 |
My hart is vol graffiti
Tania Brink
LAPA
2011
Resensent: Leonora van Rooyen
Met
Lara en haar beste vriendin, Vanessa, wat dit waag om in die
donker nag rond te sluip op soek na 'n graffiti-kunstenaar,
loop die spanning hoog.
|
Dis ongetwyfeld waar dat die titel en voorblad van
'n storie oor die prominentste aantrekkingskrag beskik. Geeneen
spandeer geld op 'n boek met die naam dwelm of depressie of swangerskap
daarin nie, ja seker net as daar 'n sterk behoefte heers. Dié
onderwerpe is al suf geskryf en gelees. Dit het rêrig tyd
geword vir 'n nuwe onderwerp en dit skyn asof Tania Brink dit besef.
Met haar nuutste boek, My hart is vol graffiti, skep Tania
Brink groot verwagting deur die wêreld van graffiti te verken.
Wat nogal uiters interessant is, is dat dit een van daardie aktiwiteite
is waaraan almal van kindsbeen af aan deelneem (om op mure te skryf),
maar nie enige kennis oor die kuns daaragter beskik nie.
Met Lara (die ek-verteller) en haar beste vriendin, Vanessa, wat
'n artikel vir 'n tienerstydskif moet skryf en dit waag om in die
donker nag rond te sluip op soek na 'n graffiti-kunstenaar, loop
die spanning hoog.
Gareth, hulle klasmaat, word op heterdaad betrap waar hy graffiti
op een van die kantoorgeboue naby Vanessa-hulle se huis spreiverf.
Op die belofte dat hulle sy geheim sal bewaar, beleef hulle die
wêreld van graffiti deur hom. Die leser word hier ook die
geleentheid gebied om hiérdie verkenningsreis saam met die
karakters te beleef. Dit is die einste Gareth, die rebel en moeilikheidmaker,
wat Lara die voorbeeldige A-simbool leerder laat voel dat sy vir
die eerste keer leef, wanneer sy dit waag om skaatsplank te ry en
agter op die skool toilet se deur te skryf. Maar dinge loop skeef,
wanneer Lara, Michael, haar volmaakte kêrel met die colgate-smile
en die gewildste ou by die skool, oor hul verbinding met Gareth,
vertel. En waartoe dryf jaloesie die invloedryke rykmanseun? The
rest is obvious.
Tot hiertoe is die storie vernuftig en iets om te beleef, maar
hierna word gebeure net te voorspelbaar. Wanneer die beroemde Einstein
formule met aanpassing, Massive Creep2, op meneer Engelbrecht wat
so mislik is met Gareth, se muur verskyn, is daar net een naam wat
in die leser se gedagte opduik, dié van die volmaakte Michael.
Weens die volmaaktheid van Michael wat deurentyd volhou word, behalwe
dat Vanessa om een of ander rede geen ooghare vir hom het nie, is
dit voorspelbaar dat hy die skuldige is. Dit is sekerlik bedoel
om 'n verrassende wending te wees wanneer hy as skuldige aangewys
word, maar die leser weet gewoonlik dat nothing is as perfect
as it seems, daarom sou dit in hierdie verband meer geloofwaardig
wees as daar 'n donker kant van Michael was. Die leser sou dan moes
besin oor wie die skuldige is en dat dit Michael is sou dán
verrassend wees.
Die einde van die storie sluit aan by die kenmerke van die tienerverhaal.
Met Lara en Vanessa wat die Kwaai!-kompetisie wen. Die skrywer het
dit goed gedink om Lara en Vanessa se afgeronde artikel: Graffiti:
kuns of krimineel? te plaas. So kan die leser self die artikel lees
wat soveel spanning in die verhaal meegebring het.
Vir die leser wat vir 'n verandering 'n ander onderwerp wil verken
en beleef, is hierdie storie ideaal.
|