In u boeke is daar baie keer lewenslesse
wat 'n mens leer. Watter temas gebruik u en hoekom is dit
so belangrik?
Ek fokus glad nie op 'n tema as ek 'n storie skryf
nie. Wanneer ek van my eie stem vergeet en na die stem
van die storie luister en dit so getrou as moontlik neerpen,
vloei die tema tot 'n mate vanself uit die storielyn. Dit
verg geduld met myself en vertroue in iets veel groter as myself.
Waar het u liefde vir stories skryf
begin?
My ouma was 'n boekwurm en my ma is steeds 'n boekwurm. Sy
het vandat ek kan onthou vir my gelees en gesing en rympies
opgemaak en ons het die biblioteek se drumpel deurgetrap.
Het u daarvan gehou om opstelle op skool
te skryf?
Nee, want ons moes altyd skryf oor My Vakansie of
My Hond of Dit Spook Daar...
Is daar boeke wat as kind 'n groot indruk
op u gemaak het en indien ja, watter boeke?
Die heel eerste reeks waarop ek as voorskoolse kind
versot was, was die beertjieboeke! Daarna het die weeklikse
Bollietydskrif gevolg wat 5c gekos het en toe ek groter is die
Tina. Intussen was daar Trompie en Saartjie en Nancy DrewJ
en toe ek groter word kom ek agter my ma bêre André
P. Brink en sy tydgenote se politieke romans, wat destyds verban
is, agter in haar bedkassie – ek het hulle almal saam
met haar gelees sonder dat sy dit weet – of dalk het sy...
U is 'n ywerige reisiger, wat is u gunsteling
bestemming om na te reis?
Dis nie die bestemming wat werklik saak maak nie,
maar die gesindheid waarmee 'n mens reis. Soms leer jy
meer van jouself as jy net oor die straat stap en in 'n sonkol
met 'n boemelaar sit en gesels as wanneer jy halfpad om die
wêreld sou vlieg.
U was voorheen 'n onderwyser.
Wat mis u van die onderwys?
Ek mis nie die skool nie, maar wel spesiale oomblikke
soos 'n kind wat teen 'n klasvenster klop om vir jou te waai
of die verwondering as 'n kind vir die eerste keer die unieke
patroon van sy vingerafdruk besef.
Wat is die lekkerste deel van skrywer
wees?
Om betaal te word om te droom en op reëndae in
jou pajamas te werk (maar moenie dink dis net droom nie, dis
lang ure op 'n harde stoel sit en elke keer met 'n leë
bladsy begin sonder om die vaagste benul te hê waar die
storie vandaan gaan kom.)
Het u nog drie katte as troeteldiere?
Freda en Framboos is reeds oorlede. Hulle was susters
en het onderskeidelik 18 en 19 jaar oud geword. Freda was baie
liefdevol en eiewys en het vir Framboos voorgesê wat om
te doen. Framboos was 'n bietjie verstrooid, maar verskriklik
mooi. Sy het graag haar stert se punt gesuig en as sy dit
nie gou genoeg in die hande kry nie, het sy sommer Frieda s'n
gesuig. Emma is die laatlam. Sy is nou 10 jaar oud. Ongelukkig
moes sy by haar pa agterbly toe ons skei, want die dorpshuiskompleks
waarheen ek destyds getrek het, het nie troeteldiere toegelaat
nie. Maar sy is spekvet en tevrede en stuur gereeld vir
my e-posse.
Is u tans besig om aan 'n boek te werk?
Ja, ek is besig om 'n versamelbundel saam te stel
en die einde van hierdie jaar word 'n kinderatlas gepubliseer.
Is u iets vir elke laerskoolleerder
kon gee, wat sou dit wees?
'n Handvol water om elkeen daaraan te herinner dat
'n mens se gees die kleur van water is en ons mense daarom nooit
op grond van hul velkleur mag oordeel nie.
Wat was vir u lekker van u skooldae?
Skool het my 'n kol op my maag gegee. Dalk het
ek alles te ernstig opgeneem!
Watter tipe boeke lees u graag?
Ek lees enigiets wat ek in die hande kry, maar verloor
gou belangstelling as dit nie interessant genoeg is nie. As
daar niks beskikbaar is nie die agterkant van die tamatiesousbottel.
Wat is die een ding wat u nog in die
lewe wil doen?
'n Kunsuitstalling hou van my voëlskilderye en voëlstories.




