Wat
het jy gelees as kind en hoe het dit jou beïnvloed?
Ek
het alles gelees - my ma het nooit boeke van my af weggehou nie. Ons was baie
arm, maar het baie boeke gehad. Ek het op laerskool al Eugene Marais en Breytenbach
gelees. Eintlik het ek enige iets gelees waarop ek my hande kon lê! Nie
net kinderlektuur nie. Ek het ook ensiklopidieë gelees.
Wat
lê op die oomblik langs jou bed?
Warrior
Queens van Antonia Fraser; The virgin lovers (Philippa Gregory); Pushkin's
button (oor die dood van die bekende Russiese skrywer); Agaat van Marlene
van Niekerk; die FAK Volksangbundel en Geniusses Together.
Jy
is 'n skrywer wat dit regkry om in 'n verskeidenheid van genres suksesvol te skryf.
Hoe doen jy dit?
Mens kry twee soorte skrywers -
dié wat net in een genre skryf, en dit dan ook baie goed doen. En dié
wat in verskillende genres kan skryf, soos George Weideman. Ek sien myself as
'n vakman: ek gebruik die taal op verskillende maniere. Die taal is nie net 'n
beiteltjie nie, maar ook saag, hamer en vurk. Ek pas die taal toe op die genre
waarin ek werk. Verskillende tye in my lewe vra vir verskillende genres. Byvoorbeeld
'n tyd van liefde, vra om uitgedruk te word in poësie; toe ek gereis het,
het ek rubrieke geskryf. En nou is dit tyd vir kinderboeke . . .
Waar
kom jou stories/inspirasie vandaan?
Ek kan nie presies
sê nie. Ek dink as mens in 'n sekere "tema" in jou lewe is, gaan
sekere sintuie oop vir spesifieke woorde of frases. As ek byvoorbeeld in 'n tyd
van kortverhale is, gaan my sintuie meer oop vir gebeure, en as ek poësie
skryf, vir woorde, beelde of frases.
Uit
jou werk lyk dit of die omgewing ('plek') nogal 'n groot invloed het op jou belewing.
Plek/ruimte vind oral neerslag in jou rubrieke en verhale. Is dit so? Skryf jy
oor 'n plek terwyl jy daar is of eers later as jy terugdink en assosiasies daaraan
heg?
Ja, dit is so. Ek kan oral skryf, selfs in die
vliegtuig. Dis 'n dissipline wat mens maar oor jare aanleer. Toe ek Die avonture
van Wilde Willemietjie geskryf het, was ek byvoorbeeld in die Kalahari, en
het gemsbokke en so gesien. Ek het daar in die spesifieke ruimte daaroor geskryf.
Jy
skryf ook dikwels oor vroue en hulle lewens. Hoekom?
Vroue
is vir my ongelooflik belangrik. Vroue en koeie en kinders. Veral as 'n kind op
'n sekere ouderdom is, waar hy nog fantaseer. Daai ouderdom waar 'n klip nog met
jou kan praat . . .
Hoe ontstaan
jou karakters?
Om 'n roman te skryf is vir my baie
moeilik; om in die karakters se koppe te klim. Ek hou daarvan om onpersoonlik
te skryf - nie in 'n spesifieke persona nie. My jeugverhaal, Blinde Sambok,
was anders, omdat dit outobiografies is - of in 'n groot mate. My pa is dood toe
ek klein was, maar hy is nie deur die weer doodgeslaan nie, dit was 'n treinongeluk.
Die doopname is ook waarheid, en die plaas in Zululand waar ek grootgeword het.
Ek het dus die storiegegewe baie goed geken.
Wat
is die waarde van reis vir jou as skrywer? Watter invloed het jou reise in jou
lewe gehad?
Ek is 'n Sagitarius - hulle wil altyd
reis. Reis is vir my avontuur. Konfrontasie met die vreemde - mens word gedwing
om nuut te kyk. Jy verlang ook terug huis toe; daardie nostalgie is vir my belangrik.
