|
Ons leef in 'n snelveranderende samelewing. Nie net is kinders
gewoond aan die vinnige pas van die tegnologiese veranderinge nie,
maar leer hulle ook om aan te pas by klimaatsveranderinge en 'n
planeet wat bedreig word. Om ons planeet te beskerm moet ons leer
om "groen" te wees, is die boodskap wat ons kry. Daar
moet byvoorbeeld sterk gefokus word op herwinning. Die "groen"
tendens word deesdae al meer in publikasies vir jonger lesers gevind.
Hier is 'n paar voorbeelde:
 |
Wat
is die punt van groen wees? (Geskryf deur Jacqui Bailey
en vertaal deur Louise Steyn.) In dié insiggewende boek
kan die jong leser uitvind wat met die wêreld se klimaat
aan die gebeur is en hoekom; wat die probleem is met fossielbrandstowwe;
hoe ons van die wêreld 'n vullisblik maak; en wat ons
daaromtrent kan doen. Dié kleurvolle boek is vergesel
van illustrasies, strokiesprente, foto's, grafika en inligtingsblokkies
- dit is hoogs informatief en enige laer- en selfs hoërskoolleerder
behoort dit stimulerend en leersaam te vind. (Lapa-Uitgewers) |
 |
Bewaar
ons planeet: 'n gids tot die bewaring van ons wêreld (Martyn
Bramwell, David Burnie, Lynn Dicks, Roger Few) is in dieselfde
kategorie. Dit werp 'n omvattende blik op die lewe op aarde
en wys hoe ons kan verseker dat ons omgewing vir toekomstige
generasies behoue kan bly. Die foto's maak ook van dié
publikasie iets besonders. (Lapa-Uitgewers) |
 |
Twee
boeke vir jonger lesers is Eers was ek 'n kartonboks maar
nou's ek 'n boek oor ysbere en die soortgelyke Eers was
ek 'n kartonboks maar nou is ek 'n boek oor tiere. Die boeke
is gemaak van herwinde papier en vertel elk twee stories: aan
die een kant word feitelike inligting gegee oor ysbere/tiere,
terwyl daar gelyktydig ook die verhaal van die boek se ontstaan
en vervaardiging vertel word - vanaf die kartonboks by 'n fabriek
in China tot die verpulping van die herwinde papier wat uiteindelik
die boek word. Die ysbeer- en tierfeite wat regdeur dié
hardebandboeke voorkom, is hoogs interessant. Kinders behoort
die boek fassinerend te vind. (Lapa-Uitgewers) |
|