Die
pro van Leon de Villiers is eintlik al ou nuus. Dié roman was 'n pryswenner
in die beginnerkategorie van 1996 se Sanlamwedstryd vir jeugliteratuur. In 1998
wen Leon de Villiers met hierdie roman die Scheepersprys vir jeuglektuur sowel
as die M E R-prys. Ook die outeur is nie onbekend nie. Met sy eerste roman, Aliens
en engele (1996), het hy reeds getoon dat hy 'n jeugboekskrywer met besondere
insig in die lewenswerkliheid van die moderne kind is. Dit
is nie anders in Die pro nie. In die vorm van 'n briefroman gee die hoofkarakter
sy gevoelens regstreeks weer en raak die leser nou by die verhaal betrokke: in
hierdie geval die verhaal waarin 'n moderne tiener, Tiaan, wat sewentien word
en grootword. Hy raak verlief op 'n eksotiese Moslem-meisie, Jasmine, bevraagteken
gewaande sekerhede in sy lewe, worstel met skoolwerk en onderwysers, herontdek
die waarde van ou vanselfsprekende vriende en vriendinne, en leer om 'n groot
verlies te verwerk. De
Villiers toon dat hy tieners begryp en ken. Die taalgebruik is vars en kleurvol,
taalgebruik waarmee tieners kan identifiseer: "keer nou 'n wegholbus (p 86)
of "krieket is 'n spel vir ou mans in wit pajamas" (p 94) of "Hulle
flippen blerriewil lieg" (p 65). Vir my as volwasse leser was die hewigheid
waarmee die hoofkarakter sy eksistensiële krisis beleef, aangrypend en oortuigend.
"Alles wat mooi is, breek of verdwyn. Alles!" roep hy desperaat uit
op p. 63 en op p 66: "Kan 'n mens dan niemand vertrou nie? Die see? Mense?
God? Niemand nie?" Hoewel
die klem in hierdie roman op die innerlike belewing van die hoofkarakter fokus,
slaag die outeur nietemin daarin om 'n spanningslyn te vestig wat my aangespoor
het om aan te hou lees. Die
vak Biologie speel 'n sleutelrol in die roman. "Biologie is die studie of
leer van lewende organismes, d.w.s die studie van die lewende wêreld"
(p 1). Dit word 'n metafoor vir Tiaan se ontwikkeling in die roman. Vindingryk
vleg die outeur hierdie gegewe in by Dirkie se liefde vir die see. Elke hoofstuk
word ingelei met Tiaan se Biologie-opsommings. Soos Henko Wiese wie se Biologiehandboek
hy nou al twee jaar na mekaar gekry het, probeer hy om deur middel van humor die
"lewende wêreld" soos dit in die Biologieklas aangebied word,
baas te raak. Hierdie subtekste voor elke hoofstuk begin by die laagste vorm van
lewe en vorder tot by menslike voortplanting in die laaste hoofstuk. In hierdie
gedeeltes skemer die stem van die volwasse outeur egter deur met fyn spot en 'n
sinisme wat kommentaar lewer op die gebeure van die hoofstuk wat volg. Die was
dan ook interessant dat die tienerlesers wat die roman gelees het byna almal gesê
het dat hulle dié gedeeltes oorgeslaan. Ander
kommentaar van tienerslesers moet hier genoem word. "Uiteindelik 'n boek
wat verstaan wat hoe ons voel", het een gesê. "Dis realisties,
dis soos ons dink" het 'n ander gesê, "maar grootmense kan hulle
nie regtig inlewe in die gedagtes van tieners nie." "Ons voel dinge
meer intens as wat grootmense dink" het die derde leser gesê. "Tiaan
is te kalm, hy tree nie op soos iemand wat regtig deur al die drama gegaan het
nie." Oor
die algemeen kan hierdie roman beslis aanbeveel word, veral vir die meer ervare
leser. Tafelberg.
R29.95.ISBN 0 624 03619 Maritha
Snyman |