Die
jong Afrikaanse debuutskrywer Arnold Vermaak het 'n verbeelding wat enige fantas
groen van jaloesie sal maak en Lewis Carroll sal laat glimlag. Vermaak se kat
in Buys, 'n absurde verhaal vir volwassenes, sit egter nie ewig en gryns in 'n
boom nie. Mrs. Balls (nee, nie die blatjang in jou kombuiskas nie!) is 'n kietsie
wat in 'n prins verander, wat genoeg is om enige heks na haar besem te laat gryp.
Volgens
die Oxford English Dictionary van 1901 was daar twee spellings vir die huidige
woord ``fantasy'' met 'n ``f'' en met 'n ``ph'', phantasy. Ten spyte van die twee
woorde se identiese klank dui eersgenoemde op die storie of aksie, terwyl laasgenoemde
fokus op die emosionele dimensie.
Buys is fantasy met 'n ``f'', daar is nie klem op die ontwykende visionêre
nie.
Wanneer dofkop held Buys een middag na skool by die huis kom en ontdek dat sy
ouers weg is, begin 'n verhaal waar bonatuurlike elemente verskillende vorms aanneem.
'n Sprokie (Hansie en Grietjie) word nie net herleef en herinterpreteer nie, 'n
totale nuwe wêreld word ook geskep.
Karakters soos Ral Hal, Fraai Denimdoedie, 'n identiese vierling en 'n mummie
vereis die oplegging van die leser se kennis van wat gebeur in die regte wêreld.
So tussen
al die vreemde avonture deur word Buys 'n Rebel om Hulle te verongeluk, en daar
vind nie veel karakterontwikkeling plaas nie.
Die outeur bepaal hom eerder daarby om hope aksie te verskaf (dis tog wat tienerlesers
wil hê) wat opbou tot 'n skouspelagtige klimaks.
Hier is beslis nie plek vir langdradigheid, swaarmoedigheid en die melodramatiese
nie. Wanneer daar gefilosofeer word oor die wêreld is dit kort en kragtig:
`` 'n plek vol aangename verrassings, ja, maar ook 'n plek vol narigheid, onregverdigheid,
chaos en foefiepoefie.''
As die interessante voorblad, titel (Buys is so eenvoudig dit kan nie anders as
om aandag te trek nie) en agterblad nie daarin slaag om 'n voornemende leser te
boei nie, behoort daar tog moeite gedoen te word om nader kennis te maak met mevrou
Lamprecht, die bose heks wat enigiets sal doen om Buys te vang.
Sy dreig nie net om 'n hotdog van sy tottermannetjie te maak nie, sy is die kakkerlak
in sy ice cream cone. Dan is daar die lang, effens krullerige grys haar op haar
ken wat mens laat ril en gril.
Fantasie skep 'n wêreld wat is, maar nooit was nie en die leser moet so
kreatief wees soos die outeur om sodoende deel te neem aan al die aksie en om
situasies op te los. Vermaak se sterk punt lê in die vermoë om die
ordinêre op 'n vars manier aan te bied. Of die dialoog byderwets genoeg
is, berus op die oordeel van die tienerleser.
Iets wat egter pla ons is nie Amerikaans nie. Subtiele humor werk beter.
Resensent Lizette Potgieter
Die Burger 16 Junie 1999 |