Freda
Linde het as kinderboekskrywer nie bekendstelling nodig nie. Sy spog met tien
kinderboektoekennings agter haar naam en dit maak haar die mees bekroonde kinderboekskrywer
in Afrikaans.
Eenders en anders is nie 'n
blote storieboek nie. Dit is eerder 'n opvoedkundige publikasie, maar dit is te
betwyfel of die jong leser só daarna sal verwys. Daarvoor is die inhoud
té boeiend en word dit so speel-speel aangebied dat dit die kind se belangstelling
sal prikkel. Dit is 'n jy-en-jou-boek, d.w.s. die skrywer gesels direk met haar
lesertjies.
Die inhoud van die publikasie is saamgestel rondom die syfers een tot vyf. Elke
syfer en alles wat daaroor gesê word, dien as 'n aparte hoofstuk telkens
onder die opskrif "Alles wat een is", "Alles wat twee is"
ensovoorts.
Die skrywer maak gebruik van veral fauna en flora - meestal inheems - om elke
syferbegrip aan die kind oor te dra, maar terselfdertyd sit sy die kind aan die
dink oor die kosbaarheid van lewe en dit wat ons het en waarom ons dit moet bewaar.
Die publikasie is egter hoegenaamd nie 'n sedepreek nie. Neem die volgende uittreksel
uit die hoofstuk "Alles wat drie is" as voorbeeld: Kroon- en
kelkblare van blomme het ook soms drie-patrone. Klein sieraad van ons veld-orgidieë
is die blou disa, 'n ryke samestelling van blou, pers, olyf en wit met sy eie
patroon: sy drie kelkblare is diep hemelsblou en een van hulle vorm sy kappie.
Sy pers kroonblare tel ook drie. Twee sit onder sy kappie en die derde vorm sy
breë lip wat ondertoe krul. Jy sal die merkwaardige blom miskien by Bettiesbaai
of Tafelberg sien, maar niemand mag hom pluk nie. Uit
die uittreksel blyk die besondere skryfstyl wat in die publikasie gebesig word
sowel as die boeiende manier waarop inligting oorgedra word. Die skrywer maak
plek-plek gebruik van rymelary, ander plekke van 'n spreekwoord of twee en daar
is selfs 'n verwysing na 'n vers deur Leipoldt. En wat inligting betref: die boek
wemel van inligting oor interessante en onbekende dier- en plantsoorte soos die
eenhoring, die jerboa van Noord-Afrika en die heliophila. Soos u egter kon aflei
uit die uittreksel oor die disa, word telkens net genoeg inligting verskaf om
die kind nie te verveel nie, maar hom/haar te prikkel om die verskynsel self te
ondersoek. Myns
insiens is die wins van hierdie besondere kinderboek tweeledig: die kind leer
waardering vir dit wat hy/sy het en rondom hom/haar sien, en die kind maak kennis
met veral nuwe plant- en diersoorte. Weens die heerlike en baie subtiele filosofiese
ondertoon is hierdie die soort publikasies wat 'n kind sal stimuleer om dieper
as net die oppervlak te dink. Eenders
en anders is gerig op die ouderdomsgroep agt tot elf jaar. Dit is 'n hardebandpublikasie
waarvan die uitgewer dit stel dat by die produksie daarvan geen onkoste gespaar
is nie. Hier word veral verwys na die fyn, gedetailleerde volkleurtekenigne deur
Bennie Kruger. Eenders en anders pas by die tyd waarin ons ons bevind,
maar is terselfdertyd tydloos en daarom 'n seker wins vir 'n kind se boekrak.
Resensent Marianne Breytenbach.
Effens
verkort. |