Dié
prettige leesboekie is gebaseer op die musieksprokie Gedroggie-innie-gat wat die
eerste keer by Laerskool Kruinsig in Kemptonpark opgevoer is. By die Aardklop-kunstefees
was die produksie so gewild dat die kaartjies uitverkoop is. Dinge wat krrraakkk
maak is dus die gedrukte weergawe van Gedroggie-innie-gat wat, soos dit vir my
lyk, die lesers ook lag-lag sal oorrompel. As
mens hierdie boekie die eerste keer optel, voorspel die kleurryke blou en geel
omslag van Willem Loots reeds pret. Met die eerste deurblaai sal enige ma weet
dat die kostelike swart en wit illustrasies van Nico Meyer alleen, enige kind
van ongeveer 8 tot 10 jaar veel plesier sal verskaf. Met 'n aller lieftallige
monstertjie wat uit 'n yslike eier in Chantel-hulle se kelder uitbroei, 'n muur
wat praat en 'n gees in 'n lampie stel die verhaal ook nie teleur nie. Die
Gedroggie-baba met sy sagte "kermgeluidjies" en "tone soos frikkadelletjies"
(p 15) sal lesers se harte laat vermurwe, maar as hy ewe liefies glimlag en 'n
muis in sy mond druk, weet ek dat te minste sommige lesers lekker sal gril. As
Gedroggie uit die kelder ontsnap, dreig om Strepies, die kat op te eet en al hoe
groter en groter word, sal die meeste lesers benoud begin raak. Muur,
wat naas Chantel en Gedroggie een van die hoofkarakters in die storie is, was
oorspronklik 'n slaaf wat in die Kaap van drie honderd jaar gelede deur 'n "djienie"
in die muur in getoor is. Sy vindingrykheid, droë humor en pittige Kaapse
Afrikaans, maak hom ewe eens 'n oortuigende karakter wat lesers positief sal beleef.
Die gebeure word
duidelik uit die kinderkarakter, Chantel, se perspektief vertel en die heerlike
natuurlike en gemaklike dialoog is 'n pluspunt in hierdie boek wat deur drama-onderwysers
met vrug en vreugde gebruik sal kan word. Die
verhaal speel af op Kaapse wynplaas, Muratie, met 'n lang geskiedenis waarop die
outeur self gaan navorsing doen het. Dinge
wat krrraakkk maak is geskik as 'n voorlees- of selfleesboek. Lapa
uitgewers. ISBN 0 7993 2928 2. Maritha
Snyman |