Droomoog
Diepgrawer is 'n alternatiewe diere-cum-fantasie-verhaal waarmee Leon de Villiers
die gesogte Alba Bouwer-prys vir kinderliteratuur vroeër vanjaar gewen het.
Dit vertel die
verhaal van 'n erdfamilie wat na kattekwaad van die drieling, Droomoog, Snoetie
en Witstert, deur die Grysore en Langlippe uit die erdkolonie geban word en 'n
nuwe tuiste moet gaan soek. Die leser ontmoet saam met hulle die innoverende Skoorkrappers,
die arrogante Pronksterte en die vyand, Vreet. Nie een van hierdie diere sal in
die natuur aantref nie, maar dit maak hulle nie minder eg nie. Dis 'n
verhaal vol humor, spanning en deernis en te oordeel aan die terugvoer van ouers
wat hierdie verhaal aan hul kroos voorgelees het, op pad na klassieke status.
Kort hoofstukke waarin die verhaal gekomplementeer word met oorspronklike illustrasies
deur Berco Wilsenach, maak dit by uitstek geskik vir voorlees. De
Villiers slaag daarin om deur middel van kleurryke beskrywings en vlymskerp woordspelings
deurentyd te boei en te vermaak. Die Erde is byvoorbeeld nagdiere en nag en dag
word deurgaans omgeruil om by die Erde se leefwyse aan te pas. Dit kom ook in
die taalgebruik tereg. Ouma Smakkie lyk asof sy "oordag" ouer geword
het, en dra haar misnoeë oor met "dit sal die nag wees!" Ouma Smakkie
is, naas Droomoog, 'n karakter wat diep in die leser se hart inkruip. Sy sorg
vir binnepret met haar oorspronklike en pittige uitdrukkings, soos "met 'n
kewer in die klou is 'n erd sonder berou" en "'n vinnige poot se kleintjies
word groot". Sonder
om moraliserend te raak, slaag De Villiers daarin om sy lesers te waarsku teen
stereotipering en stiksienigheid en aan te moedig om bereid te wees om te verander
as die omstandighede dit vereis. Die wat vernuwing aangryp, dra by tot 'n ruimer
en beter wêreld deur ou waarhede te herontdek en nuwe inligting te bekom,
uit te ruil en kreatief toe te pas. So gebruik die innoverende Skoorkrappers byvoorbeeld
glimwurms om hulle ondergrondse tonnels mee te verlig en roep hulle lesse uit
die verlede op deur middel van onthou-klippe, wat in 'n storiegat gestoor word. Afgesien
van die humor in Droomoog Diepgrawer wat besonder oorspronklik is, verdien De
Villiers met oorspronklike taalgebruik 'n addisionele veertjie vir sy hoed. In
'n tyd waar kinders al hoe verder verwyder raak van figuurlike taalgebruik - 'n
natuurlike uitvloeisel van onsuiwer taalgebruik - stel hierdie boek lesers op
'n prettige manier voor aan die plesier om op meer as een vlak te luister, lees
en skryf. In die geheel gesien, dra Droomoog Diepgrawer op 'n besondere manier
by tot die verryking en verligting van Afrikaans. Bravo
De Villiers en Wilsenach! Lapa
Uitgewers Magdel
Vorster |