Die
Sanlamprys vir jeuglektuur, n gesamentlike inisiatief van Tafelberg Uitgewers
en Sanlam, word tweejaarliks toegeken. Dis n kompetisie waarin manuskripte
wat oor n bepaalde voorgeskrewe tema handel, beoordeel word en waarvan die
wenmanuskripte deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer word. Vanjaar was die tema
musiek en het Fanie Viljoen se Breinbliksem en Francois
Bloemhof se nie vir kinders nie, vir die eerste
keer in die geskiedenis van die prys gesamentlik goud ontvang. Aan Engela Van
Rooyen se boek Vuvuzela is silwer toegeken. Breinbliksem
Van die allitererende eksplosiewe in die titel tot by die verrassende slot,
doen Fanie Viljoen se Breinbliksem letterlik dit wat die titel sê. Dit is
n onthutsende, maar boeiende leeservaring, wat geen leser onaangeraak sal
laat nie soos wat die briewe van lesers wat reeds in verskillende publikasies
verskyn het, duidelik aandui. Dis egter moeilik om die boek te bespreek, sonder
om die geheim van die verhaal uit te lap. Daarom sal ek bloot enkele aspekte kursories
aanraak. Wat die uiterlike teksgegewe aanbetref, is Breinbliksem besonder
knap verpak. Die oorwegend swart en wit bandontwerp met die titel en waarskuwing,
Nie vir sensitiewe lesers in rooi; die foto van die steel cap
stewel van onder geneem op die voorblad wat geweld suggereer, die meisie in tiperende
swart klere op die agterblad; en die uitdagende flapteks Liewe leser. Hierdie
boek kom met waarskuwing sien bladsy 1. Neem dit ernstig op toon
reeds aan dat die teks daarop uit is om grense te verskuif en om die konvensies
van die tradisionele tienerboek omver te gooi. Die ondermynende toon en inhoud
van die waarskuwing op bladsy 1 asook die uitleg van die boek, na analogie van
n CD-speler, tipeer die boek as n subversiewe en selfs moedwillige
teks wat die establishment uitdaag. Die moedswillige uitdagendheid van
die eksterne tekselemente word inderdaad effektief deurgevoer na die teks self.
Dit is so skokkend soos wat die verpakking voorspel. Die verhaal word vertel uit
die perspektief van die eerstepersoonverteller en hoofkarakter Burns. (Die funksionaliteit
van dié literêre tegniek blyk veral teen die einde). Die sentrale
gebeurtenis in die verhaal is Burns en sy twee vriende se besoek aan n rockfees
by die Allemanskraaldam vandaar die titel. Die verhaal wat hierom ontvou
is een van dekadensie, nihilisme, sadisme, geweld - en verwardheid. Viljoen
het sy navorsing goed gedoen: die beskrywing van die rockfees is volgens ingeligte
bronne in die kol en die karakters ontstellend geloofwaardig, veral die uitbeelding
van Burns. Die skokkende en ondermynende taalgebruik versterk die geloofwaardigheid
van die fiskionele wêreld wat die leser hier ast ware (teen sy sin)
insuig. Na die verhaal wat vir my soos n rollercoaster
rit gevoel het, het die ontknoping my met die eerste lees teleurgestel, eintlik
kwaad gemaak. Ek het gevoel die outeur volg n maklike uitweg omdat hy nie
weet hoe om die tafel wat hy gedek het, sinvol af te dek nie. Hoe meer ek egter
daaroor gedink het en weer op my spore in die boek teruggeloop het, hoe meer het
ek besef hoe vernuftig die slot beplan is; hoe uitstekend die teks daarin geslaag
het om my brein te bliksem (p1); hoe vaag die grense tussen realiteit
en skyn is; en hoe moeilik dit is om gerieflike en gerusstellende antwoorde op
vraagstukke waarmee jong mense gekonfronteer word, te verskaf. Die boek
verg oopkop lesers, beslis nie die wat soos volstruise hulle koppe in die sand
wegsteek nie. Dit belig n groep jong mense wat ons nie kan wegwens nie.
Dis n boek wat die moontlikheid inhou om Afrikaanse tieners te oortuig dat
daar Afrikaanse boeke is wat hulle kan uitdaag. As jy dapper is, koop die boek
vir n tiener, lees dit self ook. Dit is goeie gespreksmateriaal.
Tafelberg, ISBN 0 624 04307 X Maritha
Snyman |