In 'n neutedop, wie is die Glam-divas?
Dit is drie baie kreatiewe graadtienmeisies wat hulle eie
funky stileringsagentskap begin. Hulle stileer van partytjies
tot skeppings vir die skool se herwinningsbal.

Hoe het jy op die idee vir die reeks
gekom?
Vandag se kinders het soveel geleenthede om entrepreneurs
te kan wees. My mond hang altyd oop as ek op YouTube sien waarmee
die jeug vorendag kom. Ek is dol op tieners en chic lit is definitief
een van my gunsteling-genres (om te lees en te skryf). En toe
dag ek (terwyl ek een aand weer na Gossip Girl kyk), hoekom
nie 'n positiewe reeks skryf nie oor doodgewone hoërskoolmeisies
wat in plaas van negatief wees, moan oor alles, en hulle ouers
se geld spandeer, eerder geleenthede aangryp en regtig "wow"
dinge doen?
Weet jy, ek dink die politiek in die land kry kinders soms 'n
bietjie onder. As hulle hulle heeltyd aan hul ouers se praatjies
moet steur, is daar maar weinig om oor opgewonde te raak. En
eintlik kook Suid-Afrika oor van kreatiwiteit en oorspronklikheid.
Daar is 'n energie in die land wat 'n mens glad nie meer in
Europa kry nie. Suid-Afrikaanse kinders het 'n blink toekoms
as hulle dit positief benader.
Humor speel 'n groot rol in die storie.
Watter van die drie hoofkarakters, Talia, Linka of Didi, het jou
die meeste laat lag terwyl jy die boek geskryf het?
Ek is mal oor al drie my karakters, maar Didi is
regtig 'n wild card. Sy sien die lewe net eenvoudig op 'n ander
manier as die ander twee. Sy is after all 'n natural born talent.
Miskien is dit omdat sy nie meer 'n ma het nie en gouer moes
leer om vir haarself te sorg. Talia kan weer lekker melodramaties
raak - wat ook vir my snaaks is. Lienka is die een wat met haar
gematigde persoonlikheid die ander twee bymekaar hou.
Wat word verder vir die Glam-divas geplan?
Waarna kan lesers in volgende boeke uitsien?
In die (aanvanklike?) drie boeke kry elke lid kans
om die storie vanuit hul perspektief te vertel. Die storielyn
verloop chronologies - van die begin van graad tien tot aan
die einde daarvan. Ag, in die tweede kwartaal is daar 'n wonderlike
nuwe nare meisie wat behoorlik in die Divas se slaai kom krap.
Didi verloor haar hart op 'n onmoontlike liefde, terwyl Talia
nie 'n idee het wat met haar hartstogtelike liefde aan die gang
is nie. Verder reël die Glam-divas 'n paartie wat woes
verkeerd loop - met erge gevolge!
Romanse speel 'n belangrike rol in Talia,
nes in die Klub 17-reeks wat jy vroeër gepubliseer het. Wat
is vir jou romanties?
n Mens is seker nooit weer so verlief soos wanneer
jy jonk is nie. Oei, daai kloppende hart as HY by jou verbyloop
...
Nou is romanse beslis vir my 'n bietjie anders as romanse toe
ek 'n tiener was. Nou is dit vir my al romanties as my liewe
ou man in die aand by Den Bosch-stasie in die kar klim met 'n
bakkie Chinese prawns wat ons skelmpies op pad huis toe eet
voor die kinders snuf in die neus kry ...
Alle grappies op 'n stokkie - ek dink vroue van alle ouderdomme
hou van 'n sjarmante, effe geheimsinnige man met verkieslik
sakke vol geld. 'n Ou wat lyk asof jy baie tyd in sy geselskap
sal moet deurbring om sy troubled soul te kan deurgrond! En
natuurlik val vroue ook altyd vir bad guys - iets wat hier in
Nederland 'n baie groot probleem geword het, want bad guys is
gewoonlik net mooi dit: bad news! Baie meisies beland daardeur
in die vrouehandel hier by ons. Die wonderlikste ding is, egter,
as Mr Right op jou voorstoep staan maak dit glad nie saak hoe
"broody" hy is of hoeveel geld hy het nie. Dan word
jou eie liefie al daai dinge waaroor jy al die tyd gedroom het.
Jy en jou gesin woon deesdae in Nederland.
Hoe kry jy dit reg om so oortuigend oor Suid-Afrikaanse tieners
te skryf?
Gelukkig het ek een tiener in Suid-Afrika grootgemaak en
het ek nog baie, baie kontak met oulike tieners daar. Baie
meisies kom kuier vir my ná matriek terwyl hulle au
pair in Nederland. Hulle stories is altyd vir my baie kosbaar.
Ek lees soveel Afrikaans as wat die tyd my toelaat. Verder
boer ek op Facebook en YouTube om my vinger op die pols van
die algemene dinge van die jeug te probeer hou.
