Die
boekprinses is geskryf binne die genre van die tradisionele sprokie. Die pragtige
prinses Sonduin van Lowerdal in haar pêrelpaleis word bedreig word deur
'n geslepe heks. Twee eenkant-kinders - 'n dogtertjie, Siemoeraaia en haar seunsmaat
Tinnik -moet help om prinses Sonduin se koninkryk van ondergang te red. Saam trotseer
hulle buitengewone gevare in 'n poging om die tande van Prinses Sonduin se goue
kam in die hande te kry. Alleen dan sal die towerspel verbreek word en Lowerdal
weer groen wees.
Hierdie
sprokieswêreld verskil van tradisionele Europese sprokies daarin dat dit
binne die Suid-Afrikaanse beleweniswêreld gebed is. Akwadinus, prinses Sonduin
se boodskapper is byvoorbeeld "'n likkewaanarend". Die twee kinders
word beskryf in terme van meerkatte en bobbejane en een van die dierasies wat
oorwin moet word in die soektog na die kam se tande, is 'n skrikwekkende hiëna
met twee koppe.
Die
boek is egter ook, getrou aan die sprokiestradisie, 'n ware aspoestertjieverhaal.
Siemoeraaia wat nie deur juffrou Winterboom as 'n "besondere" kind beskou
word nie en Tinnik, die "bangbroek" "tjankbalie" en spot van
die paaiboelies in sy klas gly op 'n vreemde manier dié sprokiesboek-avontuur
binne en tree as helde uit die stryd.
Soos die titel, Die boekprinses
aandui, is lees 'n belangrike tema in hierdie boek. Die karakters word eksplisiet
geteken in terme van hulle leesvermoë. Siemoeraaia kan nie goed lees nie,
maar sy is dapper en verbeeldingryk. Tinnik is 'n baasleser, maar hy dra 'n bril
en is vir alles bang.
Dis
ook 'n boek wat Tinnik en Siemoeraaia in hulle sprokie-avontuur dompel. 'n Tekening
op 'n storieboek in Siemoeraaia se klas van 'n prinses met lang spierwit hare
betower haar. Die onsimpatieke onderwyseres straf Siemoeraaia. Omdat sy nie goed
kan lees nie en nie oplet in die klas nie weier die onderwyseres dat sy die boek
huis mag toe neem. Hierdie insident is die sneller vir die handeling wat volg.
Dis
egter ironies dat juis hierdie boek wat oor lees en boeke handel nie besonder
lesersvriendelik aangebied word nie. Die keuse van, weliswaar verbeeldingryke,
maar onbekende en moeilik leesbare en uitspreekbare name sal die onervare lesertjie
vervreem. Vergelyk byvoorbeeld die hoofkarakters se buitengewone name en die Latyns-klinkende
name van die fantasiekarakters soos Akwinidus, Pantero en Paradunkus.
Perspektiefwisseling
is soms verwarrend (vergelyk byvoorbeeld p. 6 tot 8) en kan vervreemding van die
leser in die hand werk. Die twee hoofkarakters is ook nie altyd duidelik omlyn
nie. Dis moontlik een rede waarom 'n kinderleser die karakters as "effens
onwerklik" ervaar het.
Tog
sluit Die boekprinses aan by die leefwêreld van die kind. Enige skoolkind
sal kan identifiseer met Siemoeraaia en Tinnik se opdrag om selfs onder uiterste
provokasie van die kriemels doodstil te bly sit.
Die plasing van kleurplate
ver verwyderd van die gebeure waarna hulle verwys, is sekerlik koste-effektief
en dit het 'n ou-wêreldse bekoring soos die kinderboeke van my jeug. Dit
het egter kinderlesers van die boek gehinder. Hulle wou sien wat hulle lees. 'n
Groter lettertipe kon die boek ook meer toeganklik gemaak het.
Tekortkominge
ten spyt, behoort Die boekprinses vir boekwurms en goed ingelyfde lesertjies van
die standerd twee tot vyf heelwat genot te verskaf.