|
|
| Riana
Scheepers en Suzette Kotze |
 |
Riana
Scheepers en Suzette Kotze is die samestellers van die Nuwe
Kinderverseboek. Marisa Beeton het hulle 'n klompie vrae gevra.
|
 |
|
Hoe het die idee vir die boek ontstaan?
Riana: Ja, dit was 'n vreemde, unieke en toevallige sameloop
van omstandighede. (Ek glo nie dit is so toevallig nie, die
algehele Afrikaanse letterkunde was ryp, en het gewag vir
hierdie boek!)
So het dit gebeur: Niël Rademan, sanger/ regisseur, het
op 'n dag vir my gevra of ek nie vir hom 'n paar kinderverse
kan aanbeveel wat hy moontlik kan toonset nie. En hy wou moderne
verse hê - nie dié wat al eeue met ons saamkom
nie. Ek het gaan kyk na die "Bybel" van kinderverse
in Afrikaans, Opperman se Kleuterverseboek - en met die oopslaan
van die boek by die kolofonbladsy toevallig opgelet wanneer
dié boek die eerste keer verskyn het: in 1957.
Noem dit selektiewe waarneming, noem dit noodlot, maar die
datum het my tot in my siel geskok, aangesien dit my geboortejaar
is - met ander woorde ek en die boek is ewe oud - en ek (was
toe) bykans 50! Vyftig! Dit het as 'n skok gekom, omdat dit
eintlik ondenkbaar is dat 'n boek met kinderverse vir 50 jaar
nie aangevul is nie! Hoekom het niemand dit gedoen nie! En
WIE gaan dit doen as ék dit nie doen nie? Ek was meer
geskok oor die ouderdom van Kleuterverseboek as my eie antieke
status van 'n halfeeu!
Net daar en dan het ek die doller as kop-af perd opgesaal
en besluit: dit is hoog tyd dat die hedendaagse kleuter en
kind 'n nuwe, byderwetse, moderne kinderverseboek kry! En
ék sal daarvoor sorg! (Ek kry soms sulke bevliegings.)
Ek het terselfdertyd besef dat dit 'n mammoete werk sal wees,
dat ek hulp (en baie daarvan) nodig sal hê. Omdat ek
besef het watter groot werk dit gaan wees (want ek het toe
pas die werk voltooi aan Die melkweg het 'n ster laat val),
het ek besluit om die slimste, kundigste en hardwerkendste
mens wat ek ken, te vra om medesamesteller te wees - en daardie
persoon is Suzette Kotzé-Myburgh.
Hoe
het julle te werk gegaan om die gedigte bymekaar te kry?
Riana: Toe ek eers die besluit geneem het, het ek
begeesterd aan die werk gespring, 'n persverklaring en 'n uitnodiging
aan alle voornemende skrywers geskryf en dit aan alle denkbare
publikasie en radiostasie gestuur. Ek het elke skrywer wat ek
ken, gevra om 'n kindervers te skryf, ek het vir vreemdes, vriend
en vyand vir bydraes gevra, ek het selfs geluister na oorgelewerde
kinderverse. Waar ek gekom en gegaan het, het ek mense gevra
vir verse - en gekry!! Daar is ook 'n groot aantal verse van
skrywers wat my skryfskole deur die jare bygewoon het.
In kinderboeke is illustrasies
uiters belangrik. Hoe het julle op Maja, Tamsin en Dale besluit?
-
Suzette: Ja, in 'n boek soos hierdie is die illustrasies
maklik net so belangrik soos die teks. Soos ek die boek
aanvanklik gekonseptualiseer het, het ek gedink ons moet
net een illustreerder gebruik. Dit het - gelukkig! - nie
uitgewerk nie, aangesien die illustreerders wat ons die
een na die ander genader het, beide nie beskikbaar was nie.
Toe raak die tyd kort (vir 'n groot projek soos hierdie
moet 'n enkele illustreerder ten minste 5 maande tyd kry)
en ek het besef ons sal die projek moet verdeel tussen drie
illustreerders - wat toe ook gehelp het om die drie ouderdomskategorieë
duidelik van mekaar te onderskei. Michelle Cooper, ons uitgewer
by Tafelberg, het Maja Sereda "ontdek", en Ann
Walton, 'n baie kundige vrou wat gereeld saam met illustreerders
werk, het Tamsin en Dale aanbeveel. Oor Dale is ek veral
in my skik, want ek wou graag sien dat 'n vars jong talent
'n kans kry om in ons boek te debuteer.
Wat van die illustrasies
staan vir julle uit?
Riana: Ek is heeltemal begeesterd deur die sensitiewe,
humoristiese en "whacky" werk van die nuweling Dale
Blankenaar. Sy verse getuig van fyn waarneming, deernis en begrip
van die verse - maar ek is ewe in my noppies met die ander twee
illustreerders se werk wat wonderlik aansluit by elke ouderdomsgroep.
Suzette: Dale se oraje drakie op die voorblad het
my hart gesteel - dis só moeilik om die regte omslag
vir 'n versamelbundel te kry, en sy konsep was met die eerste
probeerslag perfek! Dan is Die Krikkelwander (p 10-11) deur
Maja ook 'n groot gunsteling, sowel as Ons hoenders het weggewaai
op p 121 deur Tamsin.
