| Spoke?
"Who're you gonna call?" Francois Bloemhof, Jaco Jacobs
en Fanie Viljoen, natuurlik!
Díe drie skrywers is die bekendste grilskrywers in Suid-Afrika
en hulle het opgeteam om vir ons jong lesers 'n verskeidenheid spookstories
in een bangmaakbundel te bring: 13 Spookstories.
Elkeen van die skrywers het die kans gekry om vier stories te skryf
en storie 13 is 'n kort strokiesprent deur die illustreerder, Tanja
Joubert. Die nommer 13 dra natuurlik by tot die vreeseffek van die
bundel. 13 is mos 'n ongelukkige nommer, nie waar nie?
Die bundel is vir lesers van 13+ jaar en die skrywers skryf vír
die jong lesers. Die taalgebruik is lewendig en jonk en elke storie
word vanuit die jong karakter/s se perspektief vertel. Die karakters
in die stories is doodgewonde jongmense wat "gedare" word
om "scary" goed aan te vang, wat 'n geliefkoosde rilskrywer
het of 'n keer of wat hulle alies al afgeskrik het. Die lesers identifiseer
maklik met die karakters en hul omstandighede en hierin lê
die bangmaakelement, dit kon netsowel JY gewees het!
Die vertelstyle word goed afgewissel en spanning word regdeur gehou.
Dit is immers die geheim om vir jongmense te skryf, daar móét
die heeltyd iets gebeur. Van die spoke laat jou hare rys, ander
het onafgehandelde sake en sommige is daar om te help. Voorwaar
iets vir almal!
Die illustrasies deur Tanja Joubert is in swart, wit, grys en rooi.
Die kleure dra by tot die bangmaaktema van die bundel - spoke is
immers wit, bangmaakgoed gebeur in die swart nag en die spatsels
van rooi? Wel
Ek swyg soos die graf oor die storiebesonderhede, netnou kry die
resensielesers "blouwildeaapstuipe" (bl.24) as ek enigiets
verder verklap. Mens wil tog nie iemand anders se skrik tweedehands
ervaar nie, wat is die lekker daarin?
Ek kan met sekerheid sê dat daar nie 'n storie in hierdie
bundel is wat nie sal bangmaak nie. Díe spoke het onafgehandelde
sake - en die besigheid is om bang te maak!
Liesl Booyens
|