Daar is te veel
van ons jeugromans - so voel ek - wat hulle besig hou met die verpakking
van lewensprobleme. In sulke boeke oorheers die probleem: 'n jongmens
gevange in een of ander vorm van belemmering: hoe daar van 'n stryd ontstaan tussen
die konstruktiewe en die destruktiewe elemente in dié jong lewe, en hoe
dit, meestal poistief, opgelos word. Aan die hart van sulke probleme, wanneer
dit die gemeenskap betrek, lê daar 'n demoon, maar vermy, soms angsvallig,
die werklike stryd daarmee. As 'n roman, van watter soort nou ook, nie
voor die leser iets onvoorspelbaars, iets amper onbedinkbaars, iets wilds en ongetems,
iets raaiselagtigs kan neersit nie, dan het die leser reg om te wonder waarom
hy sy duur geld en sy duur tyd aan só 'n boek moet afstaan. Die
boek Geraamtes dra nie klere nie van Jan Vermeulen, wat bekroon is met
die Goue Sanlamprys vir Jeuglektuur 2000, is 'n waaksame, totaal onvoorspelbare
jeugboek, wat verskeie demone van ons onlangse verlede oproep, en elkeen van diés
ook aanspreek. Die storie is inderdaad 'n soort geraamtedans, nie besonder gerusstellend
nie, en ook heeltemal onvergeetlik. Dit het te doen met onbegraafde dinge.
Dit voer jou in die huishouding in van 'n polisieoffisier wat in die verteltyd
van die boek voor die Waarheidskommissie verskyn omdat sy tuinman John-John Mgwegwe
weggeraak het en vermoedelik in die tuin van sy huis wegbegraaf is. Dit was nou
twaalf jaar gelede. Die boek speel af in die gedagtewêreld van sy dogter,
ook twaalf jaar oud - haar naam is Claudette Minnaar. Daar is ook 'n mooi ma in
die huis, 'n liewe, ou ouma van die outydse soort oumas, en dan die pa, kaptein
Andries Minnaaar, wat moet antwoord op die aanklag dat hy die tuinman, 'n verskuilde
opstandeling, vermoor en in sy tuin begraaf het. Die boek open op die
dag as die opgrawers van die tuin daar opdaag. Van hierdie dag af word die Minaar-gesin
se hele bestaan omgedolwe. Daar is koddighede aan hierdie gesin se bestaan.
Koddig-absurd, selfs koddig-surreël. Hulle gaan verbete met hul lewe voort
terwyl daar buite, anderkant die toe gordyne, die fotograwe met zoemlense op hul
einste huisvensters gerig staan. Die verbrokkelde wêreld van 'n kind se
onskuld word deur Claudette se oë ervaar. Dit is alles gerig op die pa, 'n
amper bewese polisiehoof wat voor jou verbaasde oë ontwikkel tot die mees
simpatieke karakter in die boek. Niks aan die verhaal is voorspelbaar nie. Of,
nog meer, opsombaar nie. Enige vooropgestelde gedagtegang vergaan. Alles
word onrustig gestel, bevraagteken en hersaamgestel. Dit is 'n opruiende, pakkende,
gruwelike jeugboek, geskryf deur 'n dominee. 'n Nuwe, skuins inkyk op dinge wat
'n mens miskien vierkantig van voor af vierkantig van agter gesien nie, maar nie
so subtiel ondergraaf soos in die vertelling nie. Dis die werk van 'n amper-beginskrywers.
Iets wat nogal dikwels in hierdie wedstryd gebeur - dat daar sommerso hier van
die steelkant af 'n nuwe talent verskyn, byna volledig gevorm, en vol lewe. Baie
geluk, Jan Vermeulen, met die Goue Sanlamprys.
|