Sebastien Quevauvilliers (31) het bemarking aan die Natalse Technikon
gestudeer, maar sê die meeste van sy vaardighede is deur sy werkservaring
ontwikkel. Dié Durbaniet het vier jaar in die veld van boekuitleg
en -ontwerp gewerk. Sy gunstelingmedium is ink en gouache. Sy
eerste publikasie is Madelief, moenie! (Jaco Jacobs, LAPA
Uitgewers), maar hy werk reeds aan sy volgende boeke.

Waar het jou belangstelling in kinderboekillustrasies
begin?
Ek onthou hoe ek as kind verdiep was in die prenteboeke
wat my ma vir my gelees het. Ek het altyd 'n aanleg vir teken
gehad, maar dis eers toe ek op 17 in 'n plaaslike boekwinkel
begin werk het, dat my belangstelling in oortuiging verander
het. Die stories en illustrasies wat ek aan ander mense verkoop
het, het my geïnspireer, en van toe af het ek myself geleer
verf en teken, en geleer by die groot geeste wie se werk gepubliseer
is.
Is daar sekere boeke/illustrasies wat
jy uit jou kindertyd kan onthou of wat 'n groot indruk op jou
gemaak het?
Die naam van die boek ontgaan my, maar dit was boeiend. Dit
was 'n groot vierkantige-formaat-boek oor 'n groep seerowers
wat na 'n skateiland gevaar het. Die detail en humor was betowerend,
en die feit dat die kaptein 'n troetelwalvis gehad het, het
my regtig laat glimlag.
Watter illustreerders se werk bewonder
jy?
Babette Cole. Hierdie kunstenaar het die ongelooflike
talent om karakters met baie beweging te skep. Elke houding
wat 'n karakter aanneem, word tot die regte graad oordryf sonder
dat die illustrasie te laf of strokiesprentagtig word. Elke
houding wat geteken word, is 'n uitbreiding van die karakter
se persoonlikheid - wat nie in die teks oorgedra kan word nie,
word slim in die illustrasies geteken.
Hoe werk die kreatiewe proses vir jou
vandat jy met 'n teks gaan sit totdat die eindproduk klaar is?
Aaaa, die proses ... een van heelwat vrees en vreugde tegelyk!
Gewoonlik ontkiem die inspirasie vir die persoonlikheid en
styl van die boek vinnig in my brein. Ek teken aanvanklik
'n reeks karakterontwikkelingsketse, terwyl ek uitwerk watter
styl en houdings en benadering die korrekte boodskap vir 'n
boek sal oordra. Eers wanneer ek tevrede is, begin ek die
bladuitleg aanpak. Aanvanklike teksuitleg word gedoen, sodat
ek weet hoeveel plek ek het vir my karakters om te lewe.
My ervaring in kunsbestuur stel my in staat om die boek
as 'n geheel te beskou. Die boek word met potlood geteken,
deur die redakteur goedgekeur en dan kyk ek weer daarna vir
kontinuïteitsverskille. Dan voeg ek kleur by, skandeer
die werk en ontwikkel die bladsye met PhotoShop. Sodra dit
gedoen is, gaan ek terug na InDesign en voeg die teks en illustrasies
saam. 'n Goeie boek is een waarin die illustrasies en die
teksuitleg visueel saam die korrekte persoonlikheid oordra.
Ek vermoed baie mense meen illustrasies
is net 'n manier om 'n kinderboek "mooi" of "oulik"
te maak. Maar wat dink jy is die funksie van illustrasies in 'n
goeie kinderboek?
Een van die funksies van illustrasies in 'n boek is om die
gaping tussen wat die woorde kan oordra en wat in die storie
gesê moet word, te oorbrug. Baie prenteboeke het baie
min woorde en dit is die illustreerder se taak om die storie
deur middel van die prente klaar te vertel. Illustrasies moet
tred hou met die nuutste neigings en die leser moet daarby
aanklank kan vind. Illustrasies is wat die boek verkoop. Baie
verbruikers van kinderboeke beklink 'n transaksie met die
oë. Illustrasies moet jou gedagtes en emosies stimuleer.
Wat gehalte betref, hoe dink jy vergelyk
ons plaaslike kinderboeke met die oorsese mark?
Ek dink ons is op die regte pad ... Ek dink namate die kaliber
van plaaslike illustreerders verbeter, so verbeter die gehalte
van Suid-Afrikaanse boeke ook. Ons haal vinnig in. Party uitgewers
is meer progressief as ander. (Ek was gelukkig om met die
progressiewes te werk!) Ek dink met betrekking tot die afwerking
van boeke (soos papierkeuse, bindopsies en spesiale afwerkings
op die voorblad) is ons nog op 'n leerkurwe.
Wat is die grootste uitdagings van
die Suid-Afrikaanse kinderboekmark vir 'n illustreerder?
Die mark is klein, so die hoeveelheid plaaslike boeke
wat jaarliks gedruk word, is nie soveel soos oorsee nie. Dit
het 'n impak op die mark vir illustreerders ... so, dit maak
dit moeilik om die mark binne te kom. Ek wil egter een opmerking
maak: Dit lyk of Suid-Afrikaanse kinderboeke altyd in die hoekie
van die winkel is, apart van die ingevoerde boeke wat trots
uitgestal word met die voorblaaie na voor. Suid-Afrikaanse kinderboeke
behoort dieselfde "teenwoordigheid" te geniet, veral
die prenteboeke.
Wat is die beste raad wat jy vir 'n
voornemende illustreerder kan gee wat in ons kinderboekmark wil
werk?
Hou aan probeer. Dit is nie 'n maklike mark om binne
te dring nie, maar as jy eers in is, is dit die moeite werd!
Kyk na wat internasionaal suksesvol is. Suid-Afrika is nie meer
geïsoleer nie, daarom sal dit uitstaan as jy die vermoë
het om wat oorsee werk te neem en dit plaaslik te gebruik.)
Dink jy illustreerders kry genoeg erkenning
vir hul werk?
Nie altyd nie. Ek dink hul talent word soms as vanselfsprekend
aanvaar. Maar terselfdertyd gaan dit ook daaroor om vir jouself
naam te maak deur toewyding en jou illustrasievaardighede. Net
die bestes word regtig vereer. So, 'n illustreerder moet homself
bewys. En om eerlik te wees is dit maar dieselfde in enige loopbaan.
As jy die kans kan kry om enige boek
of storie te illustreer, wat sal dit wees?
Julia Donaldson. Ek is mal oor haar goed. Ek sal ook
graag wil illustreer vir ... myself. Ek het 'n paar stories
geskryf wat net wag om met illustrasies voltooi te word.