Die boek is verdeel in
verskillende ouderdomsgroepe. Het julle vooraf besluit dis hoe
julle dit wil doen of het die gedigte wat julle versamel het dit
bepaal?
-
In die brief wat skrywers uitgenooi het vir bydraes
het ons net twee ouderdomskategorieë genoem, naamlik
2-4 jaar en 5-8 jaar. Soos die gedigte ingekom het, het ek
besef daar is genoeg gedigte vir 'n kategorie 8-10 jaar en
toe het ek die bundel se indeling daarvolgens aangepas. DJ
Opperman het natuurlik die luukse gehad om 'n afsonderlike
boek vir elke ouderdomsgroep te maak, naamlik Kleuterverseboek
en Klein Verseboek. Ons boek is dus as't ware twee in een.
Wat het julle gesoek in
die gedigte, m.a.w. moes daar 'n lewensles in wees ens?
Ag nee, wat, ek het nie in beginsel gesoek na 'n lewensles
nie. Kinderpoësie moet eerstens vonkel en knetter, dit
moet die leser of toehoorder laat wriemel en dans van lekkerkry.
Die vreugde en ontdekking van taal en woordspeling, die slim
konstruksie van rym en ritme, die avontuur, die opwinding en
die fantasie - dit staan vir my voorop. As die vers 'n lewensles
het, goed so, maar ons het beslis nie probeer om didakties te
wees nie.
Was julle verras deur die
reaksie van die bydraende skrywers?
-
O ja, beslis! Dit voel amper asof ons 'n miljoen
verse gekry het
ons het selfs van sommige digters 'n
volledige manuskrip gekry! Baie vrot gedigte ook, ja, natuurlik,
maar oorgenoeg goeie gedigte en gedigte wat potensiaal gehad
het.
Wat is die stand van kinderverse
in Afrikaans? S
-
Riana: Daar is nie naastenby genoeg kinderpoësie
in Afrikaans nie! En dit is nie dat ons 'n tekort het aan
talentvolle digters nie!
Suzette: Ek stem saam met Riana: daar is min GOEIE
nuwerwetse kinderverse in Afrikaans. Dis ook waarom ek as uitgewer
onmiddellik raakgesien het watter wonderlike idee dit is om
'n nuwe kinderverseboek te doen - daar was regtig 'n leemte
in die mark wat lankal aangespreek moes gewees het. Uit my ervaring
as keurder weet ek dat daar wel baie kinderverse aan uitgewers
voorgelê word, maar daar is gewoonlik nie genoeg goeies
om 'n bundel te regverdig nie - dis regtig baie moeiliker om
'n goeie kindervers te skryf as wat dit lyk! Omdat ons soveel
inskrywings ontvang het (ver oor 'n duisend), kon ons net die
heel bestes uitkies.
Is hierdie boek die eerste
in 'n reeks?
-
Ek hoop so! Suzie, sien jy kans vir nóg so
'n boek? Ek sien kans, maar net as jy weer deel van die span
is. En ons weer dieselfde illustreerders het, én vir
Teresa wat die bladuitleg gedoen het.
Ek hoop van harte so. Noudat ons die "resep"
uitgewerk het, sal dit inderdaad nie moeilik wees om oor 'n
paar jaar weer so 'n bundel te doen nie - 'n mens volg net
dieselfde proses. Hoe klink: Nuwe Kinderverseboek 2, Nuwe
Kinderverseboek 3 . . .? Mooi, ne!
Hoe het julle twee as
span saamgewerk, maw wie was verantwoordelik vir wat? R en S
-
Riana: Ek dink jy kan agterkom dat ek en Suzette
merkwaardig goed saamgewerk het. Moenie 'n fout maak nie -
alles het nie die hele tyd voor die wind gegaan nie, ons moes
'n paar monsters beveg voordat die boek uiteindelik goed en
gaaf en lieflik op die tafel gelê het! Maar as ek moedeloos
geraak het, dan was Suzie kalm en wys en doelgerig; ek dink
die paar keer dat sý moedeloos was, het ek die walkure
in my voel roer. Ons is bewus van ons onderskeie talente en
sterk punte, en het mekaar daarin aangevul. Die belangrikste
is dat ek oneindige respek het vir Suzette se integriteit
as redakteur.
Suzette: Ons het reg aan die begin afgespreek dat
Riana verantwoordelik is vir die werwing van die gedigte (en
met haar hoë profiel en groot adreslys het ons 'n fantastiese
aantal inskrywings ontvang) en dat sy ook die voortou neem met
die bemarking. Dit was my taak om die boek aan uitgewerskant
te hanteer. Nadat ons elkeen al die voorleggings gelees en 'n
kortlys opgestel het, het ons ons lyste vergelyk en die finale
lys opgestel. Van daar af het ek die samestelling hanteer: die
struktuur van die bundel vasgestel en al die hofies uitgedink,
die indeling van die verse in elke afdeling, opstel van die
onderwerpelys agterin, die teksversorging en korreksies, en
dan die bladuitleg en skakeling met ons uitstekende boekontwerper,
Teresa Williams.

|
 |
|
Hierdie onderhoud
het oorspronklik in die Rapport van 7 Junie 2009 verskyn. Marisa
Beeton het die vrae gestel
Meer
oor Riana Scheepers
|
|