- Ek
is 14 jaar oud en in st 6. Ek wil ‘n stemkunstenaar word, met ander woorde ek
wil die stem agter animasie karakters wees. Ek het Liewe Heksie so geniet
toe ek klein was en die tannie agter Liewe Heksie het my so inspireer, dat ek
nou die vrymoedigheid het om hulp by tannie te vra!
-
Ek is bly om te hoor dat jy Liewe Heksie geniet het! Ek sal probeer
om van jou vrae te beantwoord, maar ek weet nie meer hoe dit presies werk met
"stemme" by die SAUK nie, aangesien daar na my wete nie meer veel produksie
van die soort kinderprogramme of oorklanking plaasvind nie.
Watter
vaardighede is betrokke?
Wat
vaardighede betref, moet 'n mens vlot en natuurlik kan lees en, veral as jy bv
aan 'n animasiekarakter 'n stem moet gee, die vermoë hê om jou stem
te verander.
Watter
kwalifikasies is betrokke?
Alhoewel
nie alle mense wat stemwerk doen dit het nie, is opleiding in drama baie nuttig,
want 'n mens moet 'n rol kan vertolk. Opleiding is, soos ek sê nuttig, maar
'n mens moet die natuurlike talent en lus hê om die soort werk te doen.
Belangstelling in drama en animasiekarakters maak die werk nogal interessant.
Watter
werk ure word van jou verwag?
Dit is moeilik om die werkure vooruit te bepaal. Indien 'n mens 'n rol gekry het,
sal die regisseur vir jou sê hoe lank dit ongeveer sal neem om dit te voltooi.
Die ure word dan in die nodige aantal sessies verdeel. Afhangend van die moeilikheidsgraad
van die rol, kan sessies enigiets van 2 tot 4 ure elk, duur.
Werk
jy aleen of met ander mense?
Soms werk jy alleen, soms met ander spelers, maar daar is altyd 'n regisseur en
'n klankman teenwoordig.
Waarmee
werk jy hoofsaaklik?
'n Mens werk soms met film, soms met video waar die opname van die storie reeds
voltooi is en jy die stem of stemme aan die karakters moet verskaf. Soms, maar
nie dikwels nie, word die stemme eers opgeneem en die karakters daarby aangepas.
Waar
werk jy?
Jy werk òf by die SAUK òf by die produksiemaatskappy wat die werk
moet voltooi.
Watter
salaris kry jy?
Aangesien dit hoofsaaklik vryskutwerk is, is daar nie iets soos 'n vasgestelde
maandelikse salaris nie. 'n Mens word per stuk werk betaal - gewoonlik taamlik
goed.
As 'n mens 'n nuwe kunstenaar is, moet jy natuurlik 'n oudisie
aflê, sodat daar bepaal kan word waartoe jy in staat is.
Ek weet
nie hoeveel van die soort werk daar tans gedoen word nie, maar ek sou aanraai
dat jy navraag doen by die SAUK se opvoedkundige - departement waar programme
soos "Sesame Street" opgeneem word en die Oorklankings-departement.
Die SAUK se adres is Privaatsak X24, Auckland Park 2006.
(Onderhoud
met Steven Dowse, 14 jaar, graad 8. Junie 2003.)
-
Liewe
tannie, my naam is Leila van Coller. Ek is 8 jaar oud en bly op die oomblik in
Swede. My Au-pair lees elke aand vir my een van Liewe Heksie se stories. Ek is
mal oor haar maar het 'n paar vrae om tannie te vra.
Hoekom
noem tannie dit gifappeltjies? Hoekom is die gifappeltjies geel? Mens kan die
kleur mos maklik in die donker sien.
In
die Vrystaat waar ek grootgeword het, was daar in die veld sulke valerige bossies
wat 'n vrug, so groot soos 'n kleinerige tamatie gedra het. Hulle was geel en
ons het hulle bitter appeltjies genoem. Na aanleiding daarvan het ek besluit om
die nare geelheks se kabouters gifappeltjies te noem en hulle geel te maak soos
daardie oorspronklike bitter appeltjies. Hulle name, Kerrie en Borrie, is ook
so gelerig! Dit is waar dat 'n mens hulle dalk in die donker sou kon sien, maar
gelukkig het Blommeland nie straatligte wat op die geel sal reflekteer nie!
Hoekom wil hulle die silwer roos steel? Wat gaan van Blommeland word as die
roos gesteel is?
Die
geelheks wat gewoonlik vir Kerrie en Borrie stuur om die silwerroos te steel (
wanneer sy dit nie self probeer doen nie,) weet dat as sy silwerroos het, sal
Blommeland en almal wat daar woon vergaan en haar dor en lelike Gifappeltjieland
sal so mooi word soos Blommeland. Die silwerroos is Blommeland se heel kosbaarste
besitting, want dit is die roos wat hulle en hulle mooi land aan die lewe hou.
Hoekom is dit 'n silwer roos en nie 'n goue een nie?
Ek
het dit 'n silwerroos gemaak want in een van my geliefkoosde operas, nl "Der Rosenkavalier"
van Richard Strauss, speel 'n pragtige silwerroos 'n groot rol. 'n Jong man, of
"kavalier" word deur die man wat met die mooi jong meisie wil trou, gestuur om
'n silwerroos aan haar te oorhandig. Miskien kry julle eendag die geleentheid
om die opera te sien. Toe ek dit vir die eerste keer gesien het, het ek gedink
dit sal nogal lekker te wees om 'n storie te vertel van so 'n land waar 'n silwerroos
die inwoners en hulle koning se kosbare besitting is wat hulle moet oppas en keer
dat dit nie gesteel word nie.
(Onderhoud
met Leila van Coller, 8 jaar. Maart 2004.)