Erik
en die Kido-dinges is nog 'n publikasie van die bekroonde Afrikaanse kinder-en
jeugboekouteur, Leon de Villiers. Met hierdie prettige boek gerig op lesers van
8 tot 12 jaar bewys De Villiers hom weer eens as een van die veelsydigste kinder-en
jeugboekouteurs vandag. Erik
is die hoofkarakter uit wie se perspektief die leser bewus word van sy toenemende
ontevredenheid met sy iiriterende gesinsopset. Niemand verstaan hom nie en niemand
luister na hom nie. Gou kom die leser agter dat dié ontevredenheid wedersyds
is. Einde ten laaste neem Erik se ouers hom, tot die verligting van albei partye,
na die kido-teek waar mense kinders soos boeke kan inruil en uitneem. Dié
tema van ouers en kinders wat ontevrede is met mekaar word meermale in die kinderliteratuur
aangetref. Anders as Valérie Dayre se donker en ontstellende hantering
van dié tema in haar Ik ruik kindervlees, skep De Villiers 'n humoristiese
verhaal waarin hy die spot dryf met verskeie stereotipes in die ouer-kindverhouding
en waar beide ouers en kind tot nuwe insigte kom. Erik
se karakter is oortuigend. Van sy ontevredenheid oor hy die honde-poef moet optel
tot by sy waaghalsige ontsnapping by die De Kommers tree hy op en reageer hy soos
wat mens van 'n seun van sy ouderdom sal verwag. Menige gesin sal hulleself in
die uitbeelding van Erik en sy gesin herken. Dié boek wat kinders
(en ouers) lekker sal laat lag, word sterk aanbeveel vir lesers (en veral seuns)
vanaf agt jaar. LAPA
uitgewers. ISBN 0 7993 3165 1. Maritha
Snyman |