| Die
afgelope paar jaar het die internasionale kinder- en jeugboekmark 'n opwindende
oplewing beleef. Werke soos J.K. Rowling se Harry Potter-reeks, Philip Pullman
se Whitbread-bekroonde His Dark Materials-trilogie, die kostelike Princess Dairies
van Meg Cabot en Eoin Colfer se Artemis Fowl is internasionale topverkopers met
Hollywood wat meeding om filmregte en vertalers wat regstaan. Die boeke word deur
kinders, tieners en jong volwassenes eweneens geniet in só 'n mate dat
daar nou na 'n "nuwe" genre verwys word: kidult literatuur.
Artemis Fowl en die opvolg Artemis Fowl and the Arctic Incident, geskryf deur
die Ierse jeugboekskrywer Eoin Colfer, is die nuutste toevoegings tot kidult literatuur.
Dit handel oor die twaalfjarige Artemis Fowl wat behalwe geniaal, ook 'n kriminele
meesterbrein is. In die afwesigheid van sy pa, wat deur die Russiese mafia skynbaar
opgeblaas is, beraam hy planne om die Fowl-rykdom op te bou. Sy nuuste - en mees
ambisieuse - skelmstreek is om goud van die feëtjies te steel. Die enigste
probleem is dat feëtjies lankal nie meer soos Peter Pan se Wendy lyk nie.
Die resultaat is wat al beskryf is 'n magiese, dog alternatiewe feëverhaal
met 'n sweempie Bruce Willis-aksie.
Human & Rousseau moet beslis krediet kry dat hulle op die voorpunt van internasionale
tendense staan deur belangrike werke soos Die Klein Prinsie, Harry Potter en die
Narnia-reeks in Afrikaans beskikbaar te stel. Ook is Artemis Fowl nou in Afrikaans
vertaal deur die bekroonde Janie Oosthuysen.
Dat Artemis Fowl 'n moeilike boek is om te vertaal is duidelik. Colfer skep 'n
wêreld en 'n taal wat so uniek in Engels gesetel is, dat dit vir enige vertaler
'n nagmerrie is. Baie van die humor wat dit so gewild maak, is gewoon nie vertaalbaar
nie. 'n Voorbeeld is die feë se spesiale taakmag, LEPrecon Unit (Lower Earth
People Reconnaisance Unit), is 'n sinspeling op die FBI se SWAT-span en natuurlik
die mitiese leprechauns van Ierland. In Afrikaans het AARDrecon-eenheid nie dieselfde
dubbelsinnige humoristiese trefkrag nie. Colfer se filmiese teks beweeg teen
'n vinnig tempo wat die indruk van 'n Hollywoodagtige aksieskouspel skep. Die
Afrikaanse vertaling lees nie so vlot nie en lomphede soos "deur wyn opgeswelde
geneser" (p. 13) vir "wine-sodden healer" kon vermy gewees het.
Soos met die Harry Potter-vertalings wonder ek hoekom Oosthuysen sommige name
vertaal en sommige nie.
Ek is egter onseker of enigiemand buiten Janie Oosthuysen die ondervinding of
kundigheid het om die uitdagende kidult letterkunde in Afrikaans te pak. Ten spyte
van die gebreke in die vertaling, bly die Afrikaanse Artemis Fowl 'n aanwins vir
ons eie kinder- en jeuglektuur korpus. Eoin
Colfer (vertaal deur Janie Oosthuysen) Human & Rousseau ISBN 0798142227 Carina
Diedericks-Hugo |