Hoe
cool goed werk is na my mening die coolste boek wat nog hierdie jaar verskyn
het. Die boek verduidelik in verstaanbare beskrywings hoe die nuutste tegnologiese
patente werk, en daar is ook heelwat interessante inligting oor die werking van
die menslike liggaam. Na jy hierdie boek gelees het, weet jy hoe werk goed
wat jy nog altyd oor gewonder het, én goed wat jy nog nooit eers van gehoor
het nie. Kleurvolle foto's en sketse lig die feite, inligting en beskrywings
van die boek toe. Hierdie boek is egter meer as net 'n prenteboek. Dit is nie
'n boek wat jy op een slag kan deurlees en alles onthou nie. Hierdie boek moet
eerder gesien word as 'n "ensipklopedie van cool goed". Elke keer as
mens die boek optel, sien jy iets anders raak of verstaan jy iets beter as die
vorige keer. Die boek bied inligting oor 'n groot verskeidenheid onderwerpe.
Hoe dinge soos die internet, kameras, kitare, DJ-toerusting, hitte, stofsuiers,
windtonnels, Radio-ID-skyfies, antibiotika, kunsmatige bevrugting, wonings, en
selfs sokkerballe werk, word in die boek verduidelik. Boonop bied die boek telkens
'n vooruitskouïng van patente wat ons in die toekoms kan verwag. Hoe
cool goed werk is 'n lywige hardebandboek met 256 bladsye. Die boek het 'n
besondere interessante voorblad, en is mooi genoeg om op enige koffietafel te
staan. Dit is natuurlik 'n móét vir alle skoolbiblioteke. Hierdie
boek is spesiaal geskryf vir innoverende jongmense, maar enige persoon wat graag
op hoogte bly van die tegnologiese ontwikkeling, sal ook die boek terdeë
geniet. LAPA-Uitgewers ISBN:
0 7993 3624 6 |