 |
Anna Atoom en die seerower se dolk
Elizabeth Wasserman
Tafelberg
2011
Resensent: Elaine Schiel
Feiteblokkies
stel lesers in staat om die nuwe opwindende wêreld van
MonPetit beter te verstaan. Sodoende word 'n nuwe leerervaring
vir die lesers geskep.
|
Anna Atoom en die seerower se dolk is Elizabeth Wasserman,hoof
van Geneeskundige Mikrobiologie by die Gesondheidswetenskappe kampus
op Tygerberg, se nuutste boek. Sy het haar loopbaan as skrywer begin
met die Speurder Willem-reeks wat vir kinders tussen agt en tien
geskryf is.
Anna Atoom en die seerower se dolk gaan oor 'n meisie, Anna
Atoom, wat op die eiland van MonPetit bly. Haar ma, Professor Sabatina,
en Maks, die superrekenaar, werk op die eiland by die mees gesofistikeerde
weerstasie. Hulle doel, om mense te waarsku teen aankomende natuurrampe.
Hulle hou ook die ekologiese stelsel dop om die aardbol teen die
mens se besoedeling te probeer beskerm.
Anna se pa, Admiraal Abraham Atoom, werk in 'n ruimtestasie nadat
'n aaklige ongeluk op MonPetit veroorsaak het dat sy liggaam nie
meer die swaartekrag van die aarde kan weerstaan nie. Wanneer alge
te vinnig begin groei en dreig om die see oor te neem en alle seelewe
te verwoes, werk Professor Sabatina, Admiraal Abraham en Maks dag
en nag om dit te keer.
Met haar ma en pa wat so verskriklik besig is om die aarde te probeer
red, en haar jonger broer, Pip, wat half mens half robot is, pokmasels
kry, los dit tyd vir Anna om die geheime storie agter die bekende
seerower Hodoul se dolk te kry. Haar soektog vat haar diep in die
donker waters van die see in waar gevaar om elke hoek en draai skuil.
Hierdie boek bevat alles waarvan 'n leser kan droom wanneer dit
kom by opwindende avonture. Elizabeth Wasserman vat die leser se
ervaring nog een stap verder deur feiteblokkies binne die storie
te plaas wat meer vertel van seelewe en ander interessanthede. Hierdie
feiteblokkies stel lesers in staat om die nuwe opwindende wêreld
van MonPetit beter te verstaan. Sodoende word 'n nuwe leerervaring
vir die lesers geskep.
Interessante karakters skep 'n element in die boek waarmee lesers
kan identifiseer en wat maak dat hul verder wil lees. Van die eerste
paar bladsye af waar Anna kla oor hoe vervelig skool is kan die
leser met haar identifiseer. Reg deur die boek verseker Wasserman
met haar kleurvolle karaktersketse dat die leser saam met Anna bang
is wanneer 'n reuse inkvis haar aanval, en saam met haar bly is
wanneer alles aan die einde regloop. Wasserman se unieke tog eenvoudige
manier van skryf maak dat die leser saam met Anna op onderwaterreise
gaan, saam die seerower se skat gaan soek, saam die waarheid oopvlek
en uiteindelik die wêreld teen die alge-bedreiging red. Spanning
is om elke hoek en draai van hierdie verhaal en hou die lesers op
hul tone.
Anna Atoom en die seerower se dolk is 'n kinderboek geskik
vir lesers tussen agt en dertien. Wasserman se skryfstyl, die wonderlike
wêreld van MonPetit en die naelbytende avontuur van Anna,
kan maak dat ouer lesers ook moontlik hierdie boek interesant vind.
Die taalgebruik in hierdie boek is heel eenvoudig en snaakse terme
word deur oulike feite blokkies verduidelik wat dit ideaal maak
vir hierdie teikenmark.
Anna Atoom en die seerower se dolk neem die leser op 'n
reis deur die opwindende wêreld van MonPetit en met kleurvolle
karakters wat maak dat mens nie die boek kan neersit nie. Hierdie
boek sal nie bloot net ure se vermaak aan kinders verskaf en hulle
meer leer van ons wonderlike nie, maar ook moontlik hulle inspireer
om meer te lees.
|