Tieners in Suid-Afrika is ook nie soveel anders as tieners
in Nederland of Australië of Kanada nie. Daar is baie
meer dinge wat tieners homogeen maak as wat hulle dalk self
dink. Buiten die feit dat almal ongeveer na dieselfde TV-programme
kyk en na dieselfde musiek luister, is tieners se behoeftes
tog maar om verstaan te word, om liefgehê te word en
om in veiligheid die vryheid te kry om die wêreld te
kan ontdek.
Ek het op die oomblik twee tieners in die huis en hulle is
vir my 'n bron van inspirasie. Ek weet wel dat Nederlandse
tieners baie groter monde het as Suid-Afrikaanse tieners en
altyd gesag bevraagteken - iets wat jou dalk duur te staan
kan kom in 'n Afrikaanse skool. O ja, en hier dra hulle nie
skooldrag nie. Dit is nogal 'n nadeel vir 'n ma se beursie.
Jy is nie net 'n skrywer nie, maar word
ook allerweë beskou as 'n kenner van kinder- en jeugliteratuur.
Wat is vir jou die vereistes vir 'n goeie kinder- of jeugboek?
Dit is vir my van kardinale belang dat die skrywer
sy "beste boek ooit" geskryf het en nie "sommer
gou 'n kinderboek" nie. Jeug- en kinderliteratuur is net
so geregtig op literêre meriete as hogere literatuur.
Mense moenie dink kinders en wat hulle lees, is minderwaardig
nie. Dit maak my altyd kwaad as skrywers 'n jeugboek misbruik
om 'n preek af te steek. Grrrr, ek gril vir sulke ooglopende
lessies in storieboeke. Deesdae is kinders baie meer media-wys
as wat my generasie ooit was. As 'n boek nie hulle aandag kan
hou nie, gaan hulle dit nie lees nie. Dit beteken dat 'n skrywer
onderwerpe moet kies wat kinders aanspreek en seker maak dat
dit vanuit 'n kind se belewingswêreld vertel word. Ek
hou van humor in stories.
En wat irriteer jou wanneer jy 'n (swak)
kinderstorie lees?
Soos ek reeds gesê het, as dit prekerig is.
Verbeeldinglose stories kan my ook diep bedroef maak. As 'n
skrywer nie sy verbeelding kan gebruik nie, moet hy liewer boeke
vir volwassenes skryf! As dit duidelik is dat die skrywer nie
met 'n opregte hart skryf nie.
Watter boeke het jy in jou kinder- en
tienerjare gelees?
Ek was lank, lank gelede 'n kind en tot in standerd 4 was
daar nie TV nie. Ek het soos 'n maniak gelees. Ek het letterlik
al die (fiksie)boeke in die skool se biblioteek gelees en
omtrent alles in die dorpsbiblioteek - wat toevallig in ons
huis was.
My lys sal bitter lank wees as ek alles neerskryf, maar
hier is 'n kortlys van enkele skrywers wat diep spore in my
leeslewe getrap het: Roald Dahl, Elsabe Steenberg, Helena
Lochner, C.J. Langenhoven, M.E.R, H.S. van Blerk, Chris Barnard,
PH Nortjé, Sita, die hele Keurboslaan- en Maasdorp-reeks,
Nancy Drew, Famous Five, wonderlike, wonderlike vertalings
deur A.P. Brink van klassieke kinderboeke en die Afrikaanse
Kinderensiklopedie.
In die hoërskool het my kamermaat in die koshuis (wat
Engels was) my bekend gestel aan Georgette Heyer en Victoria
Holt. Ons het saam miljoene vrystories (soos my Pa dit altyd
genoem het) verslind. Ek het ook Agatha Christie, Daphne de
Maurier en al die Driekie Beukese en Tryna du Toits wat ooit
geskryf is, gelees.
Deesdae is my lys met gunsteling-kinderboeke nog langer.
Toe ek jonk was, kon ek nie wag om grootmensboeke te lees
nie - nousedae kan ek nie wag om nuwe jeugromans onder oë
te kry nie.
Afgesien van skryf en lees, wat is jou
ander belangstellings?
Ek hou baie van tuinmaak. Maar ek kry dit altyd weer reg
om 'n bos te bou eerder as 'n beskaafde, gehoorsame tuin met
rye blommetjies en 'n skoon paadjie. Verder is ek baie lief
vir kleremaak: Dit sal die lesers deeglik agterkom in die
Glam-divas-boeke.
Ek hou daarvan om foto's te neem en as ek genoeg tyd het,
maak ek graag sulke foto-filmpies met musiek - 'n nadraai
van my TV-loopbaan. Nog 'n nadraai van my TV-loopbaan is dat
ek vrek oor TV kyk. Veral nuus en baie stadige speurstories
- ek hou van ooms soos Wallander, Inspector Morse, Inspector
Lynley en die speurders van Midsomer Murders.
En ek hou daarvan om na kuns, teater en museums te gaan
kyk. Ek speel tennis en beoefen die loopsport Nordic walking.
Dit is soos ski, maar op die gewone grond en sonder ski's
- oukei, eintlik is dit glad nie soos ski nie. Die res van
my gesin is verslaaf aan ski, maar ek het al legendariese
plase vir myself op die ski-hange gekoop. Nou beoefen ek eerder
Nordic walking.