Vertel my meer van jouself, jou werkswyse en veral
hoe jy dié spesifieke boek se illustrasies benader het.
Ek
het so jaar terug oorgeslaan van tradisionele media na digitaal, so al my illustrasies
teken en verf ek deesdae direk op die rekenaar. Ek leer nog die proses, maar my
uiteindelike doel is om tradisionele media, soos kryt en verf, na te boots op
die rekenaar dat dit nie lyk asof my illustrasies op die rekenaar geteken is nie.
My rede vir die oorslaan na rekenaar is dat dit 100 maal vinniger is. Dis ook
makliker om veranderinge aan te bring aan illustrasies. Verder het ek meer kontrole
oor die finale produk, soos kleur en lyn as wat ek sou hê met 'n illustrasie
op papier. Dan is daar ook natuurlik die bonus dat die finale kunswerk nie gestuur
hoef te word vir skandering nie en dit lekker vinnig afgelewer kan word aan die
uitgewer via die internet.
Formule
Drie, Twee, Een! was my tweede boek wat ek digtaal geverf het. Die 'tricky'
deel vir my was dat daar nie 'n spesifieke hoofkarakter was wat die leser kon
volg van begin tot einde nie. Maar dis waar illustrasie en teks so lekker saam
kan werk in 'n prenteboek, want ek kon een karakter kies (in hierdie geval die
seun wat wen aan die einde) en hom na die voorgrond bring en 'n soortvan hoofkarakter
maak in my illustrasies; al word hy nie spesifiek so genoem in die teks nie. Dit
los dan ruimte vir die teks om nie onnodig tyd te mors aan karakterisering nie,
maar eerder aan te gaan met die storie se vertel.
| 
|
Wat
se opleiding het jy?
BAFA met Toegepaste Grafiek
(grafiese kuns) en 'n honneurs in illustrasie verkry by Stellenbosch Universiteit.
Wou
jy nog altyd kinderboeke illustreer?
Ek wou eintlik
strokiesprente soos Asterix teken - lank terug toe ek klein was. Ek het eers in
matriek besluit om kuns te gaan swot (het nie kuns op skool geneem nie). En eers
heel aan die einde van my kursus besef hoe lekker prenteboeke en strokiesprente
is, toe ek Paddy Bouma (kinderboekillustreerder) vir 'n dosent gehad het. Ná
my eerste prenteboek, wou ek nie eintlik iets anders doen nie.
Hoe
gaan jy te werk wanneer jy 'n prenteboek moet illustreer?
Dit
vat my nogals lank om aan die gang te kom met die teken deel. Ek het nie eintlik
'n spesifieke metode wat ek rigied navolg nie. Gewoonlik begin ek deur die karkatersketse
van almal in die boek te doen en te beplan. En saam met dit, 'n klomp 'thumbnail'
sketse van die bladsye. As ek gelukkig is, het die uitgewer vir my die bladsy-uitleg
saam met die manuskrip verskaf - indien nie, moet ek heel eerste die manuskrip
opdeel sodat die boek in 24 bladsye inpas. Dis seker die grootste kopseer van
die hele proses. Wanneer ek uiteindelik die bladsye teken, spring ek rond deur
die boek; baie keer begin ek in die middel en doen ek die laaste bladsy voor die
eerste bladsy.
Hoe sien jy die
rol van die illustreerder van 'n prenteboek? Hoeveel vryheid gun jy jouself vir
eie interpretasie?
Dit hang af hoeveel vryheid die
uitgewer my gun; ek sal soveel moontlik my eie interpretasie insit. Ek sien illustrasies
in 'n prenteboek as 'n tweede vlak van storievertel wat die teks visueel help
en versterk. Dalk is dit 'corny' maar ek sien baie keer die interaksie van teks
en illustrasie soos twee mense wat saam wals of tango; elkeen het sy spesifieke
rol en saam probeer hulle 'n pragtige uitvoering gee.
Piet
Grobler meen dat illustrasies 'n vorm van vertaling is. Wat dink jy?
Dis
nogals 'n goeie beskrywing. Illustrasie is vir my ook 'n vorm van 'n idee/storie/gedagte
oorbring deur oordrywing; hetsy die oordrywing van 'n situasie of karakter, ens.
Watter
rol speel die illustrasies in 'n prenteboek vir die manier waarop 'n storie gelees
en verstaan word?
Illustrasies definieer baie keer
die 'mood' en gevoel van hoe die storie gelees kan word.
Vertel
bietjie hoe jy Formule Drie, Twee, Een! benader het.
Formule
Drie, Twee, Een! se storie het 'n vinnige pas met 'n oorheersende konsep van
'PRET!' en ek het die illustrasies ook so benader; die uitleg is nie rigied nie
en my lynwerk is los en wild.
Elke
illustrasie van Formule Drie, Twee, Een! was vir my 'n verrassing. Ek hou
veral van die humor wat jy deur die illustrasies uitgebeeld het. Hoe belangrik
is humor vir jou in prenteboeke? Hoe sal jy jou eie humorsin beskryf?
