Marita
van der Vyver is een van die suksesvolste skrywers in Afrikaans. Haar boek
Griet skryf 'n sprokie wat in 1992 verskyn het, is vertaal in Engels, Nederlands,
Frans, Duits, Italiaans, Spaans, Sweeds en selfs Chinees. Haar ander boeke
Die dinge van 'n kind, Wegkomkans en Griet kom weer was ook blitsverkopers.
Min mense weet egter dat sy haar skryfloopbaan as tienerromanskrywer begin het.
Haar boek Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom het pas die goue medalje
in die Afrikaanse afdeling van die Sanlamprys vir Jeuglektuur verower. Jy
is veral bekend vir jou volwasse romans soos Griet skryf 'n sprokie en Die dinge
van 'n kind, en tog het jy jou skryfloopbaan begin met tienerboeke soos Van
jou jas (1982), Tien vir 'n vriend (1987) en Eenkantkind (1991).
Hoekom het daar so 'n lang ruk verby gegaan voordat jy nou weer 'n tienerroman
geskryf het?
Ek
het nog nooit 'n erg beplande lewe gelei nie. Ek sê mos altyd die lewe is
wat gebeur terwyl jy ander planne maak. Eers as ek terugkyk, kan ek (soms) 'n
soort patroon uitmaak. Toe die nuwe boek nou die dag uitgegee is, het ek vir die
eerste keer besef dat ek presies twintig jaar gelede my eerste boek gepubliseer
het, presies tien jaar lank jeugromans geskryf het en daarna presies tien jaar
lank volwasse romans geskryf het. Wie weet wat nou gaan gebeur? Ek het so 'n voorgevoel
die volgende tien jaar gaan my gemengde dekade wees, want ek het reeds weer begin
werk aan 'n volwasse roman, en ek is besig met nogal ernstige volwasse kortverhale,
en ek het klaar weer 'n idee vir 'n volgende jeugboek, en ek sit met 'n laai vol
humoristiese essays oor my soms absurde lewe in Frankryk
-
Jou boek Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom het pas die Sanlamprys
vir Jeuglektuur gewen. Wie is Hanna Hoekom, watter ongelooflike avonture beleef
sy en waar kom die idee vir die karakter vandaan?
Hanna is 'n tiener wat van kleins af te veel vrae gevra het, daarom het haar mense
haar Hanna Hoekom begin noem. Sy lewe nou in 'n taamlik eksentrieke laslapgesin
(ma is 'n skilder wat verfkwaste in haar hare druk, pa is 'n gay klereontwerper
wat sy omtrent nooit sien nie, stiefpa is 'n akteur wat sukkel om werk te kry,
en dan is daar nog twee stiefbroers en 'n half-broer wat 'n proefbuisbaba was)
en haar grootste begeerte is om 'n 'normale' kerngesin te hê. Soos in 'n
ma wat koekies bak en 'n pa wat 'n aktetas plaas van 'n handsak dra. Daarom maak
sy vir haar 'n lewe op in haar (besonder vrugbare) verbeeldingswêreld en
skep 'n 'alter ego' met 'n eksotiese naam soos Fabienne wat allerlei fantastiese
avonture meemaak. Die idee kom seker maar uit die feit dat ek self deesdae
in 'n laslapgesin lewe - darem nie heeltemal so eksentriek soos Hanna s'n nie!
- en dat ek begin wonder het hoe dit voel om 'n kind in so 'n gesin te wees. Dalk
is die hele storie net 'n poging om my kinders en stiefkinders beter te verstaan!
Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom gaan deels oor die krag van stories.
Wat beteken stories en stories vertel vir jou? -
Ja, binne die hoofstorie van Hanna en haar weird gesin is daar al die stories
wat Hanna oor Fabienne skryf - 'n riller, 'n speurverhaal, 'n kortverhaal, selfs
'n gedig, en nog vele meer. Die beoordelaars van die Sanlamprys het dit as 'n
post-modernistiese strekking beskryf, maar eintlik is die ding van stories binne
'n storie mos maar so oud soos die oudste stories wat ons ken. Dink maar aan Die
duisend-en-een nagte waarin Sjeherazade aanhoudend moet stories vertel om
nie doodgemaak te word deur haar koninklike bruidegom nie.
En dit som ook
sommer op wat stories vir my beteken. Dis letterlik en figuurlik 'n manier om
die dood te oorwin. Om sin te probeer maak van alles wat ons hier op aarde belewe.
Met die klem op lewe.
