Dis
selde dat mens 'n boek in die hand neem wat jou van die eerste bladsy af lok met
'n tintelende belofte van nog véél meer. Die ongelooflike avonture
van Hanna Hoekom is so 'n boek.
Heel gou word die leser meegevoer in die dolle bestaan van Hanna saam met haar
kunstenaar-ma Mana, haar halfboetie, haar twee stiefbroers en Beyers, hul akteurpa
- 'n redelik ekstreme voorbeeld van die Nuwe Gesin, of liewer, die Nuwe Uitgebreide
Familie van ons tyd. Hanna se biologiese pa is 'n gay modeontwerper in Johannesburg,
haar halfboetie se pa is 'n skitterblink proefbuis - Mana se kreatiewe oplossing
vir 'n tweede kind, sonder die aanwesigheid van 'n man. En toe trou Mana tog weer,
met Beyers ... wat by gebrek aan juwele vir haar 'n knewel van 'n aartappel en
'n bossie pietersielie met 'n rooi strik aandra as verlowingsgeskenk.
Te midde van al hierdie buitenissighede, en oorskadu deur haar flambojante ma
se andersheid, besin Hanna kalm oor die hoekoms in haar lewe. Sy het eers in die
kleuterskool agtergekom dat ... die ander kleuters se ma's nie soos myne lyk of
klink of selfs ruik nie. Dat hulle hoëhakskoene en nylonkouse dra, dat hulle
nooit dink hulle weet beter as die kleuterskooljuffrou nie, en dat hulle na duur
parfuum ruik. My ma ruik die meeste van die tyd na die paraffien waarmee sy haar
verfkwaste skoonmaak. Stilweg gekwel oor haar afwesige en eweneens anderse pa,
erken Hanna: die grootste skok in die kleuterskool was ... dat my maats almal
pa's gehad het. Mans wat dasse dra en hulleself Pappa noem. Ek het net vir Gavin
gehad. Hy was nie veel meer as 'n stem oor 'n telefoon nie. En dit was nie 'n
stem wat by 'n das gepas het nie.
Binne hierdie gesin se bont verskeidenheid skat Hanna haarself as bra vaal, en
sy koester één groot begeerte: om te skryf. Inderdaad kry die leser
in die loop van die verhaal die taalbegaafde meisiekind se skryfpogings te sien:
'n sielkundige riller; 'n speurverhaal; 'n gedig; 'n liefdesverhaal; 'n kortverhaal
- met as hoofkarakter die kleurryke wese wat Hanna wens sy was: 'n meisie met
die eksotiese naam Fabienne. Hanna-die-skrywer betrek die leser spontaan in 'n
diskoers oor die omstandighede in haar eie lewe wat aanleiding gee tot hierdie
ontvlugtingskarakter Fabienne, en so kry die verhaal boonop 'n postmodernistiese
kinkel. Wanneer
dié uitsinnige gesin Mana en Beyers se lank uitgestelde wittebrood in 'n
hut op 'n berg gaan vier, word die kontraste en moontlike konflikte op die spits
gedryf deur Gavin se onverwagte besluit om Hanna se vyftiende verjaardag saam
te kom vier; en deur die net so verrassende, indien nie ontstellende, nuus dat
Margot, Beyers se eks-vrou, 'n aktriiiiiize, in al haar teatrale glorie op pad
is uit Amerika. Voeg hierby 'n skielike winterstorm, onbegaanbare bergpaaie én
'n krisis van die mees delikate soort ... en ineens val die maskers af en vervaag
uiterlikhede. Die mees onwaarskynlike lid van die geselskap - die prima donna
uit Los Angeles - bewys haar as redder in nood, en die baie werklike drama word
'n ondervinding wat almal saamsnoer.
Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom getuig van 'n skrywer wat midde-in
die werklikheid van die moderne lewe staan en wat die uitsonderlike gawe besit
om ook potensieel negatiewe temas met patos en balans uit te beeld; belangriker
nog, met skrywersverantwoordelikheid.
Heel, heel selde, verskyn daar 'n jeugboek wat jou van binne af warm maak met
soveel menslikheid en humor, en wat clichés - soos die stiefma- en stiefpa-sindroom
- oortuigend kan ontmasker. Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom is so 'n
boek. Hanna sluit
haar verhaal af met: Ek gaan daardie roman skryf ... Maar ek gaan nie oor 'n fabelagtige
skepsel soos Fabienne skryf nie. Ek gaan 'n storie skryf oor 'n gemiddelde vaal
meisiekind met 'n onwaarskynlike ma en 'n selfs meer onwaarskynlike pa. En die
leser sug. Twéé maal. Die eerste keer oor die wonderbaarlike storie
wat pas tot 'n einde gekom het. Die tweede keer is die sug eintlik 'n ver-sugting:
Hopelik is Hanna Hoekom nog lank nie uitgesels en uitgeskryf nie!
Hiermee die gelukwense van al drie keurders wat entoesiasties en eenparig voorgestel
het dat vanjaar se Goue Sanlam-prys vir Jeuglektuur in die Afrikaans-kategorie
toegeken word aan Marita van der Vyver. Linda
Rode KEURDER
|