Vir
die eerste keer na my wete het ons in Afrikaans 'n kleurvolle, oorspronklike strokiesverhaal
in Afrikaans in die tradisie van Asterix en Kuifie. Omdat dit altyd risiko's inhou
om 'n nuwe produk uit te gee wat nog nie deur die mark getoets is nie, moet Lapa
met hierdie eksperiment gelukgewens word. Die
verhaal is geskryf en gekonseptualiseer deur die gewilde Francois Bloemhof en
uitstekend geïllustreer deur 'n kraakvars nuwe illustreerder, Alistair Ackerman
- 'n jong kunstenaar met hope talent. Dis die geslaagde wisselwerking tussen storie
en illustrasies wat noodsaaklik is om strokiesverhale te laat slaag. Dít
het die twee kunstenaars reggekry. Dat Agent Snoet en die Botterdiamant reeds
voorgeskryf is vir aspirant onderwysers aan 'n universiteit om kernbegrippe oor
visuele geletterdheid aan hulle oor te dra, dui op die kwaliteit van hierdie teks.
Die visuele teks "vertel" net soveel die verhaal as die woorde. Kyk
byvoorbeeld hoe suksesvol die simbiotiese saambestaan van die tweeling Ditta en
Ditto in woord en beeld op p 15 voorgestel word. Onderwysers wat volgens die nuwe
uitkomste van die onderwysleerplan juis visuele geletterdheid moet aanbied, kan
nie 'n beter teks kry om voor te skryf nie. Agent Snoet en die Botterdiamant
is 'n verhaal in die tradisie van James Bond-stories. Agent Snoet - so genoem
om ooglopende redes - moet moet Madame Lente Langenhoven se botterdiamant opspoor.
Sy regter- én linkerhand (of dalk die ware held van die verhaal?) is sy
kat Felino. Ongelukkig het altwee van hullle 'n oog vir 'n mooi nooi wat noodgedwonge
veroorsaak dat hulle soms daardie oë van die botterdiamant moet afhaal: met
voorspelbare gevolge. Kleurryke
mens- en katkarakters bevolk die boek. Agent Snoet en Felino se pogings om die
skuldige vas te trek, toets die twee helde se vermoëns tot die uiterste.
Gelukkig het hulle, soos James Bond, wonderlike wapens tot hulle beskikking wat
hulle in doodsgevaar telkens uitred. In die tong-in-die-kies sosiale
kommentaar het ek, as volwasse leser, my verkneukel. Die verhaal en karakters
het nie net James Bond as interteks laat meepraat nie, maar ook Staal Burger het
uit my verre verlede verskyn en my 'n paar nostalgiese oomblikke besorg. Hierdie
kenmerke van die teks sal, dink ek, by heel jonger lesers verbygaan - maar dalk
onderskat ek hulle. Die
verhaal is egter, anders as Asterix byvoorbeeld, bietjie dun om volwasse lesers
se aandag deurgaans te hou. In 'n opvolgboek sou die probleem egter reggestel
kon word. Ouers
sal hulle kinders 'n onguns bewys as hulle nie Agent Snoet en die Botterdiamant
onder hulle aandag bring nie. Dis 'n produk waaraan mens gerus maar geld kan spandeer. Lapa
uitgewers. ISBN 0 7993 3035 3. Maritha
Snyman |