|
|
| Christelike
boeke vir vandag |
Religion
is a great force - the only real motive force in the world; but you must get at
a man through his own religion, not through yours. George Bernard Shaw "Omdat
die kind hoogstens 'n naïewe objektiwiteit het - en dit eers as grootkind
- het hy nie die kritiese vermoë om te kan besluit of 'n werk literêr
waardevol is, al dan nie
Die kind is dus vir sy leesstof uitsluitlik op
die volwassene aangewys." 'n
Kind is nie opgewasse om self te besluit wat hy of sy wil lees nie. Aldus 'n bekende
Kaapse akademikus. Dit is sulke uitsprake wat my in trane wil laat uitbars. Wanneer
was dit óóit mode om kinders se vermoëns te onderskat en hulle
stem weg te neem? Met
die voorskriftelikheid en tonnelvisie van die akademikus nog vars in my geheue,
is dit met 'n effense agterdog wat ek twee nuwe boeke wat op my lessenaar beland
het bekyk. Twee jeugboeke met 'n Christelike strekking. Opsigself nie vreemd nie,
maar as iemand wat (soos baie ander) nare ondervindings by die Sondagskool gehad
het en met 'n siddering terugdink aan oorywerige ACSV-leiers, kan ek nie help
om te vrees vir die ergste nie. Bekende
liefdesromanskryfster Helene de Kock se Hoor jy die skoenlappers is verlede
jaar deur CUM-boeke uitgegee. Dit handel oor 'n jong Mimi Strauss wat gehoorgestrem
is en probeer om 'n normale tiener te wees. "Ek is doof, nie dóf nie",
is die refrein wat telkens opduik. Hoor
jy die skoenlappers het 'n amper tipiese jeugverhaal-storielyn: Mimi raak verlief
op die moeilikheidmaker Dewald, sy wonder oor die nuwe buurseun wat so noukeurig
sy vlinderversameling opbou en raak vererg oor haar ma en ouma wat haar maar nie
die ruimte wil gee om normaal te lewe nie. De Kock probeer egter om 'n ander dimensie
aan die verhaal te verleen. Mimi worstel enersyds om gehoor te word in 'n wêreld
wat nie luister nie en andersyds met God wat sy moet leer vertrou al verstaan
sy nie hoekom Hy nie net "haar ore kan oopboor nie". Die
verhaal lees vlot, die karakters is oortuigend en De Kock het probeer om die jonger
lesers te lok met 'n eietydse Afrikaans. Maar dit werk ongelukkig nie. Sinne soos
"sy troostelose gesig met die hulpelose lippe en droewige oë en haar
hart trek op 'n klein bondeltjie" (p.19) en "asof die son deur die blaredak
gebreek het en die hare op haar kop laat vonk" (p.68) lees eerder soos uittreksels
uit 'n ligte liefdesroman as 'n sogenaamde funky jeugboek. Myns insiens word die
religieuse tema ook té geforsseerd aangebied. Ek
voel wel effens rustiger en trek die volgende boek nader. Moenie vir ma sê
nie (2001, Lux Verbi) van Elize Parker. (Ironies genoeg het ook Parker bekendheid
verwerf met haar korsetknakkers en liefdesverhale.) Ek
begin lees. En sit regop. Hier is 'n jeugboek wat jou reeds met die intrapslag
meusleur in die wêreld van 'n vyftienjarige tiener. Marcelle
Maritz probeer oor die skok kom van haar eerste gross French kiss deur die bure
se seun, sy leef vir die winkelsentrums, raak geïrriteerd met haar hoogheilige
"Engelbroer" Derick en kyk bekommerd na haar pa wat al soveel hartaanvalle
gekry het. Verder neem sy ywerige deel aan haar Funky vir Jesus-jeugklub - 'n
Internet-kerkklub. Haar lewe neem 'n wending as sy teësinnig saam met haar
broer by Vigs-wesies begin kuier - en lief word die kleine Mpondo. Sy worstel
met die druk van grootword, haar pa se siekte, haar eie onsekerheid en die geloofsvrae
wat onwillekeurig kop uitsteek. Amen!
Moenie vir ma sê nie is 'n heerlike, oortuigende en moderne jeugboek
wat subtiel en met die regte aanslag lywige kwessies naderhark en deeglik ondersoek.
Die
vyftienjarige Marisa van der Merwe skryf in 'n resensie op Storiewerf, "
daar is soveel meer Afrikaanse boeke wat nog gelees word en miljoene verskillende
style wat geniet kan word. Oor die jare het ek geleer dat Afrikaans nie 'n taal
is wat onderskat moet word nie en dieselfde het ek oor Afrikaanse boeke ontdek."
Wyse
woorde vir kind met 'n "naïewe objektiwiteit". Meer nog: wyse woorde
wat daarop dui dat nóg vooropgestelde idees, nóg voorskriftelikheid
vandag welkom is.
Resensie deur: Carina Diedericks-Hugo
|  | Die
artikel het oorspronklik verskyn in die rubriek Bielebom se Kinders
By, Burger. 20 April
2002 | | Terug
na Resensies |
 |
|