|
|
| Martie
Preller | | "Mens
moet maar versigtig wees dat die manne met die wit jaste jou nie kom haal nie!!!"
Karien Kriek het by Martie Preller gekuier en ontdek dat sy soms met haar karakters
praat om hulle aan die lewer te kry.
|
- Wat
het tannie laat besluit om te begin skryf?
- Ek
het altyd so 'n gevoel gehad dat ek wil skryf, maar was gans en al te bang. Toe
loop ek rond en kla soms in my pals se ore dat ek so graag wil skryf. Die een
vererg haar toe vir my en sê ek moet 'n drama vir hulle Kollege - waar sy klas
gegee het, skryf en ophou moan! (Ek was toe al veertig!) Nou ja, toe moes ek maar
ophou kla en skryf. Die drama was toe 'n groot sukses en ek skryf sommer nog een
wat ook opgevoer word en almal spring op en af en ek is op wolkie 9 en skryf 'n
tienerboek vir die Sanlamwedstryd in. Ek is nie een van die finaliste nie en wen
dus beslis nie en ergste van alles - ek verstaan nie die verslae van hoe ek die
boek moet verander nie! Dus is dit nooit gepubliseer nie. Ek skrik so groot dat
ek sommer gaan Sielkunde swot. Hoe het ek dan nou ooit gedink dat ek 'n boek kan
skryf? Toe, vier jaar later, dink ek, ek sal dalk net weer probeer en skryf "Jy
en die draakakkedis" en dit word aanvaar en gepubliseer en daar gaan ek toe!
Tannie is nou so 'n wonderlike interessante mens ... hoe was tannie ... of eerder...
hoe sou tannie tannie-self as kind beskryf?
Ek het grootgeword op Potchefstroom - onder die akkerbome, sê ek altyd.
Potch het mos die pragtigste akkerbome. Ons was befiets en het gery net waar ons
wou wees - dorp toe - biblioteek toe - swembad toe - rivier toe. Dit was eintlik
wonderlike vryheid vir 'n kind, om nie soos deesdae baie keer in die stede gebeur,
afhanklik van die ma of die pa te wees om jou al brommende rond te karwei nie.
Ek het soos 'n mal mens gelees - die biblioteek sommer van 'n kant af deurgelees.
Was vir my die wonderlikste ding - al die mense en gebeure wat ek in boeke kon
lees. Ek het goed geleer wat ek nooit andersins van sou geweet het nie. Verder
was ek net kind - soos meeste kinders het dit vir my gelyk of al die ander mense
presies weet wat hulle doen, net ek het nie 'n clue gehad wat ek doen nie! En
saam met al die ander, kom ek nou agter, het ek ook gemaak asof ek weet! Dis nou
vir my die domste ding, om te maak asof ek weet wat aangaan - niemand weet mos
alles nie - en nou sal ek maklik sê dat ek nie verstaan nie! Maar toe ek 'n kind
was sou ek nooit! Want sê nou net almal kom agter hoe dom ek eintlik is! Ek dink
hoe ouer mens word, hoe meer word jy soos jouself. As 'n mens 'n kind is, is jy
so bang om net jouself te wees dat jy sommer word wat jy dink ander mense dink
jy is. En dan, as jy ouer word, gaan mens weer opsoek na die mens wat jy werklik
is.
Vir baie van ons, veral vir my, is tannie 'n rolmodel. Wie is tannie se rolmodel
en hoekom?
OOOOO, ek sidder. EK? 'n Rolmodel? Nou laat jy my worrie! Ek sal in spore moet
trap! Ek het nie 'n rolmodel gehad nie - ek het wel sekere eienskappe in verskillende
mense bewonder - die een se deursettingsvermoë - 'n ander se geduld en weer 'n
ander se vermoë om liefde te gee. Maar ek dink die hele idee van 'n rolmodel kan
dalk verwarrend wees vir mens. Want eintlik moet jy jou eie rolmodel wees omdat
jy net jouself moet wees. En dis partykeer die heel moeilikste van alles! Veral
as mens skryf is dit baie belangrik dat jy weet wie jy is en soos jouself en met
jou eie natuurlike styl skryf. Dit help nie om iemand anders te probeer na-aap
nie. Mens moet natuurlik leer om jouself te vertrou - maar dis nogal moeilik aangesien
dit steeds lyk asof ander mense alles weet - en dis net jy wat so oneindiglik
dom is! Maar ons strompel maar voort …. aan op die pad om onsself te word en onsself
te vertrou.
Die Balkieboek is aan tannie vertel deur Balkie. Waar het julle mekaar ontmoet?
- Elizabeth
Pulles, wat Balkie illustreer, het in 1993 op pad na die poskantoor toe,
vir Balkie onder 'n bos in Westdene, Johannesburg sien sit - huis toe gehol en
hom gaan teken en my dadelik gebel. Op daardie stadium het ons net saam 'n boek
gedoen en ons het gedink om met die lyfie - wat op daardie stadium nog nie 'n
naam of 'n siel gehad nie, 'n storie te doen. Dit was alles baie vreemd, want
Elizabeth sê self sy is nie eintlik die soort mens wat vreemde gediertetjies onder
bosse sien sit nie - en sy is so normaal as wat 'n kinderboekillustreerder kan
wees!!!! Ek die lyfie wat later Balkie sou word teen my muur vasgeplak en gewag
dat hy met my moet begin praat. En soms as niemand by was nie - mens moet maar
versigtig wees dat die manne met die wit jaste jou nie kom haal nie!!! - het ek
met hom ook gepraat. Toe praat ek met Joan Kruger - die redakteur van Rooirose
en sy vra of ek nie 'n kinderbladsy in die Rooirose wil behartig nie - en daar
begin Balkie toe babbel en van toe af babbel hy sonder ophou en warrel hy deur
die blaaie van die Rooirose en deur my en Elizabeth se lewens - soos 'n regte,
egte, wollerige kind! En buitendien weet almal mos dat hy op 'n kleinhoewe buite
Johannesburg bly saam met die pa en die ma en Isak en Bert en Karien en Roelf
en Miaukatjie en die hoendertjies.
Wat is die grootste les wat tannie vir skroeiende skrywers kan leer?
- Vir
skroeiende skrywers? SKRYF! Mens kan mos vir ure lank wonder of jy kan of nie
kan nie - wonder waaroor jy nou moet skryf en het jy nou tyd en sê nou net … ensovoorts
… ensovoorts … BEGIN net - SKRYF - GLO IN JOUSELF - en as jy hulp nodig het, vra
daarvoor. MAAR SKRYF. DOEN wat jy moet doen. Een van my boeke se naam is 'n
Haas moet doen wat 'n haas moet doen - as mens wil skryf, SKRYF. As mens aan
die skryf is, SKRYF nog! Skrywers DINK nie! Hulle SKRYF. En mens leer nie fietsry
deur vir 'n fiets te KYK nie - jy leer fietsry deur FIETS TE RY. Netso, leer mens
nie skryf deur te wonder oor skryf nie, jy leer skryf deur te SKRYF!
|  |
Onderhoud
met Karien Kriek - Graad 12 Hoërskool Linden, Johannesburg. April 2000.
-
|
|