Vertel
my meer van jouself?
Ek is in Klerksdorp gebore en getoë.
In 1981 het ek 'n BA Kommunikasiekunde-graad aan die voormalige
Potchefstroomse Universiteit vir CHO behaal.
Deur die jare het ek vir verskeie publikasies
as joernalis gewerk en talle artikels en berigte gepubliseer.
In 1994 het ek begin fiksie skryf. Ek het tot dusver ongeveer
67 kortverhale in verskeie vrouetydskrifte en kortverhaalbundels
gepubliseer.
Ek is 'n korporatiewe skrywer by die Korporatiewe
Sake en Verhoudinge Departement van die Universiteit se Institusionele
Kantoor. My man is tans 'n dosent by die Fakulteit Opvoedkunde
op die Universiteit se Potchefstroomkampus. My twee seuns werk
reeds.
Ek het vir 'n aantal jare as groepleier opgetree
by die ATKV se Herfs-Skryfskool op die Potchefstroomkampus van
die Noordwes-Universiteit.
Waarom skryf jy?
Omdat dit vir my lekker is en omdat stories en karakters
soms aan my deur kom klop en vra om geskryf te word.
Vertel meer oor jou publikasies?
Kortverhaal opgeneem in 'Vuur', 'n bundel met
kortverhale oor die Anglo-Boereoorlog; (1999)
Kortverhale en 'n gedig opgeneem in Contentlot.com
se publikasie, 'e-rupsie' (2001)
My eerste liefdesverhaal, 'Die liefde van 'n
leeftyd', verskyn by Camelia Uitgewers aan die begin van 2003.
My tweede liefdesroman, 'Liefdesvlug', verskyn in Julie 2003
by Lapa. In 2005 verskyn my derde liefdesverhaal, 'Die Ier se
ultimatum' by Lapa (Romanza-reeks)
My eerste kinderboek, Alicia en die Zitzappers,
het in 2007 by Human & Rousseau verskyn.
'n Tweede kinderboek, Die seun met die blou
hare, is kort daarna, ook in 2007, deur Lapa uitgegee.
Daarna is nog 'n kinderboek, Dieter en Madame Zenobia deur
Human en Rousseau uitgegee en my eerste jeugverhaal, Pandora
se boks, deur Tafelberg.



Hoe weet jy waarvan kinders
hou en hul interesseer?
Ek het kinders nog altyd gerespekteer
- hulle is ten volle mens in eie reg. Hulle spontaniëteit
en ongeskunsteldheid fassineer my. Ek dink ook dit gaan daarom
dat 'n skrywer hom/haar heeltemal in die karakter se skoene moet
kan indink - ongeag of die karakter tien of tagtig jaar oud is.
Hoe kry jy jou karakters en
hoe bou jy hulle uit?
Ds asof hulle reeds 'iewers' bestaan
en ons as skrywers hulle net moet raak 'sien' en 'hoor'. Ek weet
'n karakter behoort te ontwikkel en te groei en probleme op te
los, maar meestal gebeur dit half sonder dat ek dit beplan. Ek
dink 'n mens se storielyn moet so wees dat dit inherent die moontlikheid
het dat die karakters kan groei deur dit wat hulle doen of ervaar.
Hoe het jy aan 'n karakter
soos byvoorbeeld Luna gekom?
E het van Luna gedroom - eintlik die
titel van die verhaal, hoewel dit "Die seun wat pampoen vir
ontbyt eet" was. Omdat dit te lank was vir 'n titel, het
ek maar net mooi geluister wat dié seun alles doen en hoe
hy lyk, ens. Toe sien ek hy het al die tyd blou hare.
Waar kry jy jou stories
vandaan?
Soos ek verduidelik het, dis asof stories en
karakters reeds bestaan, ons moet dit net in ons gedagtes 'optel'.
Maar partykeer help koerantberigte, tydskrifartikels, iets wat
iemand sê, 'n persoon wat jy raaksien of iets wat jy hoor
om hierdie stories en karakters raak te sien en te hoor.
Wat is volgende?
Later in 2010 gaan 'n kleuterboek (my eerste!) by Human
en Rousseau verskyn. Intussen werk ek aan 'n boek vir grootmense.