e-topia
word deur die uitgewers bekendgestel as "'n blik op die harde werklikheid
van die dwelmverslaafde se hopelose bestaan". Hier word "reguit geskryf"
oor die gevare van dwelms. Dit lyk dus asof die boek, soos Tippex dit uit
gekonseptualiseer is om jeugdige lesers iets te leer - om 'n morele les oor te
dra. En dit gebeur inderdaad in die roman. In 'n styl wat ooreenkomste toon
met die "melodrama of defeat" (sonder die drama uiteraard), vind ons
stereotipe karakters. Die held, binneverteller en slagoffer, is Peet, 'n A-simbool-matriekleerling
met ongelukkige huislike omstandighede: 'n stiefpa en -boetie en 'n ma wat meer
belangstel in haar sosiale lewe as in hom. Hy word bekendgestel aan dwelms deur
die "gewetenlose skurk" (dwelm-runner in dié geval) wat figureer
as Liza, 'n onweerstaanbare "sexy" meisie in sy klas, kompleet met swart
(!) geverfde kamer en ma wat 'n "receptionist by 'n "adults only"-nagklub
is (8). Peet val besonder maklik in die strik wat sy vir hom stel en verwoes so
sy hele lewe. Die pogings om Peet se innerlike konflik te beskryf, is myns
insiens ongeloofwaardig en onoortuigend. Vergelyk die volgende toneel waar Peet
die eerste keer by Liza se huis is en sy hom oorreed om 'n "joint" te
rook. "Ek is bietjie huiwerig. Sigarette is een ding, maar 'n joint? Ek moet
mooi dink ... Liza is die dish van die skool. As jy eers in haar goeie boekies
is, sê hulle, is die lewe een lang party. Aan die anderkant, weet ek, as
dié goed jou eers gevat het ... Ek vat die joint by haar en trek diep in
..." (7). Die gebrek aan 'n fiktiewe ruimte en konteks maak die verhaal,
wat eintlik maar 'n kapstok is waaraan die inligting gehang word, is een van die
redes waarom die roman so ongeloofwaardig aandoen. Die klem op die lerende
fokus van die roman word versterk deur die beskrywings in die rehabilitasiesentrum
waarin Peet se herinnerings aan die lesings van Karlien as kwalik verbloemde pogings
om inligting oor dwelms oor te dra, maskereer. Die morele les, soos in die "melodrama
of defeat", word hier duidelik uitgespel: dwelms verwoes belowende lewens. Indertyd
het ek egter geleer: "Fiction rarely expresses its idea explicitly ..."
(Brooks and Warren) en dit is wat my in hierdie roman hinder. Dat kinders gewaarsku
moet word teen die vernietigende gevare wat dwelmmisbruik inhou, is dringend noodsaaklik.
Maar om dit te doen in 'n teks wat as fiksie aangebied word, moet bevraagteken
word. In gesprekke met jeugdige lesers oor baie jare het ek geleer dat hulle nie
onderskat moet word nie. Ons bluf hulle nie met 'n verhaal waarin karakters onoortuigend
optree en praat nie. (Die lukraak gebruik van Engelse woorde in die dialoog in
'n poging - vermoed ek - om aansluiting by teikenlesers te vind, is onbeholpe,
nie altyd konsekwent nie en dra by tot die ongeloofwaardigheid van die teks).
Dit sou dalk meer gepas gewees het as die outeur hierdie belangrike inligting
in 'n ander formaat as 'n roman aangebied het. Human &
Rousseau; ISBN 07981 4455 6
Maritha Snyman |