Jaco Jacobs is een van 'n nuwe geslag
jong jeugboekskrywers wat in die nuwe millennium na vore tree. Hy is slegs 22
jaar oud en is besig met sy M.A. in taalstudie aan die Universiteit van die Vrystaat.
In 2002 ontvang hy die dekaansmedalje vir die beste voorgraadse student in die
fakulteit geesteswetenskappe asook erekleure in letterkunde op grond van die publikasie
van sy jeugboeke. In 1999 was hy die naaswenner in 'n liefdesverhaalwedstryd van
Sarie. Hy
verwerf bekendheid en 'n aanhang om sy toeganklike jeugboeke wat selfs trae lesers
gretig lees. Sy doelwit is om jeugverhale te skryf wat lekker lees. In 'n onderhoud
verwoord hy sy siening oor lees en skryf só: "Ek is nie een van daai
mense wat glo jy moet van kleins af lees omdat dit goed is vir jou nie - dit klink
soos slegte medisyne of iets! Ek glo 'n mens moet lees omdat dit lekker is. 'n
Lekker boek bly die ongelooflikste ding op aarde." Dié
outeur besit die vermoë om uit die leefwêreld van die kind te skryf.
Kenmerkend van sy werk is sy natuurlike dialoog wat bekend op die hedendaagse
jongeling se oor val sonder om geforseerd "cool" te klink, sy goeie
karaktertekening, spannende intriges en volhoubare spanningslyn, en beeldende
en kreatiewe taalgebruik. Die sterk visuele aanslag van die werk sluit aan by
die leefwêreld van die hedendaagse TV-kykende kind. Duskant
die doodlyn is 'n boeiende verhaal oor rugby speel, maar glad nie 'n tradisionele
rugbystorie nie. Die titel suggereer reeds dat die doodlyn hier nie slegs na dié
een op die veld verwys nie. Die
stryd om die ligabeker word 'n stryd om lewe en dood as iemand slaappille in die
hoofkarakter, Werner, se waterbottel gooi en Wiepie se motor beskadig. Boonop
kom die afrigter met 'n alternatiewe fikswordprogram na vore. Die manne word deur
'n wulpse meisie met 'n ysterhart afgerig. Dis 'n moderne, spanningsvolle jeugboek
wat lesers (seuns en meisies) tussen 10 en 13 baie sal geniet. Hand
aan hand met dié boek verskyn Rugbypret. Seuns wat dol is op rugby,
sal baie van dié boek hou. Dis 'n prettig geïllustreerde aktiwiteitsboek
met rugbyfeite en - raaisels. Vrae soos "Wie was die eerste kaalnaeler by
'n rugbytoets?" word beantwoord. Die boek bevat ook 'n uitgebreide bronnelys,
webwerwe ingesluit, waar geesdriftiges hulle in nog meer rugbyfeite kan verlustig.
Tande
is Jacobs se tweede boek in Lapa-uitgewers se Grille en goeters-reeks, wat geskik
is vir kinders van 9 tot 12 jaar oud. Aanvanklik dink 'n mens dis 'n tradisionele
weerwolfverhaal waarin juffrou Lupus, die nuwe onderwyseres, die hoofverdagte
is. Ander gril-elemente soos 'n vrou wat bloed koop by die slaghuis en 'n weerwolf
wat in die donkerte skuil, versterk dié idee. Maar dan kry die verhaal
'n onverwagte kinkel wat die leser heeltemal onkant betrap. Die outeur skep 'n
spannende intrige waarin die leidrade vernuftig en stelselmatig aan die leser
geopenbaar word. Jacobs weet presies waarvan kinders hou. Seuns
én meisies sal dié boek geniet omdat die derde lid van die driemanskap
'n meisiekind is wat 'n plan kan maak. Die kindervriendelike uitleg en die swart-wit
sketse van Nico Meyer verhoog die leesplesier van hierdie puik toevoeging tot
die Afrikaanse jeugliteratuur
Maritha
Snyman |