Ek's
bly om dit te hoor! Humor is baie baie baie belangrik. 'n Prenteboek, maak nie
saak hoe ernstig die tema is nie, moet nogsteeds die leser kan 'entertain' en
humor is een van daai dinge wat universeel tot almal spreek; oud en jonk. Ek sit
nie altyd humor aspris in my illustrasies nie, partykeer kom dit vanself. Ek teken
baie op gevoel. My gunsteling illustrasies is die wat my laat lag wanneer ek dit
teken.
My eie humorsin? O, jitte
ek wonder
partykeer of ek nie eintlik 'n baie donker en siniese uitkyk op die lewe/humorsin
het nie. Ek hou van lag. Dis lekker. Miskien is dit makliker om te beskryf deur
te dink wat my humorsin NIE is nie - ie. dit wat my nie laat lag nie. Ek hou nie
van humor wat gebruik word 'at the expense of someone else' nie. Daar's veral
deesdae baie tv programme wat hierdie resep volg, ongelukkig - Dit kraak een persoon
af sodat die res van ons wat op die sofa lê vir hom kan lag. Sarkasme is
nog een; dis seker een van die moeilikste 'tools' om suksesvol in iets soos bv.
'n strokiesprent te gebruik; sonder die nodige 'skill' en finesse kan dit wat
bedoel wou word as snaaks, net plein ongeskik lyk.
Wat
is jou gunsteling tekening in Formule Drie, Twee, Een!
Die
eerste bladsy en p16.

Jy
het ook 'n eie prenteboek geskryf en geillustreer (Hou vas, Seekoei!) Vertel
meer hiervan.
Die
idee van Seekoei was een van 'moenie tou opgooi nie' of 'aanhouer wen'. Ek het
eendag op die strand gesit en gesien hoe 'n dogtertjie se lilo wegwaai. Dis waar
ek toe die idee gekry het.
| 
|
Beplan
jy nog 'n eie prenteboek?
Jaaaaa, ek het so klompie
idees en halfgeskribbelde manuskripte, maar my tyd is so knap dat ek al my aandag
op die oomblik (vir nou) toespits op my illustrasie. Die kompetisie hier is so
moeilik dat ek my tekenvermoë en tegnieke moet ontwikkel en verbeter en baasraak
alvorens ek myself weer sal blootstel aan skryf.
Jy
het 'n weeklikse strokie in die Volksblad. Waar kom jou idees vir die strokie
vandaan?
Ek weet rerig nie; ek is soms net bly
en verlig dat ek dit kry, want daar is min goed so aaklig soos om nie 'n idee
of 'n konsep te hê nie en net 'n blank te slaan! Alledaagse gebeure om my
is seker waar ek 99% van alle idees kry.
In
watter genre en medium verkies jy om te werk?
Strokies
en prenteboeke is my twee gunstelinge. Hulle's albei so verskillend, maar tog
so bevredigend op hul eie manier.
Jy
woon die afgelope vier jaar in Engeland. Het die nuwe omstandighede jou kuns beïnvloed?
Definitief.
Op 'n positiewe manier, al is en was dit nie altyd lekker nie. Dis moeilik hier,
want die kompetisie so straf en baie. Ek het so paar maande terug ernstig gewonder
of ek nie eerder moet ophou en iets anders kry om te doen vir 'n lewe nie; iets
wat meer sekuriteit verskaf nie.
Ek moes leer
om terug te staan van my werk en om krities daarna te kyk: om te sien hoe ek dit
kan verbeter en waar my swakhede lê. Die probleem van illustreer is dat
dit 'n baie 'alleen' tipe werk is en al manier om te verbeter en te groei is deur
te luister na kritiek en daardie kritiek te evalueer as positief of negatief.
So lekker as wat dit is om prentjies te teken, is dit tog op die ou end van die
dag 'n besigheid met 'n produk wat verkoop moet word. As mens nie gereeld feedback/
terugvoering kry van hoe ander mense jou produk sien en ervaar nie, gaan dit maar
sukkel om die produk te verbeter en te verkoop. En die moeilikheid (al is dit
dalk vanselfsprekend) is dat mense in verskillende dele van die wêreld,
kinderboeke op verskillende maniere benader; elke keer wat ek 'n projek doen,
leer ek iets nuuts. Dis baie keer 'daunting' maar dis opwindend!
Ek is
ook nou in die bevoorregte situasie waar ek 'n kinderboek agent het in London,
so ek het iemand wat krities na my werk kyk op beide 'n kommersiële en kunstige
vlak en vir my 'feedback' verskaf - ek kan dus fokus op my teken en die bemarking
oorlaat aan ander mense.
Met watter
ander projekte is jy besig?
Ek werk aan 'n paar ontwikkelingsprojekte
vir die Britse opvoedkundige mark, maar die lekkerste projek vir hierdie week,
is die tweede boek van Jamie en Sebastian deur Martie Preller en Martie Kruger
(Lapa). Twee ander opwindende boeke wat nou binnekort gaan verskyn na ons Formule
Drie, Twee, Een! is Arboreta, die heks met die groen hare, deur Riana
Scheepers (Protea Boekehuis) en my eerste Kanadees/Amerikaanse boek (Mom and
Dad don't live together anymore - 'n hersiende weergawe van Kathy Stinson
se boek uit die 80's met dieselfde titel (Annick Press).