Hoe
skryf jy - gedissiplineerd of as die "muse" jou pak?
In
my rubrieke het ek geleer om gedissiplineerd te skryf. Ek glo daar is nie 'n wonderliker
muse as roetine vir die skrywer nie. Ek kan op kort kennisgewing aan projekte
werk. Ek is nie oor die algemeen 'n gedissiplineerde skrywer nie, maar as ek 'n
skryfprojek het kan ek vir 'n tyd lank baie hard en toegewyd werk.
Jy
het verlede jaar 'n interessante projek aangepak deur plaasstories van oor die
hele land te versamel en te keur vir 'n bundel wat eersdaags verskyn. Vertel 'n
bietjie van die ervaring?
Ons wynlandgoed, De Compagnie,
was verlede jaar 300 jaar oud. My man het toe die idee gehad dat ons "iets
literêrs" moet doen om dit te vier. Ons het 'n kompetisie uitgeskryf
waaraan enige iemand kon deelneem. Enige plaasstorie kon ingestuur word. Ek het
die projek van begin tot einde self gedoen. Ons het uiteindelik meer as 400 stories
gekry! Wonderlike stories van gewone mense en bekroonde skrywers, stories wat
van die verste uithoeke van Suid-Afrika af gekom het. Dit was so 'n wonderlike
projek omdat die begrip "plaas" so evokatief is. Ons het stories gekry
van "my ouma se koolstoof" tot plaasmoorde en verkragtings. Die stories
dek die hele spektrum van menswees.
Die
avonture van Wilde Willemietjie is jou eerste kinderboek. Vertel 'n bietjie
van die ervaring? Hoe het die storie ontstaan?
Ek
(en my seuns) het ontsettend baie vreugde geput uit Die wonderbaarlike motor
van Barnabas Bombas. Dis so sjarmant en outyds . . . en die fantasie in die
poësie is wonderlik. Dis iets wat baie belangrik is vir jong kinders; metrum,
rym, ritme. Willemien is my ouma se naam, maar sy is ook 'n kind. Dis my tweede
naam. My oupa het my altyd "wilde Willemietjie" genoem". Die groen
tema, die ekologie, is natuurlik ook iets wat op die oomblik vir my baie belangrik
is.
Wie is Wilde Willemientjie?
Hoe naby aan jou is sy?
Wel. as ek 'n baba was, sou
ek Wilde Willemientjie wou wees! Sy is hierdie wonderlike baba wat eenvoudig alles
kan doen . . . my seuns was ook mal oor "Mamma en die wilde baba". Sulke
stories het net iets.
Wat was vir
jou uitdagings in die skryfproses?
Die rym! Dis baie
moeilik om in Afrikaans te rym. Afrikaans is 'n rym-arm taal.
En
wat het jy geniet? Wat werk lekker?
Die avontuur
en die fantasie. Willemietjie kan ALLES doen - sy is hierdie allamagtige baba
. . .
Vir wie is Wilde Willemientjie
geskryf? Wie was die leser in jou kop?
Ek het eendag
twee ou tannies gesien, besig om Barnabas Bombas te lees. Hulle wou hulle doodlag
en het vir mekaar die storie voorgelees en gelag. Wilde Willemiejtie is vir daai
twee 80-jarige tannies gesryf. Vir kinders van enige ouderdom!
Die
avonture van Wilde Willemientjie word vanjaar by KKNK bekendgestel, en daar sal
ook 'n vertoning wees "ter ere van" die boek. Wat behels dit?
Die
teks is musikaal verwerk, so daar gaan liedjies gesing word, en dis 'n lekker
interaktiewe produksie waar die kinders betrek word met speletjies en liedjies
ensovoorts. Die cast is almal jong bekroonde akteurs. Ek is baie opgewonde
om te sien wat hulle gedoen het!
Deel
'n skryfgeheim met voornemende skrywers.
Daar
is niks romanties of glamorous aan skryf nie. Skryf is baie harde werk!