Jy
bly deesdae permanent in Frankryk. Wat is die lekkerste en die slegste daarvan
om nie meer in Suid-Afrika te bly nie? -
Lekkerste is (seker heel voorspelbaar) om nie snags my huis te sluit nie, om my
fiets weke lank buite te los sonder vrees dat dit gesteel sal word, dié
soort van ding. Jy weet waarvan ek praat, jy moes dit al gehoor het by ander Suid-Afrikaners
wat in die buiteland woon! Slegste bly die gemis aan mense, familie en vriende,
vir wie ek lief is. Om tot laatnag om 'n tafel te sit en in Afrikaans te kuier.
Met dié dat jy oorsee bly, kry jy seker heelwat meer blootstelling aan
die wêreldletterkunde. Hoe vergelyk oorsese boeke vir jongmense met Afrikaanse
tienerromans? -
As jy my twintig jaar gelede dié vraag gevra het, sou ek gesê het
Afrikaanse tienerromans is nie eens op die kaart nie, daar's só min daarvan
en hulle is só ver agter wat onderwerpe en leesgenot en skryfgehalte betref.
Dis hoekom ek begin het om tienerromans te skryf. Omdat ek gedog het daar's 'n
gaping wat gevul moet word, en as niemand anders dit doen nie, kan ek seker maar
probeer. Deesdae is hierdie gaping grotendeels gevul. Ek dink ons kan nogal trots
wees op wat die afgelope twee dekades met tienerromans gebeur het.
Hoe oud was jy toe jy die eerste keer begin skryf het, en wie was jou inspirasie? Ek
skryf stories van ek geleer het om 'n pen vas te hou en letters te vorm. Soos
iemand slimmer as ek gesê het, it's not a gift, it's a burden. Dis of ek
hierdie vrag woorde in my ronddra, en die enigste manier om die vrag ligter te
maak, is om te skryf.
Het jy enige vreemde gewoontes of bygelowe as jy skryf? Nee
wat, skryf is nie vir my 'n mistieke ervaring nie, dis doodgewoon verskriklike
harde werk. Ek swoeg so om elke punt en komma op presies die regte plek te plaas
dat daar nie nog energie oorbly vir bygelowigheid nie.
-
Daar word deesdae baie in die media geskryf oor die hedendaagse jong Afrikaanssprekende
Suid-Afrikaner. Hoe sien jy hierdie spesie? Hoe verskil vandag se jongmense van
jouself toe jy 16 of 17 was?
Daar is natuurlik die obvious verskille, soos dat hulle/julle in 'n veel vryer
samelewing grootword, met byvoorbeeld tydgenote van alle rasse in dieselfde skool,
en dat die land baie minder afgesluit is van die buitewêreld. Maar die emosiewêreld
van tieners is universeel en op 'n manier ook tydloos. Anders sou ek my nie aangematig
het om steeds vir tieners te probeer skryf nie!
Wat is na jou mening die beste tienerroman in Afrikaans of watter Afrikaanse
jeugboekskrywers bewonder jy?
Laat ek die vraag op 'n ander manier probeer beantwoord. 'n Goeie jeugboek moet
ook deur ouer mense waardeer kan word. Dink aan Catcher in the Rye of The
Heart is a Lonely Hunter. Is hulle jeugboeke of is hulle volwasse boeke? Maak
dit saak? Ons het nog nie genoeg van sulke boeke in Afrikaans nie. Seker ook nie
in ander tale nie.
Met Griet skryf 'n sprokie het jy bekend geword as iemand wat nie skroom
om "taboe" onderwerpe kaalvuis aan te pak nie. Die Afrikaanse jeugroman
het die afgelope paar jaar baie meer toeganklik geword en takel meer "gewaagde"
onderwerpe. Dink jy daar is nog onderwerpe in Afrikaanse jeuglektuur waaroor geswyg
word en wat verdien om oor geskryf te word?
- Eintlik dink
ek dit het tyd geword dat Afrikaanse jeugboeke bietjie wegkom van 'onderwerpe'
of issues of boodskappe en net 'n slag 'n storie vertel. Eintlik glo ek die verbeelding
is magtiger as enige onderwerp.
- Die
onderwerp vir hierdie jaar se Sanlamprys vir Jeuglektuur was "'n Verhaal
wat die leser positief stem". Hoekom dink jy is Die ongelooflike avonture
van Hanna Hoekom so 'n boek?
-
Wel, dit was nou vir jou 'n lekker vae 'onderwerp', seker dié dat dit my
aangetrek het! Dis 'n boek wat gaan oor familie en oor verbeelding. Ons kan nie
ons familie kies nie, maar verbeelding kan ons help om hulle te verdra. En ons
het almal verbeelding gekry, nie waar nie? (Marita
van der Vyver woon sedert Januarie 1999 permanent in Provence, Frankryk, saam
met haar Franse man, Alain, hulle dogter, Mia, haar seun, Daniel, en Alain se
twee seuns, Thomas en Hugo.)
|