ma se garetolle en dan
het die hoenderhok die hotel geword nadat die hoenders uitgejaag
is.
Wanneer het jy jou passie vir skryf
ontdek?
Terwyl ek agter proefbuise in 'n laboratorium gesit
en wag het vir die wekker om af te gaan, het ek gesit en droom
oor allerhande dinge en dit begin neerskryf. Ek het toe ook
amateurtoneel gespeel en kamptige radioverhale geskryf wat natuurlik
nooit die lug gehaal het nie maar deur my en my vriende op ban
opgeneem is.
Wat inspireer jou?
Kinders wat van my stories hou. Interessante gebeure
en die lekker van skryf. Skryf is soos skilder - om met woorde
te skilder.
Wat was jou geliefkoosde boek om te
skryf en hoekom?
Markus Stermuis op die Sojoes . . . ek het net soveel
geleer oor die sterre, planete en allerhande hemelliggame wat
ek nooit geweet het nie. Omdat die storie gaan oor ons eerste
ruimtevaarder was dit ook soveel meer spesiaal vir my. Baie
dinge het gebeur rondom die skryf van die boek - die Kaasmaan
van Jupiter is ontdek en ook die Paddavissterrestelsel.
Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy is
die naaswenner en wenner in 1994 en 1999 vir die boeke "Poppie-Dot
by die Grootrivier" en "Die mieliestronkpop" ?
n Mens verwag nooit sulke dinge nie. Dit gebeur net.
Ja, dit was 'n groot verrassing. Maar die grootste vir my was
die White Raven toekenning in Italië vir The Mealie-Cob
Doll, en Heroe of the Hills wat verfilm is en Heroes
of the Coal Yard, wat gemaak het dat ek Suid-Afrika in Ysland
verteenwoordig het by die Nordiese Kinderboekberaad.
Het jy dit geniet om vir die kinderprogram
"Siembamba" so baie stories te kon skryf?
Ja, dis waar ek eintlik begin skryf het. Poppie-Dot
van die Kaap was eers 'n radio-storie vir Siembamba.
Wat is die een ding wat jy nog in die
lewe wil doen?
Ek wil graag op die Queen Mary luukse skip om Engeland
vaar en met een van Indië se Royal Trains ry. Maar ek wil
ook baie graag my groot wêreldtreffers [7 boeke] in Engeland
gaan skryf en daar uitgee. Dit sal gelykstaande wees aan die
fantasieverhale wat julle in Engels lees.
Leef jy jou lewensdroom?
O ja, definitief. Ek geniet elke oomblik. Ek is my
eie baas en werk oggende, middae of aande. Ek stel vir my elke
jaar nuwe doele wat ek probeer om te haal en dis lekker. Ek
hoop om dit vir baie jare nog te doen.
Wat kan laerskool leerders doen om stories
te begin skryf?
Hulle kan 'n kort kursus by my doen. Ek bied 'n oggend
kursus vanaf 8:30 - 1:00 by die skool aan wat leerders sal help
met hulle algemene verstaan van stories, geskiedenis ens. Maar
ook hoe 'n storie werk, al die aspekte en hoe om hulle eie stories
te skryf. Die kursus kan deur die skool gereël word met
my.
Wat is jou gunsteling:
kleur: swart
fliek: Notting Hill, Jumanji, Amadeus, ens. Daar is baie. .
.
plek: Swakopmund [Namibië], Llangollan [Wallis, Engeland]
kar: Aston Martin
dier: Tier
kos: Kreef
boek: Wetenskapboeke deur Zacharia Sitchen