In
Elkarien Fourie debuutroman Dans op die rand van die krans sal tieners kan identifiseer
met die komplekse wêreld wat in die verhaal uitgebeeld word. Die hoofkarakter,
Gustav, se pynlike grootwordproses word hier gekompliseer deur sy besondere sensitiwiteit,
sy suikersiekte en sy skuldgevoel oor sy Oupa se dood - die luislang wat op sy
bors lê. Dis 'n roman waarin die verwikkeldheid van verhoudings sentraal
staan en waarin die verhouding tussen ouers en kind (veral ma en seun), tussen
broer en suster en tussen vriende, asook die ontluikende verhouding tussen Gustav
en Chloe sensitief en met begrip uitgebeeld word. Opvallend
is die verwysings na die Keltiese mitologie in die roman. Die relatief onbekende
legendes word doeltreffend verweef met Gustav se verhaal. Finn McCool, 'n held
uit die Keltiese mitologie, is Gustav se rolmodel en alter ego en verbind hom
aan sy verlede, verpersoonlik deur sy Oupa, 'n emigrant uit Ierland. Hierdeur
kom nog 'n prominente tema, die effek van globalisering op die jeug ter sprake:
die vertwyfeling, die ontuisvoel en die gebrek aan vastigheid. Die
roman is 'n uitdagende leesavontuur wat nie die jeugdige leser onderskat nie.
Die taalgebruik kom uit die idioom van die jeug. Teikenlesers met wie ek gesels
het, het die boek positief ervaar. Die onaantreklike buiteblad is egter deur meer
as een leser uitgewys. Dans op die rand van die krans is geskik vir hoërskoolleerlinge
en word aanbeveel. Protea
Boekhuis. ISBN 1 919825-83-5, R79.95 Maritha
Snyman |