Avontuur vir dié wat glo in helingskrag van woorde.
Leon de Villiers se debuutroman,
Aliens en engele, het in 1996 by Tafelberg verskyn en sy tweede jeugroman,
Die Pro, in 1997. Dié jeugroman was nie alleen 'n Sanlam-pryswenner nie,
maar is ook bekroon met die MER-prys en die Scheepers-prys vir Jeuglektuur.
Met
sy jongste pennevrug, Groete van die hiëna, gaan De Villiers van krag tot
krag. Roek
Rykema se ouers is aanhangers van die Humanos-kultus. Roek staan skepties teenoor
die kultusleier, Artius, maar anders as sy broer, Karel, is hy nie so dapper om
te sê wat hy dink of hom te verset nie. Op die dag van die inlywing raak Roek
paniekerig en gil. Wanneer
hy weer sy oë oopmaak, bevind hy hom in Chaotika, oftewel die Paleis van Chaos.
Hier loop Roek hom vas in Crocuta, die smalende hiëna. Die verhaal wat nou volg,
verbyster en verwonder die leser. Roek
bevind hom in 'n virtuele wêreld waarin alles moontlik is: Letters swenk en draai
om hom soos 'n swerm bye, 'n goudvis en 'n Siamese kat voer 'n diep gesprek oor
fraktale, 'n reuse-waterskilpad swem met kragtige hale deur die sterrehemel, 'n
beeldhouer kap die figuur van 'n pragtige meisie uit 'n blok grys marmer en hoe
verder hy vorder, hoe meer deursigtig word sy. Om
deur die gat van chaos te ontsnap, moet Roek die tien sye van 'n dekagoon met
sy eie stories voltooi. Met elke storie kom daar 'n steentjie aan die storiehangertjie
om sy nek by en bring sy vreemde en soms vreesaanjaende reis hom nader aan die
Tuin van Orde. Tematies
is Groete van die hiëna 'n verwikkelde roman. Die leser kry insae
in die hoofkarakter se chaotiese onbewuste waar komplekse gesinsverhoudinge, die
vrees vir mislukking, onsekerheid rondom 'n eie identiteit en die onvermoë van
die anti-held om by sy portuurgroep in te pas, voorop staan. Crocuta,
Roek se begeleier deur die wêreld van die onbewuste, blyk uiteindelik sy ander
self te wees. Dit is dan ook hy wat Roek voor 'n keuse stel: Hy kan van die dak
afspring en so kies vir die Tuin van Ewige Orde, of hy kan hom onttrek aan die
reële wêreld en so vir ewig sy eie gevangene wees in die Paleis van Chaos.
Ná
'n proses van stroping kies Roek die derde opsie: "Die chaos buite jouself.
Die chaos van die lewe, van die toekoms. Waarin jy self die patrone van mooi en
lelik, goed en kwaad, swak en sterk sal moet soek, dit sal moet ontsyfer. Want
alles is daar. Soos alles ook in jouself is'' (p. 130). In
hierdie keuse lê Roek se transformasie en heelwording. Die chaos-teorie, die verband
tussen chaos en kreatiwiteit en die terapeutiese waarde van skep of stories vertel,
is belangrike subtemas in hierdie roman. Ook
is daar bepaalde simbole, soos die veer, wat vra vir verdere verkenning.
Die aanbieding van die verhaal is ongewoon en verrassend. Die hoofkarakter se
binnelewe word deur middel van stories (in skuinsdruk) as oppervlakverhaal aangebied
terwyl die werklike gebeure op gefragmenteerde en verskuilde wyse voor die leser
ontvou. De
Villiers se styl is besonder knap en verfrissend. Die
pratende diere bied heelwat kwinkslae en nuutskeppings soos "slakeie'' en
"snakke'' vir baie genot. Groete
van die hiëna is 'n kragtoer
in fantasie en kreatiwiteit. Dit bied 'n leesavontuur vir die gesofistikeerde
tienerleser sowel as die volwasse leser wat glo in die skeppende en helende krag
van woorde.
Resensie deur: Marié Jacobs
|